Skrywer: Seugnet van Zyl
Foto: ‘n Paneel van vroue en die gehoor luister Saterdag (16 Augustus 2025) na dr. Jolyn Phillips by taalgesprek, Hoe beleef ons taal?, by die Historium-konferensiesentrum in die Paarl.
Interaktiewe taalgesprek
Ter viering van Taaldag en -maand het vyf uiteenlopende en formidabele vroue die onderwerp, “Hoe beleef ons taal”, die afgelope naweek (16 Augustus 2025) by die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Historium-konferensiesentrum in die Paarl bespreek.
Inge Kühne, redakteur van Rapport, het as gesprekleier van die paneel opgetree. Die paneel het bestaan uit die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, dr. Annelise de Vries, die skrywer, regisseur, filmmaker en akademikus, Mercy Kannemeyer, en dr. Lindie Koorts, historikus, en dr. Jolyn Phillips, kunstenaar, skrywer, digter, musikant en akademikus.
Met meer as 30 jaar ervaring as joernalis, was Inge die ideale gespreksleier. Veral ook omdat haar passie juis die behoud en ontwikkeling van joernalistiek in belang van die gemeenskap is en Rapport ‘n platform bied vir diepgaande gesprekke tussen en met alle Afrikaanses.
“Ons is almal Afrikaans en deel van ’n groot gemeenskap.”
Die gehoor het aan die vroue se lippe gehang toe hulle vertel het van hulle grootwordjare en veral hulle pad met Afrikaans.
Annelise is ’n toegewyde taalkundige en taalbeplanner met spesialisering in forensiese linguistiek en taalbeleid.
Sy het in Ermelo, Mpumalanga grootgeword en vertel haar pa was burgemeester van dié dorp in haar gr. 1 en 2-jaar en haar ouma aan haar pa se kant, was Italiaans.
Annelise het gesê sy het ’n baie groot sin vir dringendheid veral in die lig van Afrikaans wat vanjaar amptelik honderd jaar oud geword het.
“Ek is so dankbaar teenoor Afrikaans 100, wat die kollig op Afrikaans se geskiedenis geplaas het. Ons is by ’n kruispad. Ons moet nou doelgerig wees. Wat het van ons nasionale bate geword?”
Sy sê sy voel geroepe om doelgerig te beplan en die Akademie dien as platform vir doelgerigte beplanning vir Afrikaans.
“Ons almal moet saamstaan, saam dink en saam doen.”

Mercy was voorheen een van die skrywers op die kykNET-sepie Arendsvlei en sy was onlangs deel van die draaiboekspan vir Reënboogrant wat tans op kykNET en Showmax wys. Haar kortfilm, “Marie se laaste dag”, is verlede jaar as die beste kortfilm en beste kortfilm-draaiboek saam met Lourensa Eckhard aangewys.
Sy het vertel dat sy Afrikaans ontdek het deur ’n digter te wees.
“Die woorde het heeltyd gesit en wag. Daar is plek vir ons almal in hierdie taal.”
Volgens haar kom haar Afrikaans van oral in die land.
“Ek is ’n pastoriekind. Elke paar jaar word my pa beroep en dan moet ons weer trek. Voordat ek sewe jaar oud was, het ek al amper in vyf verskillende plekke gebly. Kan julle dink dié verkleurmannetjie wat hieruit gekom het?”
Mercy het haar laerskooljare op Amaliënstein naby Ladismith en Calitzdorp in die Wes-Kaap byna voltooi, voordat hulle weens haar pa se beroep weer moes trek.
“Daarso het baie van my Afrikaans gevorm. Kan julle glo ek het gebry? Ek was ’n plaaskind en dit was die lekkerste lekker.”
Oral waarheen hulle getrek het, het Afrikaans vir haar anders geklink.
By die Universiteit Stellenbosch is sy gevra: “Waar het jy geleer om sulke mooi Afrikaans te praat?” ‘n Vraag wat baie vrae by haar laat ontstaan het. Jare later het sy nesgeskop in Johannesburg waar sy voel die “politiekery oor Afrikaans” minder is.
Lindie is die skrywer van D.F. Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, ’n biografie van dié man wat Afrikaans ’n amptelike taal gemaak het.
Sy is in die Pretoriase Moot gebore en het in Hartbeespoortdam in Noordwes grootgeword. Sy was later in ’n Engelse skool in Sandton, Johannesburg.
Sy vertel sy het haar middae in die dorpsbiblioteek deurgebring.
“Ek het gelees, gelees en gelees. Afrikaans is vir my woorde en stories. Die boeke wat my die meeste in daai dorpsbiblioteek aangegryp het, was historiese romans. Daar is vir my iets aan ’n storie wat werklik gebeur het. Geskiedenis is vir my mense se stories.”
Jolyn se werk word gekenmerk deur ’n diepgaande verkenning van identiteit, gemeenskap en die menslike ervaring, veral binne die konteks van die Suid-Afrikaanse samelewing. Sy is ook ’n talentvolle verhoogkunstenaar en sanger/liedjieskrywer.
Sy is ’n trotse Gansbaaier en bly deesdae in Johannesburg.
“Die ding van ’n veelsydige Afrikaanssprekende persoon is dat jy kan val waar jy wil. As ek in die Kaap is, dan is ek ook nou daar. My mense is almal daar (in Gansbaai) geplant. My hele taal, my digkuns, my musiek, alles is daar geplant.”
Haar Afrikaans het vir haar “oopgegaan” in Genadendal, waar sy op hoërskool in die koshuis was.
“Die Afrikaans was ook daar anderste. Toe moes ek ook my bry weggooi.”
Inge het aan die paneel gesê dat sy as redakteur van Rapport ’n groot voorstander is om mense te laat “praat soos hulle is, want dit is wie jy is”.
Sy het hulle gevra of daar genoeg gedoen word vir inklusiwiteit in Afrikaans.
Jolyn het hierop geantwoord dat dit ‘n komplekse vraag is. “Ek wil deelneem aan die gesprek as Afrikaanssprekende in ’n Afrika-spasie. Volgens my gaan dit beter omdat ek in die kreatiewe wêreld werk en die geleentheid kry om saam met diverse mense te werk en met hulle te gesels. Die beste plek vir inklusiwiteit is in die kunste.”
Inge het gesê die Akademie se Taalkommissie doen wonderlike werk om ’n struktuur vir die variëteite van Afrikaans te skep.
“Dit moet geskryf word. Dit moet in die kunste gebruik word. As dít gedoen word, kan dit in ’n korpus opgeneem word. Dan kan dit verder gevat word. Dit is wat die Taalkommissie by uitstek reeds vanaf 1917 doen. Om ’n taal te nomeer,” het Annelise gesê.
Sy het verwys na die Afrikaanse woordelys en spelreëls (AWS).
Volgens haar loop die Taalkommissie vandag as’t ware “agter die taalgemeenskap aan om te kyk hoe mense die taal praat en skryf” en dan word dit opgeteken.
Inge het die gesprek afgesluit en die paneel en gehoor bedank.
“Ons besef ons was vir so lank van mekaar af weggehou. Vir so lank was daar daai versperrings tussen ons en nou is ons by ’n geleentheid en vandag simboliseer dit. Die pogings wat daar is deur die Taalmonument of televisie, die kerk of wie ook al … dit is wat vir jou sê: ‘Luister, praat soos jy praat’, want elke Afrikaanse persoon is Afrikaans op sy eie manier, maar op die ou einde is ons almal Afrikaans en deel van ’n groter gemeenskap.”









Dankie vir jul verslaggewing oor die geleentheid. Ons waardeer dit. Eerskomende Saterdag het ons nog een, maar nou gemik op die jeug. Sien https://taalmuseum.co.za/event/jong-stemme-vars-idees-kom-gesels-kreatief-in-afrikaans/