Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die kort en die lank daarvan.
Ek kry seker ten minste 10 keer per dag een of ander kennisgewing op sosiale media oor die sogenaamde onderbroke vas-dieet – of dalk beter bekend as “intermittent fasting”. Dalk probeer die algoritmes my iets vertel … wie weet. Nietemin, deesdae word dit voorgehou as een van die beste maniere om gewig te verloor.
Dis nie wat jy eet nie, maar wanneer jy eet …
Dié dieet is nogal uniek omdat dit nie voorskriftelik is oor wat jy moet eet nie. Jy word wel verbind om sekere tye van die dag te vas en ander tye te eet, dus wanneer jy moet eet.
Blykbaar is dit hoe ons voorgeslagte wat op jag en versamel staatgemaak het derduisende jare gelede geëet het, want soms moes hulle vir lank sonder kos bly en kon hulle ook nie gou winkel toe draf en gaan koop wat hulle nodig het nie. Hulle was dus genoodsaak om te vas.
Hoe werk dit?
- 16:8-metode: Die 16 ure lank vas en agt ure lank eet, blyk een van die gewildste metodes te wees.
Byvoorbeeld: Jy eet 11:00 soggens jou eerste maaltyd en eet 19:00 saans jou laaste maaltyd.
- 24 uur-metode: Sommige mense verkies om twee dae per week 24 uur lank niks te eet nie.
Byvoorbeeld: Jy eet vanaand om 19:00 aandete en dan eers weer die volgende dag om 19:00 weer.
- 5:2-metode: Die metode word gebaseer op kilojoule-inname.
Byvoorbeeld: Een of twee dae per week (die dae moet nie opeenvolgend wees nie) neem jy slegs 2000 tot 2 500 kJ in en eet dan die ander dae van die week soos gewoonlik.
Maar is dit gesond? Ja en nee.
Blykbaar hou dit wel vir sommige mense gesondheidsvoordele in, maar soos met enige eetplan word aanbeveel dat jy jou dokter of dieetkundige sal raadpleeg voordat jy die plan volg.
Vroue wat borsvoed, probeer swanger raak of vrugbaarheidsprobeme het word egter afgeraai en behoort ook eers hulle dokter te raadpleeg.
Mense wat dalk voorheen eetversteurings gehad het, diabetes het, sukkel met hoë en veral lae bloeddruk, nie hulle bloedsuikervlakke kan beheer nie, nierversaking toon, of ondergewig is, behoort ook nie die eetplan te volg nie.
Wat dit wel kan bied
Gewigsverlies: As jy steeds let op wat jy eet, en die ongesonde kossoorte vermy, matig tot gereeld oefen en hou by die plan, kan jy beslis gewig verloor.
Afname in insulienweerstandigheid: Dit dra by tot die vermindering van insulienweerstandigheid.
Afname in inflammasie in die liggaam: Jy kan ‘n afname in inflammasie ervaar.
Energie: Diegene vir wie die plan goed werk, vertel ook dat hulle hope energie het.
Bron: Die onderbroke vas-dieet: Alles wat jy moet weet – Maroela Media







