Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
… en nie bang om op te staan vir dit waarin sy glo nie.
Die aktrise Sandi Schultz het plaaslik en ook internasionaal haar merk op die kassie en die grootskerm gemaak. Lesers wat die reeks Binnelanders op kykNET volg, ken haar as dr Jennifer Adams, maar sy was ook onder andere in Trackers en die bonatuurlike rillerreeks Die Spreeus te sien. Sandi het ook internasionaal naam gemaak in reeks soos NYPD Blue, Blood & Water, en as dr Gwen Pennington in die Amerikaanse mediese drama City of Angels. Te oordeel aan laasgenoemde rol, kan sy beslis kers vashou by aktrises soos Ellen Pompeo (dr Meredith Grey in Grey’s Anatomy). Sy het ook verskyn in flieks soos The last Samurai en Where Truth Lies. Deesdae sien ons Sandi in die tweede seisoen van die kykNET-telenovela, Diepe Waters as die tawwe sakevrou Zelda Joubert. Afrikaans.com het met Sandi gesels oor haar meer as 40 jaar lange loopbaan, waar dit alles begin het, haar verblyf in Amerika, en of sy enigsins aftrede oorweeg.
Sandi het in Kaapstad tussen Elsiesrivier, Distrik 6 en Franschhoek grootgeword, het het haar graad aan die Universiteit van Kaapstand behaal.
Sy het ‘n onderwysbeurs gehad en wou altyd onderwyseres word, maar die lewe het ander planne met haar gehad.
Omdat sy in drama belanggestel het, het sy dramateorie as een van haar vakke gehad. ’n Vriend het haar ook aangemoedig om vir ’n oudisie by die dramadepartement by die Universiteit van Kaapstad te gaan. “Ek het uiteindelik so moeg geraak vir sy gesanik, dat ek toe maar gebel het en ’n afspraak gemaak het,” lag sy. Vanaf haar tweede jaar het sy aangesluit by die dramaskool en aan die einde van haar derde jaar het sy ‘n oudisie vir Celebration gedoen. Sy het die rol gekry en is daarna nog meer rolle aangebied en “so het dit gekom dat ek ten spyte van ’n onderwysgraad nooit amptelik skoolgehou het nie”.
Jou eerste rol …
“Ek veronderstel my eerste rol was op 14 of 15 toe die balletjuffrou gesê het dat die dramadepartement besig was met die Shakespeare-verhoogstuk, A Midsummer Night’s Dream en gevra het of ek nie wou gaan kyk of hulle my as ‘n feetjie kon gebruik nie. My eerste amptelike rol as aktrise was dus die feetjies Mot (Mote/Moth) of Mosterdsaad (Mustard seed) in Midsummer.
“Ek was pateties. Ons moes hierdie leotards met chiffon bo-oor dra en ek was so skaam dat ek die heeltyd agter die ander akteurs probeer wegkruip het.”
Jy het al baie karakters gespeel – is daar een of meer van die karakters wat vir jou uitstaan?
“Ek sou sê Jennifer Adams in Binnelanders. Ek was gek oor daardie karakter en haar waardes. Om Jennifer te speel, het my ’n beter aktrise gemaak – ek kon werklik ontwikkel en groei. Dit is ook die karakter wat my destyds teruggebring het Suid-Afrika toe. Toe ek Amerika toe is, het ek regtig nie gedink ek sal ooit weer terugkeer nie.
“En dan natuurlik die karakter Janina Mentz in Trackers. Dit was so ’n ongelooflike ervaring om deel van daardie show te wees en ek wens regtig daar kon ’n opvolg wees. Tans is ek Zelda in Diepe Waters en sy is ’n baie interessante karakter omdat sy so anders is as die karakters wat ek voorheen vertolk het. Ek moes werklik diep delf om haar te vind.”
Sandi vertel meer oor die storielyn in Diepe Waters waar sy onlangs twee rolle moes vertolk – die van Zelda en dan haar tweelingsuster, Hilda. Twee uiteenlopende karakters wat Sandi beslis uitgedaag het. Sê Sandi: “Om ’n tweeling te speel was ’n groot uitdaging, want ek moes albei hierdie karakters geloofwaardig maak – nogal moeilik as jy reeds drie jaar lank een karakter gespeel het en nou moet jy iemand uitbeeld wat soos sy lyk, maar heeltemal verskillend is. En jy moet net soveel in daardie karakter glo as die oorspronklike karakter wat jy tot dusver vertolk het. Daarom het ek besluit om die twee se lyftaal te laat verskil. Hulle loop ook nie dieselfde nie. Hilda vertoon baie swaarder in haar liggaam en meer ongemaklik, terwyl Zelda mooi aantrek en meer verfynd en ’n dame is. Hilda is die teenoorgestelde.”
Wat is die een rol wat jy nog graag sou wil vertolk?
Sandi lag en antwoord tong in die kies: “Die rol wat ek nog graag sal wil vertolk, is ’n rol wat in die werklike lewe plaasvind. Die van ’n woman of leisure – een wat kan kies of en wanneer sy wil werk!”

Foto: Sandi Schultz (Facebook)
Jy was in die realiteitsreeks, Survivor. Wat het jy daaruit geleer – van ander en ook jouself?
“Ek dink wat ek op Survivor geleer het, was om net myself te wees. Ek wou nie enigiemand wees wat ek nie in die regte lewe is nie. Na twee of drie weke op daardie eiland moet jy terugkeer na jou normale en werklike lewe. So, ek wou van die begin af net Sandi wees. En ja, ek is seker hulle het my ingedoen met die uitstemmery, maar ek is nie een oomblik spyt dat ek deelgeneem het nie.”
Vertel ons van die 12 jaar in Amerika. Was dit loopbaangewys die regte besluit?
“Dit was absoluut die regte besluit op daardie tydstip. Ek dink ek moes daar wees en die tyd daar deurbring. Maar, toe die rol in Binnelanders kom, het dit alles verander. Ek het gedog ek bly vir 8 maande en nou is dit reeds 20 jaar later.
“Na my huwelik met die akteur John Savage, het ek ’n lewe vir my in Los Angeles gemaak en ek het daardie lewe baie gemis toe ek aanvanklik teruggekeer het Suid-Afrika toe, maar die noodlot het anders besluit en vandag kan ek myself nie indink dat ek permanent in Amerika sou woon nie – veral nie met die huidige politieke landskap nie. Buitendien het ek my familie, die landskap, die weer, die mense en Afrikaans te veel gemis.”
Wanneer jy besluit om ’n rol te aanvaar – waarna kyk jy?
“Akteurs in Suid-Afrika kan nie aftree nie, so die grootte van die salaris!” skerts Sandi. Op ’n ernstiger noot: “Daar is rolle waarvoor ek ‘nee’ gesê het, want ek het nie gedink dat dit iets was wat ek wou doen nie. Maar ’n mens wil natuurlik ’n uitdaging hê – iets wat jy sal geniet. In Suid-Afrika moet jy egter ongelukkig dikwels dink aan daardie salaristjek.”
In Diepe Waters is jy die antagonis. Hoe kry ’n mens dit reg om ’n rol te vertolk as dit op soveel maniere verskil van die persoon wat jy werklik is. Is dit maar net tegniek op die ou einde?
“Ek dink dit is baie belangrik om nie die karakter wat jy speel, te veroordeel nie – en dit kan so maklik wees om Zelda te veroordeel. Wat ek probeer doen is om iets van die waarheid in elke scenario te vind. Iets waarby ek kan aanklank vind. Op daardie manier kan ek die waarheid agter die karakter vind. Ja, Zelda in Diepe Waters is baie anders as ek en doen goed wat ek nie noodwendig sou doen nie, maar soos wat ek gesê het, ek probeer om daardie greintjie waaarheid wat die leuen doeltreffend verkoop in die karakter te vind en oor te dra.”
Dink jy jy sal aftree?
Volgens Sandi is aftrede nie sommer Suid-Afrikaanse akteurs beskore nie. Hier ontvang akteurs nie voortgesette betaling vir die hergebruik of heruitsending van hulle werk nie – iets wat sy beslis mis van die Amerikaanse vermaaklikheidsbedryf. Sy vertel dat sy tot vandag toe nog ‘n fooi (residual) ontvang uit produksies wat sy destyds gedoen het. “Om akteur in Suid-Afrika te wees, is ’n finansieel onstabiele beroep en die meeste akteurs maak nie behoorlik voorsiening vir hulle oudag nie – ons dink nie noodwendig aan spaar of om annuïteite aan te skaf nie. Dis iets waaraan ek deesdae nogal baie dink. So ja, ek sal seker morsdood neerslaan op stel, want aftrede is nie ’n opsie nie.”
Op ’n meer persoonlike vlak:
Jy is geskei van jou eerste man, en was daarna 16 jaar lank saam met Laszlo Bene wat in 2020 oorlede is. Laszlo se dood moes geweldig traumaties gewees het – want dit was ook gedurende die Covid-inperking. Waar kry jy die krag om aan te gaan?
“Ek dink om te rou is ’n baie persoonlike reis en verskil van mens tot mens. Party mense beweeg vinnig aan en daar is niks mee fout nie – dis hulle reis en hulle keuse. Ek is anders. Vyf jaar later rou ek steeds oor my oorlede man. Ek probeer hom ook lewendig hou deur oor hom te praat, sy naam te noem, herinneringe aan hom op sosiale media te plaas. Dit beteken nie ek het nie aanbeweeg nie, ek het net baie vroeg besluit dat ek ’n pad met die rouproses sal stap – en dit is wat vir my gewerk het. In Mei was dit vyf jaar sedert Laszlo dood is en ek het vir lank nie oor sy dood gehuil nie, maar daardie dag was ek die hele dag in trane en kon ek nie ophou huil nie.
“Daar is ‘n analogie van rou wat as ’n bal in ’n boks voorgestel word. Aanvanklik vul daardie rou-bal die boks omdat hy so groot is en raak die bal voortdurend aan die pynskakelaar wat aan die kant van die boks is. Mettertyd raak die bal egter kleiner, hoewel die boks dieselfde grootte bly. Dit beteken die bal bons nou meer vrylik rond, maar raak net soms aan die skakelaar. Die pyn is steeds net so fel/seer, maar dit gebeur minder gereeld.”
Jy is uitgesproke oor geslagsgeweld en mensehandel en was trouens self die slagoffer van molestering en verkragting.
Wat het jy gedoen om hierdie onreg wat teen jou gepleeg is, te verwerk. Wat sê jy vir ander in dieselfde posisie?
“Ek dink die enigste goeie of positiewe ding van survivor wees is om daar te wees vir ander wat deur dieselfde trauma gaan. Om ’n voorbeeld te wees van iemand wat oorleef het. Ek wil hê mense moet besef dit is iets wat met my gebeur het, maar dit is nie wie ek is nie.
“Ek beskou myself as die ligtoring in die donkerte wat my lig skyn om te wys dit is moontlik om heelhuids anderkant uit te kom. Om vir die slagoffers te sê: ‘Kom hierlangs, jy kan oorleef en jy kan oukei wees’. Om myself hieraan te herinner, het ek ’n tatoeëermerk op my pols wat sê, ‘Illume’.
“Met my terugkeer uit Amerika het ek geweet ek is nie net hier om in Binnelanders te speel nie. Ek het gevoel dis my geleentheid om op te staan en om mense te laat weet daar is geen skande daarin wat met my of hulle gebeur het nie. Dit is nie jou – as die slagoffer – se skuld nie. Om daaroor te praat, is juis die manier hoe ’n mens daardie sweer van pyn en trauma kan oopmaak sodat dit gesond kan word.”
Wat doen jy in jou vrye tyd? Ek lees dat jy deelneem aan parkruns.
“Ek is mal oor parkruns. Dis ’n wonderlike instelling wat vrylik beskikbaar is vir almal, want jy hoef nie superfiks te wees om daaraan deel te neem nie. Al wat jy hoef te kan doen, is om een voet voor die ander te plaas – vir 5 km lank. As dit jou 20 minute lank neem, wonderlik. As dit jou ’n uur en 20 minute lank neem, fantasties! Ek doen ook materiaalkuns (fibre art), ek maak oorbelle, skets soms, hekel, brei en hou sommer net daarvan om kreatief te wees.”
Jy is glo ’n groot aanhanger van TikTok. Wat is dit van die platform wat vir jou werk?
“Ek love TikTok, want ek leer baie daar. Om een of ander rede het dit my gunstelingplatform geraak, hoewel die sensuur wat al hoe strenger word my effe afskrik. Ai, ons leef in ’n aaklige wêreld tans en ek vind dit moeilik.”
Sandi deel self raad en resepte op TikTok. Sy vertel dat sy op ’n keer gedeel het hoe om plakkers van glashouers te verwyder en dat die plasing 20 000 keer gekyk is.
Was jy al die slagoffer van kuberboeliery? Het jy raad vir ander?
“Ek was en dit is aaklig. Dit laat jou met die aakligste gevoel in jou maag, veral omdat my kuberboeliery van ‘n klomp vals rekeninge afkomstig was en die mense nie opgespoor kon word nie.
“My raad sou wees om dit soos water op ’n eend se rug van jou te laat afrol – hoe moeilik dit ook soms kan wees. Maar rapporteer dit wel.”
Hoe wil jy eendag onthou word?
Sandi sê dat sy onthou wil word vir haar menslikheid en deernisvolheid – en ook haar eksentrieke kant. “Ek wil mense inspireer en sou darem onthou wil word dat ek my stempel afgedruk het.”

Wat maak jou regtig gelukkig?
Om te weet haar familie en geliefdes is oukei is vir Sandi die heel belangrikste. “Ook ’n lekker bord oesters en ’n glas sjampanje.” Maar, wat haar nog gelukkiger sou maak, is dat daar geen geslagsgebaseerde geweld en seksuele misdrywe sal plaasvind nie. “Sodat ons veiliger in ons wêreld kan voel. Dat mense mekaar met respek en deernis sal behandel.”
Wat is die beste raad wat jy al van iemand ontvang het?
“Glo in jouself. Jy is goed genoeg. Moet jouself nooit onderskat nie.”
Gunstelinge:
Kos: Hoenderkerrie en sop
Fliek, TV-reeks: Hand maid’s tale, Severance, Rectify, Homeland
Boeke: Daar’s baie, maar The night circus – Erin Morgenstern, A little life – Hanya Yanagihara, en Kavalier & Cay – Michael Chabon, is van my gunstelinge.
Musikant: Joni Mitchell
Aanhaling: “Ek het lank terug besluit om die kind binne-in my wat nooit werklik sorgvry kon wees nie, toe te laat om dit te doen en haarself uit te leef. Daarom is die volgende aanhaling een van my gunstelinge:
‘Mense hou nie op speel omdat hulle oud word nie. Hulle word oud omdat hulle ophou speel.’ – George Bernard Shaw
“As wat Shaw gesê het waar is, sal ek nooit oud word nie.”
Ek lees op ’n plek jy kan sing en skryf liedjies – watter genre en het jy al liedjies opgeneem?
“Ek het vroeër jare hartseer folkliedjies in die mineursleutel geskryf. Sulke poëtiese lirieke. Ek het demo’s opgeneem, maar dit nooit vrygestel nie.”
Lees ook:
Sandi Schultz uit Survivor, sy praat met SARIE | Sarie
Aktrise Sandi Schultz oor haar onblusbare passie vir toneelspel én die lewe – Terloops
Sandi Schultz se hoop, vrees en lewenslesse | Sarie
‘Diepe Waters’ se Sandi Schultz: Só bly ek staande na my groot seer | Netwerk24







