Skrywer: Seugnet van Zyl
Hoe sê jy?
’n Jong skolier van ’n laerskool in Somerset-Wes in die Kaap sou nooit kon raai dat haar redenaarstoespraak oor ’n byna taboe-onderwerp se omvang só groot sou wees nie.
Berné Peters (13) in graad 7 aan die Laerskool De Hoop vertel dat sy vanjaar die onderwerp vir haar redenaarstoespraak anders benader het.
’n Weergawe van haar toespraak met die tema, “Winde van verandering” is onlangs op video afgeneem en daarna die wye sosialemediawêreld ingestuur. Dié video is al 1,8 miljoen keer gekyk en het van Berné ’n internetsensasie gemaak.
Skielik het Berné ver buite die redenaarswêreld welslae behaal met hierdie toespraak, wat eintlik oor poep en die voordele wat dit vir jou inhou, handel.
Berné sê sy het geweet haar toespraak is iets anders en sal tussen al die ander uitstaan.
Sy begin haar toespraak met die immergewilde woorde: “Ouma en oupa sit op die stoep …”Almal weet wat oupa toe doen, of soos Berné in haar toespraak daarna verwys as “kontroversiële winde”.
“Mense kry so skaam oor dit, hoewel almal dit doen. Ja, Mevrou, u hou u verniet so preuts. Toe ek agter in die ry staan, het ek dit gehoor … en geruik, al het u dit probeer vermom met ’n hoes,” lui ’n gedeelte uit haar toespraak.
Sy noem ook die mediese voordele op wat poep inhou en selfs ook hoeveel winde daagliks uitgelaat moet word.
Dié op-en-wakker-meisie sonder ’n sweempie skaamte sê droogweg en baie beskeie oor haar kitsroem dat God op geheimsinnige maniere werk.
“Ek weet nie lekker hoe om te reageer nie.”
Berné het in Maart vanjaar dié toespraak met die ongewone onderwerp met die hulp van haar ma, Renée, geskryf. In April het sy dit vir die eerste keer voorgedra en daarna nog vyf keer. Dié betrokke weergawe van die toespraak is op 16 Augustus by die Helderberg-eisteddfod opgeneem en op sosiale media gedeel.
Min het hulle geweet dat Berné se toespraak, waarmee sy goed op redenaarsvlak gevaar het, maar nie gewen het nie, so vinnig sou versprei nie.
Haar ma sê haar middelkind hou baie daarvan om op te tree.
“Performing is waarvan sy hou.”
Berné voel baie tuis op die verhoog.
“’n Verhoog is soos my huis. Ek kan daar doen net wat ek wil, want ek klim in die karakter in.”
Buiten vir haar liefde vir redenaars, leef Berné haar in drama uit, doen sy gimnastiek, speel hokkie, waterpolo, en netbal.. Sy neem ook deel aan landloop, atletiek, swem en sing koor.
Kyk na Berné se redenaarstoespraak hier.
Fotos boaan:
Berné Peters (13) het ‘n internetsensasie met haar redenaarstoespraak oor poep geword.
Berné saam met hul hondjie, Josephine.
Berné saam met Francois Boyce, die man agter #Hoezitsamelewing, waar hy haar by die Laerskool De Hoop in Somerset-Wes besoek het.
Afrikaans.com het by dr. Elbie Adendorff, modulekoördineerder: Afrikaanse Taalaanleer aan die Universiteit Stellenbosch se departement van Afrikaans en Nederlands aangeklop om raad en wenke oor die skryf van redenaarstoesprake.
Dr. Adendorff het al baie redenaarskompetisies beoordeel.
“Ek gaan nie op die spesifieke toespraak kommentaar lewer nie, maar eerder wenke probeer gee oor wat ‘n wentoespraak is (wat ook maar moeilik is).”
- ‘n Wentoespraak is natuurlik nie ‘n 100%-perfekte toespraak nie – dit beteken dikwels dit was die beste wat daardie dag gelewer is. Dikwels is die standaard hoog en slegs halfpunte skei die wenners van mekaar. Of die standaard is oor die algemeen nie hoog nie en dan is die wenner die ooglopende een.
- Ek maak nou waarskynlik ‘n ietwat “gevaarlike” stelling: Daar is (ongelukkig) ‘n mate van subjektiwiteit betrokke by beoordeling al probeer beoordelaars so objektief as moontlik wees. Ons, as beoordelaars, werk met objektiewe beoordeelstate, maar ons is mense en sommige hou van ‘n sekere aanslag en ander nie. Maar dit is altyd interessant dat wanneer die wenner(s) bepaal word, ons vir mekaar sê: “Ja, dit is die wenners.” Of aan die einde van die kompetisie sê ons: “Enige van hierdie vyf deelnemers kan wen” en ons stem ooreen. Dit is selde dat daar wenners aangewys word waaroor die beoordelaars ernstige verskille het.
- Enige toespraak word bepaal deur wat die doel daarvan is. Dit hang af aan watter kompetisie die skoolleerders deelneem. Ek beveel aan dat hulle en die afrigters of ouers deeglik na die voorskrifte of vereistes van die kompetisie gaan kyk en ook die beoordeelstate raadpleeg. Redenaars kan daaruit al klaar ‘n goeie idee kry van die vereistes waaraan voldoen moet word.
- ‘n Toespraak bestaan uit inhoud en aanbieding.
4.1 Die inhoud hou gewoonlik met die doel van die toespraak verband. ‘n Redenaar kan basies oor enige onderwerp praat solank dit nie beledigend of lasterlik is nie – jy wil nie jou gehoor van jou vervreem of kwaad maak nie. Die inhoud moet in ‘n logiese struktuur aangebied word sodat dit vir die gehoor maklik is om te volg. Dit is ook belangrik om na oorspronklikheid te kyk – veral waaroor jy gaan praat, want wat kan jy nuut sê oor byvoorbeeld sosiale media of sport op skool. Verder beveel ek aan dat die redenaar oor iets praat waaroor hy of sy passievol voel – veral wanneer toesprake deesdae eerder van instansies of persone aangekoop word – die redenaar moet eintlik saam met die skrywer werk en nie net klakkeloos ‘n toespraak koop nie.
4.2 Aanbieding kan nogal uitdagend wees, want nie almal is natuurlike sprekers nie. Somtyds kom sprekers baie onnatuurlik, te ingeoefen, of te dramaties voor, of hulle probeer te hard om óf oortuigend óf snaaks te wees. Die wenner handhaaf die balans tussen natuurlikheid en oortuigendheid baie goed en dit is iets wat moeilik kom. Aanbieding sluit in hoe die redenaar staan, sy of haar liggaamshouding, die oogkontak wat gemaak word met die gehoor, die gebruik van natuurlike gebare, ensovoorts. - Dan kom taalgebruik ook nog by.
- ‘n Wentoespraak is eintlik ‘n “perfekte” gebalanseerde toespraak wat inhoud, styl en aanbieding (somtyds ook navorsing en argumente) betref. Dit moet die gehoor van die eerste sin af boei en ‘n indruk laat nadat die toespraak klaar gelewer is.
Dr Adendorff raai redenaars, afrigters en ouers aan om die boek wat sy en Lisinda de Jager saamgestel het, te raadpleeg: Dames en here. Jou eenstopgids vir alles oor redenaars, debat en ander toesprake.







