Skrywer: Seugnet van Zyl
Animasiereeks oor hondjie en haar gesin nou in Afrikaans
Afrikaanse kinders sal baie in hulle noppies wees, want die immergewilde en geliefde animasiereeks, Bluey, gaan nou in hulle moedertaal vertel word.
Bluey, ’n Australiese beeshond, en haar gesin is ’n wêreldwye treffer onder kinders en selfs ouers.
Bluey, haar sussie, Bingo, en hul ouers, Chilli en Bandit, is so geliefd omdat dit herkenbare storievertelling, humor en hartverblydende oomblikke kombineer op ‘n manier wat tot beide kinders en volwassenes spreek.
Bluey gebruik haar onbeperkte energie om speletjies te speel wat op onvoorspelbare en snaakse maniere ontvou, en haar familie en die hele buurt in haar wêreld van pret insluit. Dié bekroonde reeks is in meer as 140 lande regoor die wêreld beskikbaar.
Die kort episodes van slegs sewe minute lank weerspieël alledaagse oomblikke in dié gesin se lewe waar hulle inkopies gaan doen of park toe gaan of besig is met hul slaaptydroetines, maar dit word op ’n prettige, verbeeldingryke manier oorvertel.
Die BBC het Donderdag (4 September 2025) aangekondig dat Bluey in vier Afrika-tale, waaronder Afrikaans, Zoeloe, Swahili en Nigeriese Pidgen, oorgeklank gaan word.
Barbara Jerzyk Alvarez, hoof van CEEMA-inhoudverkope by BBC Studios, sê dié geliefde Emmy- en Bafta-bekroonde animasiereeks, gaan nou tot nog meer kinders spreek.
Lees ook hier.







