Skrywer: Anoniem
Gesonde tjips vir tussenin peusel
Bros en krakerige tuisgemaakte groentetjips is ‘n heerlike alternatief vir die minder gesonde pakkies skyfies waaraan ons so graag peusel. Groente soos patat, botterskorsie, beet, geelwortel en witwortel is ideaal, propvol vitamiene, antioksidante en vesel.
Hoekom is groenteskyfies goed vir jou?
Patats: Propvol beta-keratien (vitamien A) vir ‘n blosende vel.
Botterskorsie: Loop oor van vitamien C om jou immuunstelsel ‘n hupstoot te gee.
Beet: Hoog in nitrate – goed vir bloedvloei en energie.
Witwortel: ‘n Uitstekende bron van folaat vir die herstel van selle.
Omdat die antioksidant- en voedingsvlakke afneem wanneer die skyfies gebraai word, beveel ons aan dat jy jou lugbraaier inspan as jy een het.
So maak jy in die lugbraaier:
- Sny jou groente baie dun met ‘n aartappelskiller of ‘n mandolien.
- Skud die gesnyde groente in ‘n bietjie sonneblomolie en sout.
- Versprei in ‘n enkellaag in die lugbraaiermandjie.
- Kook teen 160˚ C vir 10 – 15 minute – onthou om die mandjie halfpad deur te skud.
Op die stoof:
- Verhit die sonneblomolie in ‘n pan (medium-hittegraad).
- Braai die dungesnyde groente in klein hoeveelhede vir 1 – 2 minute tot bros.
- Dreineer op papierhanddoek en sprinkel met seesout.
Geniet!
As jy nie alles op een slag opgeëet het nie (regtig?) kan jy dit in ‘n lugdigte houer bêre. Dit sal ‘n paar dae lank bros bly.
Bron: Blooming Healthy Nutrition – Facebook







