Persverklaring
Die 13de Silwerskermfees spog met ’n ryke oes van 21 kortfilms, waaronder dokumentêre, onafhanklike kortfilms, asook kortfilms deur gevestigde én opkomende filmmakers. Ook word ses vollengte speelfilms, waarvan vyf debute van die betrokke regisseurs is, bekendgestel.
In 2025 is daar sewe dokumentêre prente op die program teenoor verlede jaar se vyf. Onderwerpe wat in dié films gedek word, is uiteenlopend – van die Marikana-slagting en die oorgang na demokrasie in 1994, tot die tragiese verdrinking van ’n bekende Springbok-rugbyspeler se babaseun. Laasgenoemde is verlede jaar as ’n konsep by die fees se Silwermark voorgelê.
“Die Silwerskermfees bring denkers, doeners, makers en towenaars oor generasies en provinsies heen saam in die naam van film,” sê Waldimar Pelser, direkteur van M-Net se Premium-kanale.
Vanjaar vind die fees van Woensdag tot Saterdag, 20 tot 23 Augustus, by die Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaas.
Waldimar beskryf die 13de Silwerskermfees as ’n viering van ’n wonderlike kunsvorm. “Vir dié medium om te floreer, moet wyd uiteenlopende vaardighede in die pot gegooi word wat die palet van gehore stimuleer.
“Mense wat na films kyk, wil graag iets voel,” sê hy, “want almal smag soms daarna om te ontvlug of net te reflekteer. Of om ’n katarsis te ervaar.”
Vir reeds meer as ’n dekade word dié gewilde fees as een van die mees gerespekteerde ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf beskou. En sedert sy ontstaan bou kykNET al die pad daarop voort.
“Elke jaar kry die Silwerskermfees dit reg om hulself te oortref,” sê Waldimar. Fliekvlooie kan gereedmaak om die beste van ons plaaslike produksies te sien.
“Die verskeidenheid van dit wat in Afrikaans geskep word, is duiselingswekkend en inspirerend. Dit gee kykNET opnuut rede om ’n beduidende belegging in Afrikaanse films te maak.”
Speelfilm: My f*k, Marelize!
As regisseur bring die filmmaker Zandré Coetzer dié Namibiese familieverhaal na die grootskerm met My f*k, Marelize!, ’n hartroerende en humoristiese film, geïnspireer deur die Horn-gesin.

Zandré vertel meer:
Je-ani Swiegelaar vertolk die rol van die ma, Heidi, en Zandélle Meyer is die dierbare Marelize. Hoe het julle die rolverdeling benader?
Die rolverdeling was absoluut sentraal. As jy regte mense moet uitbeeld, soek jy meer as net talent en iemand wat soos die karakter lyk. Daarvoor het ek geweet ek het reeds ’n grimering- en garderobe-span wat magic kan maak. Jy soek teenwoordigheid en ’n gevoel van egtheid. Ons het nie die akteurs volgens voorkoms gekies nie; ons het eerder gefokus op die energie tussen hulle voor die kamera.
Ek het Je-ani jare gelede tydens oudisies vir ’n ander projek ontmoet en ek was toe reeds beïndruk. Hierdie keer was die tyd en die projek nommerpas, en gelukkig was ’n speelfilm ook op haar wenslysie. Je-ani, tesame met Zandélle, Neels Clasen en Nichola Viviers, het vir ons die Horns se dinamika met humor, egtheid en siel laat voel. Dit was regtig ’n ongelooflike rolverdeling.
Hoe balanseer jy vermaak met respek wanneer jy regte mense in ’n speelfilm moet uitbeeld?
Dis ’n delikate balans. Jy werk met regte mense, so as jy dit nie met respek aanpak nie, stel jy hulle regtig teleur. Ons het die storie benader soos iemand wat die verhaal van ’n mal aand oorvertel … Dalk dramaties, dalk deurmekaar, maar met die gevoel van waarheid.
Ons het doelbewus elemente van vermaak ingesluit, maar altyd met die Horns se essensie in gedagte. Die film moes voel soos ’n tuisvideo – eerlik en intiem. Ons het selfs by die kankerorganisasie waar Heidi werklik behandeling ontvang het, geskiet. Ons wou hul wêreld so getrou as moontlik vasvang. Meeste goed in die draaiboek het werklik gebeur, dalk net nie in daardie week of jaar nie.
Wat het julle in hierdie storie laat belangstel en hoekom dink julle werk dit as speelfilm?
Ek en Brett Michael Innes, die draaiboekskrywer, wou lankal al saamwerk. Soos mense wat aanhou belowe hulle gaan nog saam braai! En toe besluit ons dit is nou of nooit. Hy’t nog lank ná die video uitgekom het daaroor getob, en toe met Marelize begin gesels. Ons het besluit om Namibië toe te gaan om die Horns te ontmoet. Tiaan, Marelize se pa, het ’n lekker kroeg by sy huis en daar het ons gesit, stories gedeel en besef daar’s baie meer aan hierdie gesin as net ’n snaakse video.
Hulle het my herinner aan vakansies by my ouma, met kos, speelkaarte en liefde sonder woorde. Brett het later gesê ek moet regisseer, want ek het hul hart verstaan. Ons het geweet ons wou nie nóg ’n disfunksionele gesin uitbeeld nie, ons wou iets wys wat warm, herkenbaar en liefdevol is. Die Horns is ’n goeie, gesonde familie.
Het julle van die begin af daardie lae in die film gesien, of het dit tydens die proses ontvou?
Ons het met ’n raamwerk begin, maar alles het verdiep toe ons hulle ontmoet. Die Horns het ons vertrou met hul storie, iets waarvoor ek baie dankbaar is. Hulle was nie betrokke in die verfilmingsproses nie, maar hulle het ons visie volkome vertrou. Hulle het self nog nie die finale film gesien nie, só groot is hul vertroue.
Wedersydse respek en oop kommunikasie was noodsaaklik. Ons gesamentlike doel was om ’n film te maak wat mense inspireer en herinner aan ’n eenvoudiger tyd, voor dinge so gejaagd geraak het en alles om tegnologie begin draai het.
Hoekom dink jy het Heidi en Marelize so ’n sensasie geword? Watter emosies dink jy het dit by mense ontlok?
Dit was daardie perfekte epic fail-oomblik, iets waarna ons almal bly soek op sosiale media. Maar wat dit onvergeetlik gemaak het, was Heidi se rou, eerlike reaksie. Iets in haar uitroep was so menslik, so universeel, dat mense dadelik daarby aanklank gevind het.
Ek dink dit het mense laat voel asof hulle nie alleen in hul foute en flaters is nie. Dat dit oraait is om jouself te wees en om ’n bikini aan te trek, al voel jy nie volmaak nie. Die video het iets van ’n stuk menslikheid en selfaanvaarding losgemaak. En dít is die kern van die film.
By familie kan jy wees wie jy is. Hulle rol hul oë vir jou, maar ondersteun jou ook onvoorwaardelik. Dit is die tipe warmte wat ons gehoop het om met My f*k, Marelize! by kykers aan te wakker.
Daar is ’n tweede vertoning van My f*k Marelize! op Saterdag 23 Augustus om 11:30 by die Silwerskermfees. Kaartjies beskikbaar by Quicket.
Kyk die lokprent hier.
Lees meer hier.







