Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die feite, die uitdagings en die impak op die diabeet en sy gesin.
Nou onlangs loop ek ’n innemende en mollige vierjarige seuntjie raak. Hy het ’n verband om sy bo-arm, maar ek vind eers later uit hoekom. Op die oog af, ‘n normale en uiters woelige en gesonde kind, maar weereens weerspieël sy uiterlike voorkoms nie noodwendig sy welstand nie. Toe ek en sy ma later gesels, hoor ek die lap om die bo-arm beskerm ’n spesiale insulienpompie of -toestel, want met die spelery kan dit dalk afkom of beskadig word en dit kan die verskil tussen lewe, ’n koma en selfs die dood beteken. Dramaties? Nie regtig nie. Die seuntjie het tipe 1-diabetes en daardie pompie monitor en reguleer sy bloedsuikervlakke en is verbind aan ‘n app op ‘n foon wat sy mamma 24 uur per dag by haar het, en wat ’n alarm laat afgaan as alles nie pluis is nie. Sy sê ook dat nie een dag dieselfde is nie, want dit wat jy gister gedoen het en wat gewerk het, werk nie noodwendig vandag nie omdat soveel faktore ‘n invloed kan hê.
Na aanleiding van hierdie ervaring, het Afrikaans.com besluit om diabetes te ondersoek en ouers en die publiek meer hieroor te vertel. Ons kyk na die feite, die uitdagings en veral die impak van hierdie siekte en hoe om dit te bestuur, want met die regte behandeling en deur streng by die voorskrifte te hou, kan die diabeet wel ’n gesonde en aktiewe lewe lei.
Kitsfeite
Volgens skattings van die Wêreldwye Siektelasstudie is diabetes die vyfde grootste oorsaak van sterfte weens nieoordraagbare siektes in Afrika suid van die Sahara.
- Sowat een uit elke 11 volwassenes ter wêreld het in 2019 diabetes gehad. Altesaam 19 miljoen uit 436 miljoen mense was afkomstig uit Afrika suid van die Sahara.
- Ongeveer 60% van die lyers was nie bewus van hul toestand nie.
- Daar word beraam dat hierdie syfers teen 2045 kan verdubbel tot 45 miljoen.
Hoe werk die draagbare insulienpompie?
In leketaal is dit ’n battery-aangedrewe, koordlose toestel of pompie wat met ’n hol buisie wat onder die vel geplaas word, aan die diabeet se liggaam gekoppel word. ‘n Kleefplakker hou die pompie in plek. Die toestel kan op die maag, bo-arm, dy of boude vasgeplak word. Hierdie toestelle is ontwerp om regdeur die dag insulien toe te dien om glukosebeheer toe te pas.
Insulien word hoofsaaklik op twee maniere toegedien: ’n Voortdurende lewering van insulien en indien nodig die toediening van bolusinsulien wat meer snelwerkend funksioneer veral na ‘n maaltyd en dus as regstellingsdosis toegedien word. Hierdie addisionele insulien word beheer deur die persoon self met behulp van ’n knoppie wat gedruk kan word, of dit kan deel uitmaak van ’n versoenbare slimfoon-app wat koordloos met die pompie kommunikeer. Die pompie se rekenaar bereken die toepaslike bolusdosering gebaseer op die gebruiker se inset rakende koolhidraatinname en huidige glukoselesings. Sommige stelsels kan ook geïntegreer word met moniteringstoestelle (“continuous glucose monitoring (CGM) devices”) wat intydse glukosedata verskaf en die insulientoediening outomaties aanpas om binne die veilige bloedsuikervlakke te bly. Party pompies het ‘n alarm sodat die nodige aanpassings betyds gedoen kan word.
Dit is veral kinders wat hierby baat omdat die daaglikse inspuitings so uitgeskakel kan word en die ouers meer beheer kan uitoefen.

Wat is diabetes?
Jy het dalk ook grootgeword met die woord “suikersiekte” en mense het sommer gepraat van “haar suiker is hoog”. Vandag is die siekte meer bekend as diabetes en word daar ook onderskei tussen tipe 1- en tipe 2-diabetes.
Volgens die webtuiste Diabetes Suid-Afrika (Diabetes South Africa) kom die woord “diabetes” uit die Grieks en beteken dit verhoogde of oormatige urinering – ’n simptoom wat algemeen voorkom in die aanvanklike simptome van diabetes. Dit is egter nie so eenvoudig nie, want ’n wanbalans van hormone wat waterbalans beheer, kan ook verhoogde urinering tot gevolg hê, maar … die kwaliteit van die urine verskil baie. Daarom dan die terme mellitus – wat “soet” beteken – en insipidus – wat “helder” beteken.
Diabetes mellitus beskryf die groep toestande wat met te hoë bloedglukose gepaardgaan. Terwyl diabetes insipidus dui op ’n abnormaliteit in waterbalans in die nier of die hormone in die pituitêre klier.
Eenvoudiger gestel:
- Dit begin met wat jy eet – veral die koolhidrate (of stysels). Hierdie koolhidrate word afgebreek na glukose wat in die bloedstroom opgeneem word – dit is nou jou bloedsuiker.
- Die hormoon, insulien, word deur die pankreas vrygestel en dit help om die glukose in jou bloedstroom na jou selle te vervoer.
- Die glukose word opgeneem en produseer energie.
- Insulien help die liggaam om bloedsuikervlakke te reguleer en die energie te gebruik wat dit uit koolhidrate verkry.
As ‘n persoon diabetes het, gebeur die volgende:
- Sy liggaam produseer te min of geen insulien nie – of sukkel om die insulien behoorlik te benut.
- Die glukose wat hy uit die koolhidrate gekry het, word nie optimaal na die selle oorgedra nie.
- Suiker bou nou op in die bloed en bloedsuikervlakke styg.
- Dit kan daartoe lei dat organe soos die niere, oë, senuwees en hart beskadig word.
Die goeie nuus is dat diabetes met die regte behandeling bestuur kan word, en die diabeet kan ’n lang, gesonde en aktiewe lewe lei.

Wat beteken tipe 1 en 2 dan?
Volgens Diabetes Suid-Afrika is daar steeds nie eenstemmigheid hieroor nie omdat dit lyk asof die verskillende tipes oorvleuel. Die huidige klassifikasie word daarom gebaseer op die oorsaak van die diabetes en nie die pasiënt se ouderdom en of insulien gebruik word of nie.
Tipe 1-diabetes
Dit staan bekend as outoïmmuun-diabetes en kom voor in sowat 5 – 10% van mense met diabetes. Vroeër het ons gepraat van insulien-afhanklike diabetes.
- Daar is nie insulien teenwoordig om glukose aan die selle oor te dra nie. Die gevolg is dat suiker in die bloedstroom opbou wat tot lewensbedreigende komplikasies kan lei.
- Dit is ‘n genetiese en soms oorerflike, outoïmmuunversteuring wat vanaf geboorte teenwoordig is.
- In plaas daarvan dat die immuunstelsel dan die liggaam teen skadelike infeksies en allergieë van buite beskerm, word die immuunstelsel deur ’n eksterne sneller geaktiveer en word die liggaam se eie selle aangeval.
- Aanvanklik kan die siekte verskuil wees, maar wanneer die bloedglukose skielik aansienlik toeneem, raak simptome sigbaar.
- ’n Kombinasie van daaglikse insulienbehandeling en ’n noukeurige eetplan is nodig om dit te beheer.
Tipe 2-diabetes
Dit is die mees algemene tipe diabetes waaraan ongeveer 90% van gevalle toegeskryf kan word.
- Die persoon is insulienweerstandig (gewoonlik weens ’n oormaat liggaamsvet) en ondervind ’n afname in insulienafskeiding vanuit die pankreas wat hoë bloedglukosevlakke veroorsaak.
Swangerskapdiabetes (gestational diabetes)
‘n Vorm van diabetes wat die eerste keer tydens swangerskap gediagnoseer word en in die tweede of derde trimester voorkom.
- Dit is meestal tydelik en kan verdwyn na swangerskap, maar vroue met swangerskapdiabetes en hulle kinders het ‘n groter kans om later in hulle lewe tipe 2-diabetes te ontwikkel.
Diabetes weens ander oorsake
- Dit sluit monogeniese diabetes in – dit staan ook bekend as volwasse aanvang-diabetes in jonger persone – mature onset diabetes of the young (MODY) – sien blokkie vir verduideliking.
- Verder kan dit veroorsaak word deur siektes van die pankreas, en diabetes wat weens die misbruik van dwelmmiddels/medikasie ontstaan.
Vroeë aanvang-diabetes (MODY)
Hierdie vorm van diabetes is skaars en kan slegs toegeskryf word aan 1 – 5% van alle diabetesgevalle en 1 – 6% van pediatriese diabetes. Dit kan ook verwar word met tipe 1- of tipe 2-diabetes en tot soveel as 80% van pasiënte met MODY kan verkeerd gediagnoseer word. Van die volgende kriteria moet egter teenwoordig wees vir ’n positiewe diagnose:
- Diabetes voor die ouderdom van 25 jaar.
- Afwesigheid van outo-antiliggaampies teen die Beta-selle of GAD-teenliggaampies.
- Teenwoordigheid van diabetes in twee opeenvolgende generasies van dieselfde familie.
- C-peptiede van meer as 200 pmol/L (dit dui op die teenwoordigheid van betaselfunksie in die pankreas) – selfs na drie jaar van insulienbehandeling.
Wat gebeur in die liggaam?
Insulien moet as’t ware die deur na die selle oopsluit, maar wanneer daar nie insulien teenwoordig is nie, word die glukose in die bloedvate vasgevang.

Dit veroorsaak:
- Hiperglisemie: Hoë bloedglukose
- Oormatige urinering. Wanneer die hoë bloedglukose deur die niere gefilter word, stort die oormatige glukose in die urine met ’n gepaardgaande toename in vloeistof. Dus: oormatige urinering.
- Urinêre infeksie. Hierdie glukose in die urine is soms die ideale teelaarde vir bakterieë om vastrapplek te kry en lei tot gereelde infeksies.
- Oormatige dors. Die oormatige verlies aan vloeistof stimuleer die dorssentrum en die persoon sal meer vloeistof inneem.
Ketoonformasie
- Die gebrek aan glukose in die selle lei daartoe dat die selle smag na voedingstowwe vir energieproduksie en dus ander bronne moet soek. Proteïen- en vetreserwes word dan afgebreek om energie te verskaf. Die tipe 1-diabeet gebruik hierdie bronne, maar wanneer dit uitgeput raak, begin die persoon gewig verloor.
- Moegheid en tamheid. Omdat die energie wat verskaf word nie altyd optimaal is nie, kla die persoon dikwels van moegheid en tamheid.
- Na gelang meer vette afgebreek word, word ’n neweproduk, ketone, vrygestel – ’n suur wat die pH van die liggaam kan wysig en tot ’n ander gevaarlike toestand kan lei, naamlik diabetiese ketoasidose (DKA).
Die enigste manier om van ketone in die liggaam ontslae te raak, is om insulien toe te dien sodat die glukose terugbeweeg na die selle en die gebruik van vette as energiebron gestaak word.

Langtermynkomplikasies
Hoë bloedglukosevlakke beskadig aanvanklik die kleiner bloedvate en mettertyd ook die groter bloedvate. Navorsing (the Diabetes Control and Complications Trial – DCCT opgevolg deur the Epidemiology of Diabetes Interventions and Complications – EDIC)) het getoon dat optimale glukosebeheer die risiko vir alle langtermynkomplikasies verminder. Dit het ook bevestig dat die konsep van “metaboliese geheue” wat beteken dat goeie beheer noodsaaklik is vanaf diagnose, noodsaaklik is vir langtermynbeskerming. Van die komplikasies sluit in:

- Hart- en bloedvatsiekte.Dit sluit in koronêre aarsiektes wat gepaardgaan met angina (borspyne), ’n hartaanval, beroerte, vernouing van die are (arterosklerose) en hoëbloeddruk.
- Senuweeskade (neuropatie).Te veel suiker in die bloed kan die wande van die klein bloedselle wat die senuwee voed, beskadig. Veral die are in die bene. Dit kan dan lei tot ‘n kriewelrige (tintelende) sensasie, ’n dooie gevoel, ’n branderige gevoel of pyn in die bene of hande. Dit begin gewoonlik by die vingerpunte of punte van die tone en versprei dan boontoe. Wanneer bloesuikervlakke nie behoorlik beheer word nie, kan dit veroorsaak dat ‘n mens algaande die gevoel in die ledemete verloor.Beskadiging aan die senuwees wat die spysverteringstelsel affekteer, kan lei tot naarheid, vomering, diarree of hardlywigheid. By mans kan erektiele disfunksie ook voorkom.
- Nierskade: Die niere het miljoene klein bloedvate wat voorkom dat afvalstowwe die bloedstroom binnedring. Diabetes kan hierdie stelsel beskadig wat in ernstige gevalle tot nierversaking of eindstadium-niersiekte kan lei. In laasgenoemde geval is dialise of ’n nieroorplanting die enigste oplossing.
- Oogskade: Die bloedvate in die retina word beskadig en kan sigverlies tot gevolg hê. Diabetes verhoog ook die risiko vir ander ernstige toestande, soos katarakke en gloukoom.
- Voetskade: Senuweeskade in die voete of swak bloedvloei na die voete wat nie behandel word nie, kan lei tot komplikasies en snye en blase kan ontaard in ernstige infeksies. Dit kan selfs lei tot amputasie van die tone, voet of been.
- Vel- en mondtoestande. Die persoon is meer geneig tot infeksies van die vel en mond. Dit sluit in bakteriese en swaminfeksies, tandvleissiekte en ’n droë mond.
- Swangerskap. Hoë bloedsuikervlakke kan gevaarlik wees vir die vrou en die baba en verhoog die risiko op ’n miskraam, stilgeboorte en geboortedefekte. Die swanger vrou se diabetes kan die risiko van diabetiese ketoasidose verhoog, asook lei tot diabetiese oogprobleme, swangerskap- geïnduseerde hoëbloeddruk en pre-eklampsie.
Die behandeling? Insulien
Die uitvinding van insulien het die lewensverwagting van persone met tipe 1-diabetes dramaties verhoog – mits daar natuurlik by die behandeling gehou word. Dit is belangrik om:
- ’n Gesonde, gebalanseerde dieet te handhaaf vir beter beheer.
- Insulienvlakke voortdurend te monitor sodat glukose uit die bloedstroom by die selle kan uitkom.
Meer oor die uitdaging rakende insulientoediening
Een van die grootste uitdagings waarmee persone met tipe 1-diabetes daagliks te doen kry, is om te bepaal op watter tydstip die insulien toegedien moet word.
Dr Angela Murphy deel op Diabetes Suid-Afrika se webtuiste die volgende:
- Basale insulien beheer spesifiek glukose wat deur die lewer afgeskei word wanneer ‘n persoon nie geëet het nie. Dit werk vir langer en word gewoonlik as ‘n daaglikse dosis toegedien – soms twee keer per dag.
- Bolus- (kortwerkende) insulien word benodig om glukose afkomstig van voedsel wat tydens ‘n maaltyd ingeneem is, te absorbeer. Dit is juis om te bepaal wanneer hierdie bolusinsulien toegedien moet word, wat so uitdagend is.Die glukose en insulien moet as’t ware binne die liggaam ontmoet. Daarom moet die bolusinspuiting voor maaltye en dikwels 30 minute voor die maaltyd, toegedien word, want daar is tot op hede nog nie insulien beskikbaar wat vinnig genoeg reageer dat dit ten tyde van die maaltyd of daarna toegedien kan word nie.
- Klaargemengde insulien bevat kort- en langwerkende insulien en moet voor maaltye toegedien word. Dit word gewoonlik twee keer per dag voor ontbyt en aandete gegee. Soms kan dit vir die ontbytdosis gegee word en kan ander insulien die res van die dag gegee word. Laasgenoemde is veral soms nodig vir kinders om die voedsel wat hulle by die skool inneem, te dek.

Hoe om tipe 1-diabetes te monitor
Die diabeet en sy mediese span is deel van ‘n span en daarom is gereelde toetse nodig sodat die mees geskikte protokolle vasgestel kan word om die gemiddeldes en glukosevlakke behoorlik dop te hou.
Monitering is egter aansienlik vergemaklik met die insulienpompies/glukosemoniteringsapparate op die mark. Die dra van hierdie apparate stel die diabeet in staat om glukosevlakke voortdurend te monitor sodat daar onmiddellik stappe geneem kan word as die vlakke ongewens is. Dit beteken minder of geen vingerprikke en jy het die voordeel om baie meer inligting op een plek te sien. Dit is veral handig vir tipe 1-diabete omdat nie een dag soos die volgende is nie.
Laastens, onthou die NEOS (soos op Diabetes SA se webtuiste):
Neem jou medikasie volgens jou dokter se aanwysings.
Eet gesonde kos.
Oefen daagliks ’n bietjie.
Skud gewig af, indien nodig.
En meer spesifiek: Diabetes by kinders: Ondersoeke, diagnose en behandeling
As jy vermoed dat jou kind aan diabetes ly, is dit belangrik om ‘n pediater of ‘n spesialis in interne geneeskunde en endokrinologie te nader. Hierdie kundige sal dan na gelang van die simptome en spesifieke vrae, ’n diagnose maak en die nodige toetse laat doen.
Behandeling
Sodra jou kind met diabetes gediagnoseer is, is die volgende protokol belangrik:
- Ouers en kinders moet spesiale diabetesopleiding ontvang. Hier kom jy meer te wete oor die siekte, hoe dit ontwikkel en verloop en die behandelingsproses.
- Jy leer hoeveel en watter koolhidrate kom voor in die verskillende kossoorte en hoeveel insulien die liggaam op watter tyd van die dag en vir watter kossoorte nodig het.
- Jy leer ook hoe om moontlike komplikasies te hanteer.
- Jy word touwys gemaak oor die toedien van insulien (d.m.v. daaglikse inspuitings met ‘n insulienpen) of in die werking en hantering van ‘n insulienpompie en glukosemonitor.
- Dosis en tyd is belangrik om lewensgevaarlikse hipoglisemie of hoë bloedsuikervlakke te voorkom.
- Jy leer ook hoe lae bloedsuiker lyk, byvoorbeeld oormatige sweet, duiseligheid, bewerige hande, hartkloppings en swakheid en in ernstige gevalle bewusteloosheid. Daarom moet die tipe 1-diabeet altyd glukose byderhand hê om tydens ligter aanvalle hul bloedsuiker vinnig te verhoog. Wanneer die aanval feller is, is onmiddellike mediese ingryping egter noodsaaklik omdat dit tot ’n koma kan lei wat lewensgevaarlik kan wees.







