Persverklaring
Silwerskermfees 2025: Lig skyn helder op die room van die Suid-Afrikaanse TV- en filmbedryf
Op een aand elke jaar kom byna almal in die vermaaklikheidsbedryf in Kaapstad byeen om erkenning aan hulle eweknieë en legendes te gee.
Terwyl rugbykoors Saterdag (23 Augustus) honderde by die DHL-stadion op Groenpunt beetgepak het, het die kollig by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) helder op die Suid-Afrikaanse televisie- en filmbedryf geskyn.
Op dieselfde aand is die gesogte Silwerskermbeeldjies aan akteurs, TV-aanbieders en filmmakers by die glansryke kykNET Silwerskermtoekennings vir Film en TV aan akteurs, TV-aanbieders en filmmakers uitgedeel.
Daar is ook erkenning gegee aan legendes in die vermaaklikheidswêreld.
Leon Schuster, wat al vir vier dekades diep spore in die filmbedryf getrap het, en die veelsydige Vinette Ebrahim, wat veral as sepie-aktrise volksbesit geword het, is vir hul lewensbydraes deur kykNET vereer. Marida Swanepoel, ’n stigterslid van kykNET, is ook gehuldig.
“Die erkenning aan besonderse werk tydens die toekennings, is nooit die rede waarom hierdie inhoud in die eerste plek gemaak is nie – dit is gemaak om gehore mee te voer,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale.
“Maar hoe lekker is dit nie om as kanaal dankie te sê – en geluk! – aan almal wat die afgelope jaar iets buitengewoons reggekry het nie.
“Beoordelingspanele bestee dae en weke om hulle te verbeel dat hulle saam met ons kykers op die rusbank sit, maar hulle kyk ook vir dit wat standaarde lig, dit wat tegnies uitnemend is, dit wat die grense verskuif. Daarmee sê hulle: ‘Ons sien wat julle doen en ons vier dit!’”
Waldimar sê dat ’n gesonde kykNET nog vir baie, baie jare stories in Afrikaans sal vertel. “En kykNET kan net gesond wees as vervaardigers ons help vasstel waarna gehore soek, en werk bring waarin kykers hulle sal wil aanhou verdiep.”
Volgens Waldimar is daar ook talle nuwe tendense wat in vanjaar se films merkbaar was. “Die sielkundige gruwel Hen verskuif grense in tegniek, genre en aanslag – ons kan nie wag om die reaksie van gehore te sien nie,” sê hy.
“Terwyl die vere waai in Hen, waai die klere in Showmax se Khaki Fever. Met Khaki Fever is dit opwindend om te sien hoe stromingsdienste die grense van Afrikaanse vermaak herverbeel.”
Hy sien ook in hierdie titels ’n voortgesette entoesiasme om te eksperimenteer. “Dit is belangrik om risiko-aptyt te behou namate ons almal saam planne maak om gehore na teaters terug te lok. Want die heel grootste sonde wat inhoudmakers kan pleeg, is om hul gehore te verveel.”
Waldimar het ook by die toekennings onthul dat ’n dokumentêre reeks oor Leon Schuster van 1 Oktober af op kykNET gaan uitsaai, terwyl talle van sy flieks vanaf September op M-Net gaan wys.
DIE WENNERS IN DIE TV-KATEGORIEË IS:
Beste hoofspeler in ’n komedie
Bianca Flanders – Mince jou hare (S1)
Beste byspeler in ’n komedie
Tobie Cronjé – Pronk Primêr (S1)
Beste akteur in ’n drama
Frank Opperman – Nêrens, Noord-Kaap (S2)
Beste aktrise in ’n drama
Ilse Klink – Nêrens, Noord-Kaap (S2)
Beste manlike byspeler in ’n drama
Geon Nel – Nêrens, Noord-Kaap (S2)
Beste vroulike byspeler in ’n drama
Daneel van der Walt – Nêrens, Noord-Kaap (S2)
Beste akteur in ’n telenovela of sepie
Justin Strydom – Diepe waters (S3)
Beste aktrise in ’n telenovela of sepie
Nadia Valvekens – Diepe waters (S3)
Beste byspeler in ’n telenovela of sepie
Therese Bam – Wyfie (S2)
Beste nuweling in ’n telenovela of sepie
Mila de Villiers – Reënboogrant (S1)
Beste aanbieder van ’n vermaaklikheidsprogram
Emo Adams – Oppi noot
Beste aanbieder van ’n leefstylprogram (gekombineerd met sommige gesels- en joernaalprogramme)
Hannon Bothma – Glam Guru
Beste aanbieder van ’n aktuele- of geselsprogram
Lourensa Eckard – In gesprek (S9)
Beste aanbieder van ’n realiteitsprogram
Bertus Basson & Kobus Botha – Kokkedoor: Vuur & vlam
Beste ensemble-aanbiederspan
Breyton Paulse, Hamilton Wessels, Rika Nieuwoudt, Rikus de Beer, Janina Oberholzer, Jean de Villiers, Jonathan Mokuena, Jannie du Plessis, Tommy Dickson (Chef Vaatjie) – Toks & tjops
DIE WENNERS IN DIE SPEELFILMKATEGORIEË IS:
Beste manlike byspeler in ’n speelfilm
Francois Jacobs – Khaki Fever
Beste vroulike byspeler in ’n speelfilm
Zandélle Meyer – My f*k, Marelize!
Beste akteur in ’n speelfilm
Stian Bam – Hen
Beste aktrise in ’n speelfilm
Je-ani Swiegelaar – My f*k, Marelize!
Beste speelfilm
The Heart Is a Muscle

Silwerskermfees: Wenners










Legendes
Die Silwerskermfees het vanjaar die hoed vir drie groot geeste gelig: Iemand wat die land al vir jare laat skater het, ’n baanbreker in ’n tyd toe baanbrekers bitter nodig was en ’n vrou wat dekades lank agter die skerms gewoeker het.
Leon Schuster, Vinette Ebrahim en Marida Swanepoel is die naweek by die Silwerskermtoekennings vereer vir hulle lewensbydraes tot die vermaakwêreld in Suid-Afrika.
Leon Schuster
Leon Schuster is ’n filmmaker, komediant, akteur en sanger, maar bowenal het hy ’n reusebydrae tot nasiebou gelewer.
Leon, gebore en getoë in Bloemfontein, het ’n BA-graad aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf, waar hy vir die Shimlas rugby gespeel het. Ná ’n draai as onderwyser het sy loopbaan in alle erns in 1975 by die SAUK begin.
Die radioprogram Die Vrypostige Mikrofoon en flieks soos You Must Be Joking en Oh Shucks, It’s Schuster het van Leon ’n huishoudelike naam gemaak. Hy het ook vir een van die grootste Suid-Afrikaanse treffers gesorg toe hy in 1995 sy liedjie “Hie’ kommie Bokke” uitgereik het.
Leon se narratiewe rolprente, soos There’s a Zulu on My Stoep en Mr Bones, het plaaslike loketrekords verpletter, met Suid-Afrikaners van alle agtergronde wat aanklank gevind het by sy komiese blik op die land. There’s a Zulu on My Stoep het ook gewildheid in Amerika geniet, maar uit sy 18 vollengterolprente is dit Mama Jack wat vir Leon die naaste aan die hart lê.
“As iemand wat vreugde vir Suid-Afrikaners gebring het,” is hoe hy onthou wil word, sê Leon.

Vinette Ebrahim
Vinette was op hoërskool toe sy by The Space-teater in Kaapstad betrokke geraak het. Rolle in legendariese produksies soos Fiela se kind, Boesman and Lena en Buckingham Palace, District Six het gevolg. In 2000 het Vinette haar verskyning as Charmaine Meintjies (née Beukes) in die sepie 7de Laan gemaak en kort daarna volksbesit geword. Intussen het sy steeds in die teater gewerk aan produksies soos Miss Africa South, Vaselinetjie en My naam is Ellen Pakkies.
Sedert sy die Laan en sy mense gegroet het, het sy nuwe hoogtes bereik met rolle in Binnelanders, Generations, Diepe waters en Kelders van geheime, asook in TV-reekse soos Lioness, Koek, Legacy en die minireeks Evita in Excelsior. Sy het ook uitgeblink in vollengterolprente soos Barakat, Swirl en God Is African. Daarbenewens is Vinette ’n trotse mentor vir jonger spelers, skrywers en regisseurs.
“Die hoogtepunt van my loopbaan is die mense saam met wie ek gewerk het,” sê Vinette. “Elke projek waaraan ek gewerk het, was spesiaal, maar die mense … my medespelers, die crew, die produksiespan.”
Hoe voel sy oor hierdie toekenning?
“Een-en-vyftig jaar in die bedryf is ’n leeftyd – vir my altans. Hoe voel ek oor die toekenning?
Geïnspireerd om nog te gee. Dis nog lank nie verby nie!”

Marida Swanepoel
Wanneer daar oor die geskiedenis van Afrikaanse TV gepraat word, is daar een naam wat altyd opkom: Marida Swanepoel.
Marida se wortels lê in die Kaap waar sy, onder meer, ’n meestersgraad in Afrikaans aan die Universiteit Stellenbosch behaal het. Sy het by die SAUK in Johannesburg as omroeper aangesluit, en ná haar huwelik met Nic Swanepoel en die geboorte van hulle drie kinders, Elsje, Jan Adriaan en Franci, het sy radioverhale begin skryf. Later het sy by SAUK-TV se oorklankingsafdeling ingeval.
Marida behaal ’n tweede meestersgraad, hierdie keer in linguistiek, en met die begin van kykNET in November 1999, word haar kundigheid uitstekend as kanaalhoof ingespan. Onder haar leiding word oorspronklike inhoud vir die kanaal geskep, onder meer kykNET se eerste eie dramareeks.
“Ek is diep geraak deur die erkenning,” sê Marida. “Ons het hard gewerk in die beginjare, foute gemaak, dae en nagte deur gesloof, baie gelag, oplossings gekry en diep vriendskapsbande gesmee.
“Die 17 jaar by kykNET sal ek vir niks verruil nie. Die kultuur binne M-Net was warm en ondersteunend. Almal het mekaar geken. Elke afdeling in die maatskappy het gehelp waar hulle kon en wou hê jy moet slaag. Dit was deel van kykNET se sukses. Een groot liefdevolle familie. Wat meer kan ’n mens vra?”
Sedert haar aftrede is sy steeds ’n gereelde feesganger, uitstekende gespreksgenoot en raadgewer.
Die vermaakwêreld in Suid-Afrika sou veel armer sonder Marida gewees het.








