Skrywer: Seugnet van Zyl
Hardloop verg toewyding, geduld en geloof
Afrikaans.com het by Gerda Steyn, wat vroeër vanjaar haar vierde Comrades-marathon gewen het, gaan inloer.
Sy sê per e-pos vanuit die Alpe waar sy en haar man, Duncan, ’n vlieënier, deesdae woon dat sy nog talle Comrades-medaljes bymekaar wil maak in die jare wat voorlê en oefen reeds hard vir volgende jaar se ultramarathon.
Was jy ‘n atleet op skool?
Ek was altyd lief gewees vir die buitelug en om aktief te wees, maar ek was glad nie ’n atleet nie en het nie uitgeblink in enige spesifieke sport nie.
Wanneer het jy jou begin toespits op marathons en ultramarathons?
Ek het in 2014 vir die eerste keer begin om saam met ’n hardloop-klub te oefen. Dit was oorspronklik net vir sosiale redes, maar ek het dadelik gehou van die langafstande. Ek het binne die eerste paar maande alreeds my eerste marathon gehardloop.
Gerda het verlief geraak op dié sport en ’n talent ontdek waarvan sy nooit geweet het nie.
Sedert 2014 het sy baie veranderinge in haar lewe aangebring, waarvan die grootste een ’n loopbaanverandering van ’n bourekenaar na ’n professionele atleet was.
Verskil voorbereiding vir marathons van die van ultramarathons?
Ja, om vir die marathon te oefen verg meer toewyding aan spoedsessies. Vir die ultra-marathon moet ’n mens steeds ’n element van spoed behou, maar daar moet ook aandag gegee word aan krag, bulte, en natuurlik die langer uithouvermoë.
Kan jy jou hoogtepunte en selfs laagtepunte in jou loopbaan uitsonder?
Die hoogtepunt van my loopbaan is definitief die afgelope paar jaar se uitslae van die Comrades-marathon. Om eerste oor die wenstreep by die Comrades te hardloop, is werklikwaar ’n ongelooflike ervaring.
Laaggepunt: Ek het al ’n paar teleurstellings beleef, maar verlede jaar by die Olimpiese Spele was ek baie teleurgesteld met my uitslag. Dit was ’n baie harde resies en ek het reeds van die begin af glad nie myself gevoel nie.

Vertel ons bietjie van jou voorbereidingsproses. Hoe beïnvloed jou oefenprogram jou daaglikse lewe?
My oefenprogram vorm die senter van my hele daaglikste roetine. Ek is ’n professionele atleet, en toe ek daardie keuse gemaak het, het ek ook gekies om dit met volheid aan te pak. My daaglikste roetine begin gewoonlik met ’n oggendlopie, meestal die langste lopie van die dag. Daarna sal ek dan gereedmaak vir my tweede sessie van die dag. Dit kan enigiets insluit soos byvoorbeeld ’n gym-sessie, ’n fietsrit of self ’n stappie. Ek hou daarvan om dan ’n tweede, korter drafsessie te doen net voor ek die dag afsluit. Ander verpligtinge word tussenin ingepas. Ek is bevoorreg om ’n baie ondersteunende man te hê.
Hoe behandel die lewe jou en jou man, Duncan, in die Alpe waar julle nou bly?
Ek is baie baie lief daarvoor om tyd in die Alpe te spandeer. Dit is ’n veilige omgewing met talle plekke om voor te berei vir my resies. Ek verdeel my tyd tussen Frankryk en Suid-Afrika en tot dusvêr was dit nog altyd ’n goeie balans.
Is ‘n mens se geestelike voorbereiding net so belangrik soos die fisiese voorbereiding?
Definitief ja, ’n mens se gees moet net so sterk wees soos jou lyf.
Wanneer jou bene moeg is en wil opgee, moet jy kan staatmaak dat jou kop positief sal bly en jou tot by die eindstreep sal dra.
Hoeveel kilometers is daar in een paar tekkies?
Haha!! Dit hang maar af van die tipe skoen, maar gewoonlik kry ek so 800 km uit een paar tekkies uit.
Waarmee hou jy jou kop besig as jy oefen en dan as jy deelneem? Luister jy dalk musiek?
Ek verkies om sonder musiek te oefen, ek hou myself maar eerder geselskap. Tydens oefensessies moet ek daaraan werk om gemaklik te wees met my eie gedagtes en ook ingesteld te bly van hoe ek voel en die emosies wat ek beleef. Positiwiteit is baie baie belangrik. Tydens ’n resies is dite makliker om besig te bly in my kop, want die intensiteit is hoog.
Jy het vroeër vanjaar jou vierde Comrades gewen. Jy is die eerste Suid-Afrikaanse vrou wat daarmee kan spog. Hoe voel dit?
Dit is maar net ’n groot, groot voorreg en iets waarvoor ek werklikwaar so dankbaar is. Om dié resies te wen as ’n Suid-Afrikaner is so ’n ongelooflike ervaring. En om dit nou al ’n paar jaar te kon doen, stuur ’n boodskap aan jong atlete wat ook daarna streef om atletiek ernstig op te vat. Dit wys dat ’n mens dit jaar na jaar kan doen, solank jy net baie aandag gee aan jou gesondheid en voorbereiding. Die Comrades het my hele lewe verander en bring net sóveel vreugde vir my en my hele familie.
Verander elke Comrades-oorwinning jou?
Dit voel werklik of my hele lewe verander het as gevolg van die Comrades. Dit het my laat glo in myself en laat besef hoe ongelooflik die lewe kan wees wanneer jy doen waaroor jy passievol is!
Het jy raad aan ander vroue wat aan die Comrades wil deelneem?
Ja. Ons vrouens het ’n baie diepe krag in ons om groot uitdagings te kan hanteer. Niemand moet dink dat hulle nie in staat is daartoe om die Comrades te kan hardloop nie. Met toewyding, geduld en geloof kan enigiemand dit doen.









