Skrywer: Seugnet van Zyl
’n Nuwe dokumentêre reeks oor Argentynse Boere
Die gasvryheid waarmee die storieverteller en reisiger Johan Badenhorst en sy span deur ’n groep Argentynse Boere in Suid-Amerika ontvang is, het hom diep geraak.
“Ons is met ope arms ontvang. Dis boeregasvryheid,” vertel Johan ná sy onlangse besoek aan Patagonië om ’n nuwe dokumentêre reeks vir kykNET te vervaardig oor die groep Argentynse Boere daar.
Patagonië is ’n streek aan die suidpunt van Suid-Amerika. Dit strek oor Argentinië en Chili en sluit die suidelike deel van die Andesgebergte in.
Tussen 1902 en 1906 het sowat 600 Afrikaners uit Suid-Afrika na Argentinië geëmigreer en vandag is daar steeds nasate van die groep Afrikaanse Boere wat in 1902 Argentinië toe is.
Johan, wat saam met lede van sy Voetspore-span, Simon Sonnekus, Adam Heyns en James Robb, ’n klankman, na Patagonië gereis het, verduidelik dat die Argentynse regering destyds die boere uitgenooi het om daar te kom bly.
“Hulle wou graag die suide van Argentinië of die Chubut-provinsie bevolk. Die grense was toe nog nie so duidelik getrek nie. Om te verhoed dat Chili daardie gedeelte inneem wou Argentinië toe sorg dat daar genoegsame mense is. Toe het hulle immigrante van dwarsoor die wêreld genooi. Hulle het gesien die boere is ideaal vir daai omstandighede. Hulle is skaapboere, die wêreld daar lyk omtrent soos die Karoo en daarmee het die boere ’n baie goeie rede gehad om Suid-Afrika te verlaat ná die gevolge van die Anglo-Boereoorlog.”
Volgens Johan is hulle baie trots daarop om boere genoem te word.

’n Aantal Boereafstammelinge tydens die 123-jarige viering van die Boere se aankoms in Patagonië.

Johan Badenhorst en die Suid-Afrikaanse vlag by die gedenkteken van die Boere se aankoms in Argentinië in 1902.

Simon Sonekus neem die Argentynse manier van braai (asado) af vir die nuwe dokumentêre reeks, Boere in Patagonië.
“Hulle noem hulleself die Boere.”
Hy sê hulle tref wel die onderskeid dat hulle Argentynse boere is.
Johan sê egter daar bly vandag meer mense van Walliese afkoms daar. “Hulle het om dieselfde rede as die boere daarheen gegaan: Hulle was kwaad vir die Engelse. Die Argentynse president het ’n baie sterk immigrasieveldtog van stapel gestuur. Patagonië is vandag eintlik maar ’n land van immigrante uit onder andere Duitsland, Wallis, Italië, Pole en Suid-Afrika.”
Soos net Johan kan, vertel hy hoe dié Boere as Afrikaanssprekendes daarheen verhuis het.
“Toe was daar nog nie ’n Suid-Afrika nie, nie eens ’n Unie van Suid-Afrika nie. Hulle verwys nog na Afrika as hulle land van herkoms. Daar is van hulle wat nog 100% suiwer Afrikaans praat. Hulle word al hoe minder en ouer, want hulle is al die derde en beslis die vierde geslag mense wat daar is. Dis wel fassinerend om hierdie mense daar te kry wat Afrikaans praat.”
Is dit die Afrikaans wat ons ken?
“Die Afrikaans wat die mense vandag nog daar praat, is ’n taal wat nie oor die afgelope 125 jaar beïnvloed is nie. Dié taal is amper in ’n tydkapsule vasgevang. Die taal wat in 1902 in Suid-Afrika gepraat is, is die taal wat steeds deur die mense daar gepraat word. Dit is Hooghollands omdat die amptelike taal toe Hollands was. Maar … hoe het die Boere op kommando gepraat, hoe het die mense op die kerkbasaar gepraat, of as hulle vir mekaar gaan kuier het? Dis dié taal wat die mense in Patagonië vandag praat.”

Johan Badenhorst saam met die 84-jarige Juan Schlebusch, een van die Argentynse Boere in Patagonië.

Johan Badenhorst, Stefan Sonnekus, Adam Heyns en James Robb het saam na Patagonië in Argentinië gereis om die Afrikaanse Argentyne daar te ontmoet.
Om mekaar te verstaan, was geensins moeilik nie.
“Ek is verstom oor hoeveel van hulle nog daar is en hoe sterk hulle nog hul Afrikaner- en boerekultuur koester. Dis vir hulle ontsettend belangrik om te weet waar hulle vandaan kom. Hulle is trots op hulle vanne.
“Die een ding wat nie verander het nie is hulle vanne. Daar is baie Krugers, baie Venters. ’n V word in Spaans uitgespreek as ’n B. So hulle praat van die Benters en die Ban der Merwes. Daar is Pelsers en ’n hele verskeidenheid van Afrikaanse vanne ook.”
In ’n baie groot mate beskou Johan hierdie Afrikaners as ons mense.
“Daar is klein nuanse-verskille. Die mans dra graag ’n nekdoekie soos ’n Spanjaard, wat ons boere nie gedra het nie.”
Johan sê dis ’n groter projek as wat hy aanvanklik gedink het.
“Dis omdat daar so min bekend is oor hierdie mense. Ek het meer romans gekry wat oor dié boere geskryf is as wat ek historiese of wetenskaplike publikasies oor hulle kon opspoor. Mens is op mondelinge vertellings aangewese, maar dis nou al die vierde geslag.”

In Comodoro Rivadavia in Argentinië word die koms van Boere in Argentinië gebruik om die aankoms van alle immigrante in die land te vier. Hierdie is Immigrasiedag, op 4 Junie 2025. Dit word elke jaar herdenk.
Hoekom is die Argentynse Boere se geskiedenis nie opgeteken nie?
Johan is van mening dat die afstand en die skeiding van die twee kontinente beslis ’n belangrike rol gespeel het.
“Die mense daar het nie soseer toegang gehad nie. Hulle het soms die Huisgenoot en Brandwag en Panorama, ’n publikasie van die destydse departement van buitelandse sake, gekry, maar hulle kon nie Afrikaanse radio luister nie. Hulle het nie Afrikaanse koerante gehad nie en die kontak tussen Suid-Afrika en Suid-Amerika was relatief beperk. Ons het baie meer kontak met Europa en Australië, Amerika en Noord-Amerika.”

’n Groepie vroue, almal afstammeling van die Boere, aan wie Johan Badenhorst elk ’n Kook en Geniet oorhandig het.
Die Argentynse Boervroue sal nou meer eg Afrikaans kan kook danksy die 25 Kook en Geniet-boeke wat Johan saamgeneem het.
“Ek het daar saam met die tannies gaan kook. Hulle het koeksisters gemaak. Hulle ken melktert, maar nie bobotie nie. Hulle braai natuurlik ook, maar dis ook ’n algemene ding in Argentinië. Hulle het vroeër jare ook biltong van wilde lamas (guanaco) gemaak.”
Johan vertel hoe hulle na ’n klein dorpie, reg aan die anderkant van die kontinent aan die voetheuwels van die Andesgebergte, gereis het.
“In die dorpie, Esquel, is daar ’n monument onthul wat die Boere se koms gedenk. Afstammelinge van ’n verskeidenheid ander lande was almal saam daar om dit te vier. Dis baie interessant. Ek dink hulle (die Argentynse Boere) het ’n belangriker rol as wat ons eintlik besef het aan hierdie kant.”
- Die nuwe kykNET-reeks, Boere in Patagonië, sal uit ses episodes bestaan en sal volgende jaar (2026) uitgesaai wod.
Vrywaring: Die verwysing na boere (Argentynse Boere/die Boere, en ook Argentynse Afrikaners) is in die geskiedenis gefundeer. Dit is ’n benaming wat destyds deur die immigrante self gekies is en met die verloop van tyd die “amptelike” naam geword het – ‘n benaming waarop die nasate baie trots is.







