Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Prog
Praktiese wenke om jou kind by te staan in die proses van selfregulering
In hierdie inligtingstuk word daar aan die hand van die sesletter-akroniem K.A.L.M.T.E. gekyk na maniere waarop ons as ouers en onderwysers dit vir kinders makliker kan maak om hulself te leer reguleer.
1. Konsekwentheid
Roetine en voorspelbaarheid help om ‘n jong kind se gemoed te stabiliseer omdat dit die moontlikheid verminder dat die kind teleurgestel of onkant gevang sal word soos wat hy of sy deur die dag beweeg.
Gevestigde eet- en slaaproetines ondersteun ook die kind se biologiese klok en verhoog die kans dat sy of haar behoeftes betyds en voldoende bevredig sal word.
1.1. Maak ’n visuele uitbeelding van jong kinders se daaglikse roetine wanneer ’n nuwe roetine bekendgestel word, of wanneer daar ’n groot verandering in die kind se lewe plaasgevind het — soos om te verhuis, of nadat ’n nuwe baba opgedaag het.
1.2. Gebruik ’n sigbare horlosie met ’n lang- en kortwyser en syfers van 1 tot 12, sodat jy ’n merkertjie op ’n plek op die horlosie kan plak om aan te dui waar die wyser moet wees vir die volgende aktiwiteit om te begin.
1.3. Gebruik spesiale liedjies wat by spesifieke gebeure pas om daardie gebeure aan te kondig, en maak dit pret om saam te sing en al hoe meer die woorde te onthou.
Die volume en karakter van die musiek kan die emosie en atmosfeer van die aktiwiteit ondersteun.
1.4. Waarsku vroegtydig wanneer die oorgang na ’n nuwe aktiwiteit gaan vereis dat die kind sal moet ophou om iets te doen wat vir hom of haar lekker is.
2. Afkoelmandjie
‘n Afkoelmandjie help om emosionele selfregulering te normaliseer.
Dit kommunikeer aan ’n kind dat dit normaal is om soms af te koel en dat dit sy of haar verantwoordelikheid is om saam te werk.
Die mandjie plaas die kind in ’n oogwink in ’n bekende, kalmerende omgewing, omring deur voorwerpe wat kan help om te selfreguleer.
Voorwerpe wat ingesluit kan word, sluit die volgende in: ’n bekende boek, ’n stresbal, ’n sensoriese bottel, ’n spieël, prente van emosies, en ’n blaaswindmeul (pinwheel).
1.1. Stel die voorwerpe vooraf bekend en demonstreer hoe om dit te gebruik sodat die kind dit met kalmerende ervarings assosieer en weet hoe om dit te gebruik.
1.2. Bekendheid is gerusstellend. Dis nie nodig om die inhoud van die mandjie af te wissel om dit interessant te probeer hou nie.
3. Leer emosies beter ken
Emosionele intelligensie staan op 5 bene: (1) om emosies in jouself te kan identifiseer, (2) om emosies in jouself te kan hanteer, (3) die vermoë om te midde van groot emosies gemotiveerd te bly, (4) om emosies in ander te identifiseer, en (5) om emosies in ander te kan hanteer.
Om emosies in jouself te kan identifiseer en benoem is in die lig van die bogenoemde die eerste, fundamentele emosionele vaardigheid.
Om oor jou eie emosies na te dink deur dit te identifiseer en benoem is ‘n metakognitiewe vaardigheid wat twee groot voordele inhou:
- Dit gee vir kinders selfvertroue dat hulle kan leer om emosies in hulself én in ander mense te hanteer,
- Iemand wat in ‘n emosie-belaaide situasie in staat is om na te dink oor die emosies wat hy of sy beleef word bemagtig omdat die logiese brein in die proses geaktiveer word. Die waarskynlikheid dat so ‘n persoon ‘n “amygdala-kaping” sal beleef word dus kleiner.
3.1. Gebruik stories om emosies in konteks uit te lig en te bespreek, en gee spesifiek aandag aan karakters se gesigsuitdrukkings en liggaamstaal in illustrasies.
3.2. Wys vooraf vir kinders hoe om ‘n spieël te gebruik saam met ‘n stel emosiekaarte waarop basiese gesigsuitdrukkings uitgebeeld word.
Wys vir hulle hoe om ‘n speletjie daarvan te maak om hul eie gesigsuitdrukking in die spieël dop te hou terwyl hulle die afbeeldings op die kaarte een vir een probeer naboots.
*Hierdie stel kaarte kan dan saam met die spieël verpak word in die afkoelmandjie wat hierbo bespreek is, sodat dit beskikbaar is vir kinders wanneer die nood druk.

4. Maak keuses
Om keuses te maak bevredig ’n hartsbehoefte by kinders omdat hulle ‘n diepgesetelde behoefte het om geleidelik meer onafhanklik te word.
Gevolglik hanteer kinders groot emosies makliker wanneer hulle in die proses toegelaat word om keuses te maak wat hulle belangrik en “groot” laat voel.
Dis asof die opwinding van die keuse die negatiewe emosionele ervaring oorskadu, of dit ten minste buffer.
Dis ons as ouers en onderwysers se rol om versigtig te besluit watter keuses binne ons kinders se sfeer van verantwoordelikheid en begrip val, sodat daar ‘n gesonde balans is tussen hulle strewe na outonomie en die volwasse leiding wat ons vir hulle moet gee.
So sal ‘n kleuter byvoorbeeld toegelaat word om te kies of hy of sy ‘n baadjie of ‘n trui wil aantrek as dit koud is, maar nie toegelaat word om te kies om glad nie ‘n warm kledingstuk aan te trek nie.
5. Tasterapie
Diepdruk op ‘n mens se spiere en gewrigte het nie net ‘n kalmerende uitwerking nie. Dit lei ook tot die afskeiding van oksitosien, ‘n hormoon is wat kinders (en grootmense) meer aanpasbaar, ontvanklik vir invloed en emosioneel veerkragtig maak.
Tasterapie behels simmetriese drukbewegings op ‘n kind se arms, bene en kop terwyl die kind met sy of haar rug in jou rigting op jou skoot sit.
Begin deur albei jou hande om jou kind se skouers te plaas asof jy twee tennisballe vashou. Druk-en-laat-gaan dan vandaar met altwee jou hande gelyktydig in die rigting van jou kind se hande.
Herhaal hierdie bewegingspatroon op jou kind se bene, deur by die heupe te begin en by die voete te eindig.
Verskuif dan jou hande na jou kind se kop en plaas dit oor sy of haar ore, asof jy ‘n netbalbal vashou.
Herhaal die reeks bewegings in hierdie volgorde.
5.1. Die beste tye van die dag om tasterapie te doen is soggens, direk nadat ‘n kind wakker geword het; direk nadat julle van dagsorg af tuisgekom het, of saans met slaaptyd.
5.2. Herhaal die reeks bewegings ononderbroke vir minstens vyf minute om seker te maak dat die boodskap goed oorgedra word.
6. Een-tot-een speeltyd
Een-tot-een speeltyd word in Engels “special time” genoem. Dis deesdae ‘n baie gewilde konsep onder terapeute en lewensafrigters wat op ouer-en-kindverhoudings fokus.
Dit behels om gereeld alleentyd met elke kind deur te bring. Tydens hierdie spesiale tyd val die klem daarop om spontaan, sonder skerms, en onverstoord saam tyd te spandeer.
6.1. Kondig aan dat jy een-tot-een speeltyd met die kind wil spandeer.
6.2. Gebruik jou kind se naam om na hierdie spesiale ervaring te verwys, bv. “Wanneer ons vanmiddag by die huis kom, kan ons weer tyd maak vir Gertjie-tyd. Ek sien baie uit daarna!”
6.3. Stel telkens ‘n wekker vir minstens 15 minute of meer sodat julle tyd saam op ‘n spesifieke tyd begin en eindig.
6.4. Maak beurte om te kies wat julle gaan doen en laat jou kind toe om besluite te neem tydens hierdie tydjie sonder om hom of haar gereeld voor te skryf of reg te help.

Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Om meer te leer oor die AON, klik hier.








