Skrywer: Seugnet van Zyl
Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), wat volgende jaar honderd word, is as’t ware ’n spieël waarin elke spreker van Afrikaans hom- of haarself moet kan herken.
Dr. Gerda Odendaal, mederedakteur van die WAT, sê as die omvattende, beskrywende woordeboek van Afrikaans, is dit die taak van die WAT, soos dit reeds in die eerste deel van die WAT verwoord is, “om, so volledig moontlik, ’n beeld te gee van die Afrikaanse taalskat in sy ruimste omvang”.
Odendaal verduidelik dat dit nie net Standaardafrikaans insluit nie, maar ook geselstaal. Dit sluit dan woorde soos oukei in. In gewestelike of streekstaal is woorde soos roloppie vir duisendpoot, en ander variëteite van Afrikaans soos byvoorbeeld salaam uit Arabiese Afrikaans, verouderde woorde soos skalk vir ’n skelm of deugniet ook deel van die WAT.
Odendaal sê vakterme soos stenose wat in die anatomie gebruik word, vreemde woorde of leenwoorde soos lingua franca wat aan Italiaans ontleen is en handelsname wat ’n besondere betekenis in Afrikaans aangeneem het soos sellotape vir kleeflint is ook in dié omvattende woordeboek vervat.
Sy sê sekere eiename wat ’n besondere betekenis in Afrikaans aangeneem het soos Jan Alleman, sekere geografiese name soos Namakwaland, afkortings soos SARS/Sars, nuutskeppings soos hommeltuig vir die Engelse drone en selfs vloek- en vuiltaal en kwetsende woorde is als in die WAT.
“Die WAT sê nie vir Afrikaanssprekendes hoe hulle die taal moet gebruik nie, maar gee eerder ’n beeld van Afrikaans soos wat mense dit elke dag gebruik.”
Die WAT is een van die kosbaarste diamante van Afrikaans
T.T.Cloete
(5 September 2008)
Die WAT is een van die omvangrykste en langdurigste leksikografiese projekte in Afrikaans en word beskou as die sogenaamde identiteitsdokument van dié taal.
Odendaal en dr. Phillip Louw, sê om die rykdom van Afrikaans só te illustreer verg intense speur- en sleurwerk.
Louw sê hulle werk daagliks met die “skatkamer van Afrikaans”.
“Benewens Standaardafrikaans, word streektaal en geselstaal en ander variëteite van Afrikaans in die WAT opgeneem. Ons wil nie net die variëteite van Afrikaans bevorder nie, maar aan Afrikaanse mense se taal erkenning gee. Dit erken hulle menswees.”
Odendaal beaam dat die WAT ’n tuiste vir almal is.
Sy bevestig dan ook dat almal werksaam by die WAT nie skeppers van die taal is nie, maar eerder beskrywers.
Die ontstaan van die WAT
Die idee van ’n woordeboek vir Afrikaans het op ’n kongres van die Afrikaanse Taalvereniging wat in 1914 in Stellenbosch gehou is, ontstaan. Daar is besluit dat ’n tweetalige Afrikaans-Engels/Engels-Afrikaanse woordeboek saamgestel moes word deur ’n kommissie. Prof. JJ Smith, wat pas as dosent in Frans en Duits aan die Universiteit Stellenbosch (US) aangestel is, sou deel wees van hierdie kommissie. Benewens die tweetalige woordeboek, is ’n standaardwoordeboek van Afrikaanse woorde en idiome ook in die vooruitsig gestel.
Dit was egter eers in 1920, in dieselfde jaar waarin Smith as die eerste professor in Afrikaans aan die US aangestel is, wat die saak verder gevoer is. Die Nasionale Pers het Smith genader om met die opstel van ’n woordeboek te help.
Op 25 Maart 1926 is die ooreenkoms tussen Smith, Die Nasionale Pers en die US vir die opstel van die beoogde woordeboek met behulp van staatsteun bekragtig met die sluiting van ’n kontrak tussen Die Nasionale Pers en die toenmalige minister van onderwys en binnelandse sake, DF Malan.
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) is ’n korter, bondiger verklarende woordeboek in ’n enkele volume, in vergelyking met die omvattende WAT, soortgelyk aan die Concise Oxford Dictionary en die Oxford English Dictionary, wat uit verskeie volumes bestaan.
In 2023 is die letter T aanlyn gepubliseer en in 2024, die letter U. Die verwagting is dat die letter Z teen 2028 klaar moet wees.
Lees ook hier.







