Persverklaring
Afrikaans 100-skolekompetisie
Skep ’n kreatiewe projek, ’n video, leesprojek, opvoering of iets heeltemal anders en wen ‘n deel van R100 000 vir jou skool!
Inskrywings is gratis en oop vir alle skole, reg oor al nege provinsies.
In ’n tyd waar Suid-Afrika se jeug dikwels soek na hul plek en stem, skep die Afrikaans 100 Skolekompetisie ’n kreatiewe en bemagtigende platform vir leerders reg oor die land om hulself in hul eie weergawe van Afrikaans uit te druk.
Dié nasionale kompetisie, wat oop is vir alle skole vanaf 1 Mei tot 15 September 2025, is deel van die landwye vieringe van 100 jaar sedert Afrikaans as amptelike taal erken is. Maar anders as vorige vieringe, fokus dié projek op die jongmense wat dit leef en laat groei.
“Dis nie net ’n taalfees nie,” sê adjunk-projekkoördineerder René Arendse van Afrikaans 100. “Dis ’n platform vir jong mense om te wys dat Afrikaans aan hulle ook behoort in al sy vorme, aksente en kreatiwiteit. Van Kaaps en Namakwalands tot algemene Afrikaans, die kompetisie vier dit alles.”
Deelname uit alle provinsies
Skole van die Karoo en Gauteng, tot Noordwes en die Oos-Kaap het reeds begin inskryf. Skole word aangemoedig om deel te neem met kunswerke, gedigte, stories, video’s, optredes, rieldanse of ander kreatiewe maniere waarop hulle Afrikaans beleef.
Die inskrywings stroom in met temas soos identiteit, gemeenskap, trots, en taalverskeidenheid.
Die riglyne en puntekriteria is volledig uiteengesit op die webwerf by https://afrikaans100.org/skoleprojek/.
Die kompetisie word moontlik gemaak deur drie organisasies wat diep bewus is van die belang van toegang tot onderwys en kultuur: Die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) wat nasionale onderwysontwikkeling vir Afrikaanse leerders dryf; die Noordwes-Universiteit (NWU) met die slagspreuk “Dit begin alles hier” – ʼn plek waar drome begin, ʼn plek waar jy jou aspirasies en toekomstige sukses kan visualiseer; en die Kruger Trust wat die skolekompetisie ondersteun.
“Die NWU ondersteun die Afrikaans 100 Skolekompetisie omdat dit jong mense die geleentheid gee om deel te wees, hulle te bemagtig en hulle stem te vind – in elke faset, ritme en leergeleentheid van hul daaglikse lewe en geborge te wees. Dit resoneer met die NWU se verbintenis tot veeltaligheid en ons strewe dat elke student en belangengroep hulself in hul taal kan uitleef.” – Mnr Jean-Marc Stidworthy, Direkteur: Bemarking en Studentewerwing
Gemeenskappe kan trots wees op hul skole, en dié kompetisie is die ideale geleentheid om dit te vier.
Belangrike datums
- Inskrywings sluit 15 September 2025
Meer inligting
Besoek https://afrikaans100.org/skoleprojek/
Skole of media kan ʼn e-pos stuur aan rene@afrikaans100.org
Afrikaans leef – nie net in boeke nie, maar in die harte en kreatiwiteit van kinders. Hierdie kompetisie wys dit elke dag.








