Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
As jy soos ek kyk, het jy dalk ook al Justin Strydom met die akteur Waldemar Schultz verwar – darem net op foto’s. Justin is heel gelate daaroor. “Ek hoor dit gereeld. Ek sê altyd, ek’s die budget version – koop een, kry een verniet.” (Ek sou reken dis ’n bargain!- skrywer)
Hy sê dis nogal handig ook, veral as party mense hom in die openbaar erken en so bietjie opdringerig raak. “Ek glimlag, ek maak ’n grappie … en as dit regtig te erg raak, sê ek ek’s Waldemar Schultz.”
Justin was al in talle films en op die verhoog, maar dit is veral sy televisierolle wat van hom ’n bekende naam gemaak het. Hy was al onder andere te sien as Wickus in Binnelanders, Dries in Egoli, die oudgevangene Paul King in High Rollers, Captain Cutts in die M-Net-drama Snitch, en tans as Gys Swarts in Diepe Waters (3).
Afrikaans.com het met Justin gesels oor sy jongste toekenning, sy komvandaan, sy gesin en sy werk as akteur, skrywer en vervaardiger.
Justin vertel dat om ’n Silwerskermbeeldjie huis toe te vat is “soos om daai laaste koekie in die blik te kry wat almal gesweer het is klaar. Jy wonder eers: ‘Het ek rêrig verdien om hom te kry?’ En dan dink jy: ‘Ag, ek vat hom huis toe voor iemand van plan verander!’” Justin sê ook dat dit lekker is om erkenning te kry, maar “dis soos meringue op ’n suurlemoenmeringuetert … ek eet die tert in elk geval, maar die meringue maak hom net bietjie meer Instagram-waardig”.
Sy komvandaan
“Ek’s gebore in Gauteng en het grootgeword tussen rugbybal en swartbord, skool klaargemaak, is weermag toe, het gewerk, en is toe Pretoria Technikon toe, want iemand moes mos die dramaklas ernstig vat. Vandag is ek getroud met my gunstelingmens, het kinders, ‘n huis, honde … die volledige ‘checklist’.”
Justin kom nog uit die era waar jongmanne weermag toe gegaan het. Hy was ’n luitenant. “Dit was ’n tyd waar jy geleer het hoe ver jy jouself kan druk, hoe vinnig jy kan hardloop, en hoe skerp jy kan salueer. Dis die tipe ervaring wat jou vorm, al onthou jy dit later met ’n skeut nostalgie én ’n bietjie lag.”
Lesers sal dalk nie weet nie, maar Justin is heel gemaklik in die bokskryt en kan ook sy vaardighede in Shotokan-karate wys. “Ek kan nog steeds ’n ordentlike reguit hou gooi, maar deesdae gebruik ek dit net om ’n kussing reg te klap of ’n varkrib af te sny,” lag hy. En as jy gedink het sy bewegings op die vloer hou by die kata op, dink weer … die man kan dans ook! En ek praat nie van sakkie-sakkie nie. Justin sê hy het nog sy dansskoene, maar “hulle is êrens tussen my weermagboots en my pantoffels. Ek trek hulle aan as ek wil onthou hoe dit voel om jonk te wees en nie te kreun as ek afbuk nie,” skerts hy.
Jy is reeds 30 jaar lank in die bedryf. Hoe het jy akteur geword?
“Eenvoudig: Ek het nie ’n plan B gehad nie. Ek’t probeer ‘regte werk’ doen, maar drama het altyd teruggekom soos ’n TV-reeks wat niemand wil kanselleer nie.”
Justin sê sy loopbaan is soos “’n rollercoaster met baie popcorn en soms sonder veiligheidsgordels”.
Hoewel Justin nie meer by Shoot the Moon en AFDA betrokke is nie, vertel hy dat daar altyd projekte is wat hom sal laat glimlag as hy daaraan dink. Projekte wat hulle byvoorbeeld saam met Tung ‘n Cheek gedoen het, soos “Roer jou voete” en “I wished I’d said”.
Hy het jare laas klas gegee by AFDA, maar is “ongelooflik trots daarop dat ek my honneurs daar gedoen het, en om steeds geassosieer te word met die filmskool wat soveel talent die bedryf instuur”.
En wanneer hy nie voor die kamera is nie? Justin vertel sy dag bestaan gewoonlik uit koffie, skryf, bietjie sweet, en dan kla oor hoe vinnig die dag verby is.
Te oordeel aan die reaksie op sy rol as Gys Swarts in Diepe Waters, wou ek weet hoe hy dit regkry om so ’n ongure karakter te vertolk. “Ek moes diep delf, maar nie vir boosheid nie, vir simpatie. Ek probeer hom mens maak, selfs al wil jy hom soms met ’n koei se nat stert uit die dorp jaag.”

Is daar ’n rol wat jy graag sou wou vertolk?
“My volgende een. Soos Patrick Mynhardt een keer vir my gesê het: ‘Dis nóg ’n geleentheid om op te tree.’”
Justin wil nie kies tussen akteur, skrywer of vervaardiger nie. “Dis soos om te vra of ek koffie, biltong of sjokolade wil kies. Ek vat al drie.”
Sy rol as mentor
Justin word beskou as mentor vir baie van ons jong akteurs. Dis vir hom ’n voorreg, maar self sien hy dit soos ’n GPS vir jong akteurs. “Ek wys die pad, maar hulle moet self bestuur.”
Hy het ook goeie raad vir ons opkomende akteurs. “Leer om self jou ligte aan te sit, Moenie wag vir Hollywood nie … bou jou eie stories hier.”
Kan ons positief voel oor die bedryf?
“Ja beslis. Die bedryf sal seker nog baie skuif en verander, veral met KI wat al hoe meer prominent raak. Stories vertel is in ons DNS, dis wat ons mens maak. En solank mense mense bly, sal stories altyd ’n plek hê.”
Oor die kwessie van staatsbefondsing en die kunste wens hy daar was meer, maar glo ook “dat ware kuns meer krag kry wanneer dit uit mense se dors kom, nie uit die staatskoffers nie”.
Wat beteken jou gesin vir jou?
“Hulle is my reset button. Sonder hulle is ek net ’n man wat met ander mense se woorde speel.” Dit is ook waar hy op sy gelukkigste is. Om saam met sy familie te sit en lekker te lag. Dit is hoekom hy enige plek vakansie sal hou … solank dit saam met sy familie is.
As daar ’n reusekennisgewingbord met jou gesig daarop langs die hoofweg opgerig word, wat sou jy daarop skryf?
“Hou links, gaan regs verby … in die lewe ook.”
Gunstelingboek, fliek, TV-reeks?
Boek: “Carrying Albert Home: The Somewhat True Story of a Man, His Wife, and Her Alligator” deur Homer Hickam.
Fliek: Dis moeilik om te kies, maar as ek net een moet noem – “The Peanut Butter Falcon”, want dit is soos ’n padtoer vir die siel.
Reeks: “Peaky Blinders”, want niks sê “gevaarlik” soos ’n platpet en ’n growwe aksent nie.
Gunstelingaanhaling?
“Ons is maar almal draers van die groot geheim.” – Eugène Marais.
Afrikaans.com bedank Justin Strydom vir die lekker gesels. Ons sien uit na jou volgende rol.
Lees ook:
Justin Strydom gesels oor sy rol in Diepe Waters as Gys Swarts







