Skrywer: Seugnet van Zyl
Mondvol-koekies steel harte
Andriëtte Georgiou is die skepper en eienaar van die Kaap-gebaseerde koekie-onderneming, Mondvol.
Haar reusekoekies het sedert 2023 dié voormalige musikant, geleentheidsbestuurder en MasterChef-naaswenner se loopbaan én lewe onherroeplik verander.
Andriëtte is die ma van Annabelle en haar baba word in Oktober vanjaar gebore. Haar man, Andrew, is ook by Mondvol betrokke.
Sukses is harde werk en kom nie oornag nie … wat is jou raad aan iemand wat ‘n onderneming wil begin.
Dit gaan alles oor balans. Besluit vir jou wat is die non-negotiables. Moenie wegbeweeg van die hart van jou besigheid nie of die hoekom agter wat jy doen nie. Maar in dieselfde asem, wees oop vir veranderinge wat sin maak. Sekere idees is dalk goed op papier of het ’n mooi bedoeling, maar dit maak nie sin vir die besigheid en om geld in te bring nie. Wees oop vir risiko’s. Soos hulle sê, neem calculated risks. Jy moet geld spandeer om geld te maak. Jou span is alles. Stel die regte mense aan om jou te ondersteun. Wees bereid om beheer oor te gee en vertrou dat die werk gedoen sal word.
Het jy navorsing gedoen voordat jy op die reusekoekies besluit het?
Absoluut! Navorsing moet konstant gebeur. Wat doen die res van die wêreld, veral in jou industrie? Jy moet weet wat is die nuwe tendense, die viral trend wat rondbeweeg en bly op jou tone daarmee. Weet wie is jou kompetisie en inspirasie.
Is jou span vroue met die hand uitgesoek? Hoe hou jy hulle gemotiveer?
Ons is nou al ’n span van 20! Daar was prosesse waar ek poste geadverteer het. Ander het deel van die span geword deur voorstelle van die span self. Ons is baie erg oor ons Mondvol-kultuur. Ons almal is baie positief, respekvol en hardwerkend. Dit is vir my bitter belangrik dat elke persoon voel hulle word raakgesien en dat daar spasie is vir groei. Ek glo ook dat die geld wat gemaak word, uitgedeel moet word! Hulle verdien elke sent!

Jy hou daarvan om te eksperimenteer en van daar die ongewone koekies en geure.
Aanvanklik is die nuwe geure geskep bloot oor die feit dat ek vinnig verveeld raak. Nou het my Limited Edition-bokse ’n tradisie en verwagting geword. Mense is mal daaroor om die nuwe geure uit te toets en dit hou dinge lekker interessant!
Wie eet die eksperimente en is daar flops ook.
Ek, haha! Ons deel enige flops uit in die span. As ons sien die koekie lyk bietjie vreemd, maar proe heerlik, verkoop ons dit by ons fabriekwinkel as ’n “oepsie” vir goedkoper.
Wat maak ‘n goeie koekie na jou mening?
Goeie bestanddele en komplementêre geure.
Het jy ‘n gunsteling- Mondvoel-koekie?
My Rooibos-koekie is my gunsteling!

‘n Tipiese dag in jou lewe.
Van seker maak my span is gereed, weet wat hulle moet doen vir die dag, koekietoetse, resepte-ontwikkeling, admin, video’s skiet, finansies bestuur, voorraad koop en bemarking behartig, is maar net ’n paar goed wat my besig hou.
Hoeveel koekies word daar daagliks gebak?
Ons bak tussen 2000 – 3000 koekies ’n dag.
Mondvol is onlangs as ’n finalis in die top 5-bakkerye in die Kaap aangewys. Hoe voel jy oor dié erkenning veral omdat jy ‘n Kapenaar is en Mondvol se fabriek ook onlangs in die Kaap geopen het?
Dit is ’n wonderlike en groot eer! Hierdie is werklik ’n droom! Wat dit nog beter maak is dat ek die sukses met my span en ongelooflike Mondvol-familie kan deel. Die sukses is ons almal s’n!
Jy het in die pandemie begin bak sodat jy huishuur kon betaal. Sou jy ooit kon raai dat jy vandag jou brood en botter met die bakkery verdien?
Nooit in my lewe nie. Die lewe is vol onverwagte avonture en draaie. Dit is ongelooflik wat gebeur as jy saam met dit begin beweeg in plaas van teen dit skop.
Hoe was jou ervaring op MasterChef en om as naaswenner gekroon te word?
Dit was ’n ongelooflike pinch myself-ervaring. Ek het regtig eers by die finaal begin glo ek staan regtig ’n kans om te wen. Dit het selfs my geloof verskriklik getoets en so het ek my selfvertroue begin bou. Vandag glo ek dat ek met selfvertroue groot drome kan aanpak!
Gebruik jy van dié beoordelaars se raad oor kos of meer spesifiek gebak vandag nog?
Die hooftema wat ek geleer het: Hou dit eenvoudig en smaaklik. Mens wil net lekker eet!
Hoe het jy op die naam Mondvol besluit?
’n Goeie vriendin het saam met my gesit toe ek werkloos en gefrustreerd was. Sy het genoem: Begin ’n Instagramblad! Sy het toe die naam: Mondvol voorgestel.
Vir Vrouemaand het Mondvol ‘n “ikoniese vrouekoekieboks”. Het jy dit spesiaal geskep?
EK wou graag iets spesiaals doen vir Vrouemaand en kon aan niks beter dink as ’n boks koekies wat opgedra word aan vrouens wat my inspireer nie.

Hoe het jy die koekiegeure aan die ses vroue, Zola Nene, Ina Paarman, haar mamma, Mondvol Queens, Rachel Kolisi en Tatjana Smith gekoppel?
Ek het elke vrou gevra wat hulle gunstelinggeure is! Party het my kop omtrent laat draai met kreatiwiteit om hulle gunstelinggeure vas te vang. Dit was regtig so lekker!
Watter vroue inspireer jou?
Elke dag inspireer die vrouens in my kombuis my. Ek verkyk my aan hulle positiewe uitkyk op die lewe. Dan natuurlik my ma en susters. Ek is ontsettend dankbaar vir die ongelooflike sterk vrouens wat my omring.









Pragtig hoe en waar kan ons aankoop of bestel