Persverklaring
‘n Nuwe Afrikaanse podsending wat kinders se verbeelding prikkel met verhale van regoor die wêreld
‘n Sak Vol Stories (SVS), ‘n nuwe Afrikaanse storievertel-podsending vir kinders, is verheug om sy amptelike bekendstelling aan te kondig. Die podsending is geskep om die verbeelding van jong luisteraars aan te wakker en bied ‘n meesleurende klank- en luisterervaring wat spesifiek daarop gemik is om kinders te laat “Luister, Lag en Leer!”
Die podsending se missie is gewortel in ‘n verbintenis tot opvoeding, verbeelding en kultuurwaardering. Deur “Groot Avonture vol Klein Lewenslese!” te verskaf, streef ‘n Sak Vol Stories daarna om:
- Verbeelding en kreatiwiteit te bevorder: Deur kinders te inspireer om skermvrye avonture met boeiende verhale mee te maak.
- Geletterdheid en ‘n liefde vir boeke te kweek: Deur ‘n diep waardering vir storievertelling te bevorder wat lei tot ‘n liefde vir lees.
- Te leer en te vermaak: Deur prettige, fantasieverhale, moderne fabels en mitologiese legendes te kombineer met opvoedkundige elemente, insluitend ‘n fokus op nuwe woordeskat en uitgebreide kulturele blootstelling.
- Die Afrikaanse taal te vier: Deur die taal in ‘n vars, boeiende formaat vir ‘n nuwe generasie aan te bied.
- Globale begrip te bou: Deur ‘n verskeidenheid uiteenlopende verhale aan te bied – van tradisionele Afrikaanse volksverhale tot mites, legendes en sprokies van regoor die wêreld.
Elke episode is ‘n hoëgehalte-produksie, wat lewe kry met omvattende en innoverende klankontwerp en musiek wat die luisterervaring soveel meer pret maak.
Die podsending word aangebied deur die gevierde Suid-Afrikaanse akteur, skrywer en komediant, Melt Sieberhagen wie se unieke vertellings nie net die karakters laat lewe kry nie, maar ook aan elke storie ‘n heerlike plaaslike geur gee.
Elke storie is ook in teksformaat op die webblad beskikbaar vir kinders (en ouers!) wat voel hulle wil die storie saamlees.
Die klankontwerp en produksie is in die bekwame hande van Dan Dewes, ‘n veteraan in die Suid-Afrikaanse musiek- en televisiebedryf met jare se ervaring in die skepping van unieke klankavonture wat die jongspan kan meesleur.
Aldus Dan:
“Ons glo in die krag van stories om kinders se denke en verbeeldingsvaardighede te help vorm en uitbrei. Met ‘n Sak Vol Stories hoop ons om ‘n ruimte te skep waar kinders groot idees kan verken en sommer op die koop toe lewenslesse kan leer, alles op ‘n vermaaklike en boeiende manier.”
Seisoen 1 het amptelik afgeskop met die eerste vyf episodes wat reeds beskikbaar is, met nog 15 episodes op pad – ‘n nuwe episode elke Vrydag. Komende stories sluit verhale soos “Die Chimera” en “Ikarus en Daedalos” in, sowel as “Anansi Bring Wysheid na die Wêreld.” Luisteraars kan ook uitsien na ‘n bonus-reeks genaamd “Kreatiewe Kreature,”: ‘n mini-reeks waarin ons allerhande monsters, mitologiese gediertes en ander verbeeldingsgedoentes leer ken.
Luisteraars kan ‘n Sak Vol Stories’ op Spotify, Apple Podcasts, en waar ook al hulle na podsendings luister, vind.
Oor ‘n Sak Vol Stories: ‘n Sak Vol Stories is ‘n Afrikaanse storie-podsending vir kinders. Die doel is om hoëgehalte klankinhoud te verskaf wat verbeelding, geletterdheid en ‘n liefde vir die Afrikaanse taal en kultuur bevorder. Die podsending se stories word deur Melt Sieberhagen opgevoer en tegnies versorg deur Dan Dewes wie se “By Kids For Kids Story Time”-podsendigsreeks die inspirasie vir die hele Sak Vol Stories-projek is.
Vir meer inligting, besoek www.sakvolstories.co.za en volg die podsending op Instagram by www.instagram.com/sakvolstories.
Melt & Dan
Wil jy graag deel wees van een van die stories uit ons sak vol verhale? Hier is jou kans! Luister na die storie (of lees sommer saam op ons webblad) en dink oor die lesse wat ons uit die storie kan leer. Wat sou jy anders gedoen het? Waarmee stem jy saam, of dalk nie? Laat weet ons gerus
Neem met jou foon ’n stem-boodskap op waarin jy vir ons sê wat jy dink die les van die storie is. Sê sommer waarvan jy alles gehou het en stuur dit na sakvolstories@gmail.com. Jou antwoord kan tot 1 minuut lank wees en ons sal die beste bydrae aan die einde van die episode insluit. Kan nie wag om van jou te hoor nie!








