Persverklaring
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het as deel van sy weeklange 150-jarige viering van die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 12 Augustus sewe uitstaande taal- en kultuurpioniers tydens ’n Prestige-oggendtee in die FAK-Liedjietuin by die Voortrekkermonument vereer.
Hierdie besonderse geleentheid gee erkenning aan individue wat hul lewe en loopbane daaraan gewy het om ons ryk taal, kultuur en geskiedenis te bevorder, beskerm en vir toekomstige geslagte te bewaar.
“Ons vier nie net ’n taal se verlede nie,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK.
“Ons bou ’n lang tafel waaroor geslagte heen gesprekke gevoer kan word – met tee, stories en lag, soos net Afrikaanse gemeenskappe dit kan doen.”
Dié toekenningsgeleentheid is ’n jaarlikse hoogtepunt op die FAK-kalender en word in 2025 juis tydens die GRA-week aangebied – ’n simboliese erkenning van die historiese stigting van die GRA in 1875.
“Die GRA het die grondslag gelê vir Afrikaans as ’n volwaardige kultuur- en omgangstaal. Om 150 jaar later steeds voort te bou op daardie nalatenskap, is ’n ongelooflike voorreg,” sê Ziegfried van Huyssteen, bedryfshoof van die FAK.
Vanjaar se toekennings eer buitengewone individue wie se werk en toewyding ’n blywende impak op Afrikaans gemaak het.
In velde soos opvoeding, kuns, akademie en joernalistiek dra elkeen op ’n unieke wyse by tot die bewaring, groei en viering van die taal.
Dr. Theuns Eloff is vereer vir sy dienswerk om ’n toekoms vir Afrikaans te help skep. “Ek is dankbaar vir die werk wat ek kon doen en dis verblydend om te sien dat ons jongmense gereed is om die taalfakkel die toekoms in te dra.” Die toekenning is veral besonders omdat dit nie net die GRA 150-vieringe is nie, maar ook die eeufeesviering van Afrikaans as amptelike landstaal. Eloff is die voorsitter van die oorsigkomitee wat die Afrikaans 100-veldtog landwyd stukrag gee.

Lucia van Wyk, uitvoerende hoof van die BCVO, is vir die bevordering van selfstandige Afrikaanse onderwys erken. “Die GRA 150- en Afrikaans 100-herdenkings vanjaar is groot mylpale. Ek besef wat is, is net genade; wat ons het, is net geleen. Ons is rentmeesters wat die toekoms moet bou, en wat ’n voorreg is dit nie om dit vir die jeug te doen nie,” sê sy. “Mag ons die aflosstokkie met gesag en trots verder dra, en die heel belangrikste, dit aan die volgende geslag oorgee.”

Jopie Koen is vereer vir die bevordering van die Afrikaanse teaterwese deur onder meer die vestiging van die Pierneefteater. Haar nalatenskap as die stigter van die Pierneefteater, asook as navorser, digter, kultuurorganiseerder en gemeenskapsdienswerker vorm ’n onuitwisbare deel van die Afrikaanse kultuurerfenis.

Prof. Franci Greyling ontvang ’n Prestigetoekenning vir die bevordering van kreatiewe Afrikaanse skryfkuns. ’n Kernbydrae is haar rol in die skepping van Storiewerf, wat vanjaar sy 25ste bestaansjaar vier. Storiewerf het ’n ruimte vir jong en opkomende skrywers, asook duisende kinders geskep, lank voor die digitale era.

Wessel Oosthuizen is vereer vir die bevordering van Afrikaanse joernalistiek in woord en beeld. Oosthuizen het ’n loopbaan wat oor ses dekades strek, waarin hy die visuele geskiedenis van ons land vasgevang het, en ’n unieke blik op Suid-Afrikaanse sport en nuuswaardige gebeure gebied het. Met sy kamera het hy ’n visuele nalatenskap van onskatbare waarde verewig.

Prof. Thys Human is ’n toegewyde akademikus en is vereer vir die bevordering van Afrikaans as akademiese taal, en sy betekenisvolle bydrae tot die verdieping en bevordering van die Afrikaanse letterkunde en kultuurerfenis. Hy doseer sedert 2013 aan die Noordwes-Universiteit, en sy nalatenskap lê ongetwyfeld in die jong akademici en studente wat hy gevorm en gelei het.

Aan prof. Hennie van Coller, professor emeritus en navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Vrystaat, is die toekenning oorhandig vir die bevordering van Afrikaans as akademiese taal. Hy word beskou as een van die belangrikste akademiese stemme in die Afrikaanse literatuurgeskiedenis. “Dat daar erkenning vir my werk is, is ’n eer, want waardering is geen gegewe nie. In my lewe het die meetsnoere inderdaad in lieflike plekke geval,” sê hy.

“Die FAK-Liedjietuin, waar talle kunstenaars met liedjieborde en naamrose vereer is wat ’n vormende impak op Afrikaans gehad het, het ’n besondere simboliek en stylvolheid aan die oggend verleen. Hier, tussen die name van dié wie se stemme en wysies deur geslagte eggo, word gehuldig en gevier. Dit is danksy die baanbrekerswerk van húlle wat bereid is om moue op te rol en te plant, wat Afrikaans die toekoms in sal groei en gedy,” sê Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die Kultuurtuiste.








