Persverklaring
Afrikaans 100 se veldtog, om Afrikaans as amptelike taal te vier, word met ʼn groot kuier vir die hele gesin op Saterdag 25 Oktober by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl afgesluit.
Is jy lus vir liplek-lekkerte? Die Afrikaans 100 Feesmark en Makietie gaan jou smaakkliere laat baljaar. Van geurige Kaap-Maleise geregte soos bobotie en koesisters, tot watertandlekker boerekos soos potjiekos en malvapoeding. Maak gereed vir spogwyn, boetiekbier en disse soos net Suid-Afrikaners dit kan maak. Onthou, bring daai hongerkol op jou maag saam! Dis ʼn fees vir almal met musiek, kindervermaak en stalletjies met handgemaakte snuisterye. Daar is ook ʼn braaikompetisie vir hoërskole.
Kom geniet optredes deur rieldansers, volkspelegroepe, en die kunstenaars Rjay en LK, Jitzvinger, Marsha Bothma, Selby Williams, Nadia Louw, David Fourie, Nadine, Jak de Priester en die Kaapse Lawaaimakers.
Die seremoniemeesters vir die dag is Lyntjie Jaars, Danneline Ramsden en Dean Smith. Bring die hele gesin saam en vier vir oulaas Afrikaans as ʼn amptelike taal! Die feesmark duur van 11:00 – 19:00.
Toegang is R60 met gratis toegang vir diegene jonger as 13.
Kaartjies is beskikbaar by Tixsa.
EINDE








