Skrywer: Skrywer: Lizette van Huyssteen (Practica Program)
– namens die AON
Bou jou kind se samewerkingsvaardighede
Die vierde industriële revolusie stel tans nuwe eise aan onderwys en opleiding.
Daar is ʼn groeiende aanvraag na werkers wat nie net intellektueel uitblink nie, maar ook in groepsverband produktief en sensitief kan saamwerk.
Werkers moet uitstekend oor die weg kom
Dis krities belangrik dat almal mekaar met respek en sensitiwiteit moet kan hanteer omdat vele uiteenlopende mense saam sukses moet behaal.
Almal moet tegemoetkomend wees en bereid wees om opofferings te maak om die span te help om spesifieke doelwitte te bereik om te presteer. Elke spanlid moet die individuele bydraes van al die ander spanlede kan raaksien en waardeer. Almal moet ook saam verantwoordelikheid aanvaar vir die produktiwiteit en sukses van die span.
Navorsers sê ’n kleuter se vordering ten opsigte van samewerkingsvaardighede kan aan die hand van die volgende kriteria gemeet word:
- Die mate waartoe hy of sy leer om suksesvol in klein en groot groepe saam met ander kinders te speel.
- Die gemak waarmee hy of sy klasreëls en die reëls van speletjies volg en saam met die klas aanbeweeg van een aktiwiteit na ’n volgende.
- Die mate waartoe hy of sy in ander kinders belangstel en hul bydraes waardeer.
Mylpale vir saamspeel
Juniors vaar goed as hulle kan saamwerk aan ’n taakgerigte aktiwiteit soos om saam met ’n volwassene of ’n ouer kind ’n legkaart te bou, of beurte te maak om vorms in ’n vormbord te pas.
Seniors vaar goed as hulle spontaan idees en inligting kan uitruil om ’n speelervaring moontlik te maak, bv. om saam te beplan hoe hulle iets gaan bou of ’n fantasiespeletjie gaan speel.
Graad R’e wat goed vaar kan leer om saam met ander kinders aan ’n opdrag of projek te werk, soos om ’n storie d.m.v. ’n toneeltjie op te voer.

Mylpale vir reëls en oorgange
Juniors vaar goed op hierdie gebied as hulle op ’n ouderdomsgepaste wyse kan aanbeweeg na ’n volgende aktiwiteit wanneer dit nodig is.
Seniors vorder hier flink wanneer hulle kan leer om die reëls van speletjies te volg wat twee-twee of in ’n groep gespeel word.
Graad R’e wat hier goed vaar geniet dit om saam met ander kinders ’n nuwe speletjie met reëls uit te dink, of om minstens saam te gesels oor hoe die reëls of verloop van ’n bestaande speletjie moontlik verander sou kon word.
Waardering van ander kinders se bydraes
Juniors is hier op die regte pad as hulle belangstelling toon in en opmerkings maak oor dinge waarmee ander kinders besig is, bv. “Jan bou ’n boot!”
Seniors vaar goed wanneer hulle gereeld daarin belangstel om ander kinders te nooi om te kom saamspeel nadat hulle met ’n aktiwiteit begin het.
Graad R’e blink uit as hulle nie net vir ’n volwassene nie, maar ook soms vir ander kinders vra hoe om iets te doen, ’n speletjie te speel, of iets te bou.
Samewerking is dus ’n vaardigheid wat sommer van kleins af ingeoefen en aangeleer kan word.
Hierdie artikel is met die toestemming van die Afrikaanse Onderwysnetwerk gedeel.
Besoek hul webtuiste vir meer inligting. https://aonetwerk.co.za/







