Skrywer: Seugnet van Zyl
Alleentyd is vir dié aktrise baie belangrik
Sy is mal oor die stories en gepaardgaande spanning wat sy as aktrise daagliks op televisie kan vertel, maar alleentyd is vir haar ook baie belangrik om te herlaai.
Vashti Prins, wat in September vanjaar 31 jaar oud geword het, het dalk met haar eerste werk in Suidooster bekendheid verwerf, maar sy staan reeds haar akteurskoene vol in nog ’n sepie, Kelders van geheime.
Kelders van geheime is e.tv se eerste plaaslik vervaardigde daaglikse drama in Afrikaans. Die reeks handel oor die wel en weë van ’n gemeenskap wat op Soebatskloof (’n wynplaas in die Boland) woon en fokus op drie families: Die Abrahams-, Syster- en Marais-huishoudings. Hierdie families moet saamstaan, saamstem, en bowenal saamwerk om hul brood en botter – en ’n glas wyn – te verdien.
Vashti, wat die rol van dr. Shireen Syster speel, sê sy glo dis relevante stories en spanning waarmee mense in verhoudings of in die wêreld worstel, wat sy nou elke dag haar eie in Kelders van geheime maak.
Die Syster-huishouding bestaan uit Joey Syster (Cedwyn Joel) die patriarg. Hy woon en werk al sy hele lewe lank op Soebatskloof. Sandy (Riana Alfreds) is Joey se dogter. Sandy se oudste dogter is Debbie-Lee (Veronique Jephtas). Sy werk saam met haar ma op die wynplaas, terwyl haar jongste, Shireen, haarself as ’n algemene praktisyn in die Wynland vestig.
Kelders van geheime word in die hartjie van die wynlande op die Plaisir-wynlandgoed, naby Simondium buite die Paarl verfilm.
“Ek is mal oor die plaas waarop ons skiet. Dit is ’n absolute eer om te werk by ’n plek wat lyk soos ’n foto van die paradys.”
“Ons het ’n absoluut slim, snaakse, vriendelike rolverdeling en span, wat spangedrewe is.
Ek dink daar is ’n wonderlike gevoel van wedersydse respek en bewondering vir mekaar se werk. Ons weet dat ons hierdie werk nie sonder mekaar kan doen nie.”
Dis die tweede keer wat Vashti saam met “oom Ced”, die veteraanakteur Cedwyn Joel, werk – eers op Suidooster en nou Kelders.
“Dis ’n eer en so ’n plesier. Ek dink aan hom as ’n vaderfiguur. Ek is baie lief vir hom en ek glo hy is ook lief vir my, wat my gelukkig maak.”
Sy sê Cedwyn is baie professioneel.
“Hy is altyd vriendelik teenoor die span en sy mede-akteurs. Hy behandel almal met respek. Oom Ced is ’n man van integriteit en regverdigheid. Hy sal hom nie laat flous nie, wat baie nodig is in hierdie bedryf waar jy moet weet wat jy na die tafel bring en bereid moet wees om dít te ondersteun. Ek dink dis alles prysenswaardige eienskappe wat vir my inspirerend is.”
Dié boorling van Kuilsrivier in die Wes-Kaap en oudstudent aan die Universiteit Stellenbosch, waar sy eers ’n BA-graad in drama en teaterstudies en later ’n honneursgraad in toneelspel behaal het, se groot deurbraak het gekom toe sy ’n oudisieband vir ’n rol in 7de Laan ingedien het. Sonder haar medewete is dié band ook na die rolverdelingsvervaardiger van die kykNET-sepie Suidooster aangestuur, wat haar vir ’n persoonlike oudisie genooi het.

Vanaf 2017 het Vashti toe vir byna ’n dekade lank die rol van Danielle Hendricks in Suidooster vertolk
Mis sy Suidooster?
“Dit was ’n pragtige en uitdagende ervaring. Suidooster was my eerste werk en my eerste bekendstelling aan die bedryf. Terugskoudend sou ek sê, het ek baie van die bedryf en ook baie oor myself as mens geleer.”
Sy sê sy put steeds wyshede uit daardie vormingsjare, waar sy baie persoonlike en professionele karakterontwikkeling ondergaan het en van werksetiket geleer het.
“Dit het alles lesse, wat onskatbaar en fundamenteel is, ingesluit.”
Haar dae begin reeds om 04:00 soggens.
Om 06:30/7:00 is Vashti reeds op stel en 12 ure later pak sy op om huis toe te gaan. Dan eet sy aandete en leer haar woorde vir die volgende dag.
Vashti, wat haarself as ’n stil meisie beskou, geniet tyd op haar eie.
“By die huis is ek ’n stil meisie. Ek is redelik privaat en kalm. Ek hou nie daarvan om oorgestimuleer te word nie, so die meeste van wat ek doen, behels nie baie mense nie. Ek geniet my alleentyd, want dis tyd om te herstel, te herlaai en te beplan.”
Vir haar is dit dan ook “direkte tyd met God”.
“Ek word wakker, praat met God en hopelik spandeer ek ook tyd in die Woord. Dit berei my voor vir die dag wat voorlê.”
Met ontbyt, haar gunstelingmaaltyd van die dag, kyk sy na ’n podsending of preek. Daarmee saam is haar oggendkoffie ook ’n moet. Sy dink dan na oor waarna sy gekyk het en durf die dag aan met “God se wysheid en krag”.
Sy lees op die oomblik How to tell the truth: The story of how God saved me to win hearts – not just arguments deur Preston Perry.
Vashti spandeer ook, wanneer sy kan gedurende die week, tyd saam met haar kerkgemeenskap.
In haar vrye tyd hou sy daarvan om “sagte stokperdjies” te beoefen en by die gimnasium te gaan oefen as die tyd dit toelaat.
“Ek hou daarvan om na musiek te luister of om na iets baie ligs te kyk. My beste vriend het onlangs vir my ’n paar rolskaatse gegee. Ek sal meer tyd daarin belê. My vrye tyd behels gewoonlik dat ek na ’n oulike restaurant of kafee gaan en lees of net eet en tyd saam met myself deurbring. Ek geniet kos. Soms gaan ek na ’n kleikafee, sit musiek in my ore en verf ’n pragtige klein keramiekornament.”
As Vashti nie voor die kassie is nie, herlaai sy deur tyd op haar eie deur te bring en dinge te doen wat vereis dat sy haar logiese of denkende brein so min as moontlik hoef te gebruik. Net om die volgende dag weer slaggereed voor die kameras te wees.









