Skrywer: Nicolette Kritzinger
Ek haat mayonnaise. Dis ’n satansmeer. Het iemand in 1756 regtig gedink dis ’n goeie idee om ’n eier bang te klits, dit in ’n plastiekbottel te druk en op ’n onskuldige kind se poloniebroodjie te plak?
Die vrou langs my staar lank na die opsies. Ek het nie geweet mens kan so lank dink oor mayonnaise nie. Uiteindelik strek sy haar hand uit en lees die etiket op die bottel. “Double thick.” Uiteindelik. Iets waarmee ek kan identifiseer.
Sy lyk moeg. Haar man het seker ’n wilde braai gereël en nou rus die onus van ’n aartappelslaai op háár. Dis die tipe moegheid wat jy gereeld by mense bo 30 sien. Die honeymoon-fase van die lewe is uiteindelik verby, jou eens mooie ridder op die wit perd is nou liewer vir die Springbokke as vir jou, sy onderste knoop kan nie meer toe nie en daai blerts tamatiesous op sy hemp is van twee aande terug.
“Kan ek help?” Dit sal my leer om te staar.
“Nee, nee, skies, ek sien dis ’n nuwe soort mayonnaise.”(Leuen)
“Ja, ek haat dit, maar die kinders en my man hou daarvan. ’n Aartappelslaai is blykbaar nie dieselfde sonder dit nie.” (Ek was reg)
Ek knik my kop en gee ’n benoude laggie terwyl sy till toe stap.
Ek kan nie help om haar jammer te kry nie. Ek wonder of dit die lewe is waarvan sy gedroom het? Ek wonder of sy ook haar dertigs betree het met die belofte dat dit haar dirty thirties gaan wees. Net om drie jaar later uit te vind die “dirty” verwys eintlik na die kwylkol wat jou kind vyf dae terug op jou gunstelinghemp gelos het.
Almal praat altyd met soveel opwinding oor jou twintigs, maar niemand praat ooit oor hoe verwarrend jou dertigs is nie.
En die ergste is, die gewaarwording kom oornag! Jy word een oggend wakker en skielik dink almal jy is ’n grootmens. Ek onthou die dae toe my grootste bekommernis was of Spur nog hul Maandag two-for-one burger special gaan hê en of die tafel by Aandklas my gewig sal dra as ek vanaand na twaalf begeesterd voel.
Nee, skielik draai gesprekke om annuïteite, die fermheid van jou kind se stoelgang en watter waspoeier vetkolle die beste verwyder. Ek was nou die aand by ’n braai en ’n volle uur is gewy aan die onderbou van Bosch se nuwe wasmasjien. Dit was ongelooflik en angswekkend op dieselfde tyd.
Ek het nog altyd gedroom oor my dertigs. Ek sou ’n meestersgraad hê in iets wat jy met trots vir jou pa se vriende by ’n braai kon sê. Ek sou my naels een keer ’n maand laat doen, slegs organiese water by Woolworths koop en ’n boekklub begin wat eintlik net een keer ’n week bymekaarkom om cocktail-resepte uit te ruil. Ek sou nie my tan by Clicks hoef te koop nie en ek sou bobene hê wat my sou toelaat om tights in die openbaar te dra. Ek sou uitspattige aandetes by my huis kon hou – ’n geurige tuisgemaakte pasta kon voorsit wat nie uit ’n ready-made plastiekpakkie kom nie. Dit sou al dente wees en ek sou selfs daai woord met selfvertroue in die publiek kon uitspreek.
Maar kom ons wees nou eerlik. Ek en jy weet dis nie hoe die lewe werk nie. Hierdie is Bellville, nie Hollywood nie. Ek het nie geld om elke tweede week my naels te laat doen of die postuur om ’n Charlize Theron op my klein dorpie te trek nie, so hier is ek nou: 30 jaar oud en ek weet nie hoe om ’n witsous sonder klonte te maak, my kar se wiel te ruil of om my eie SARS-dokumente in te dien nie. En ek weet nie van jou nie, maar ek voel altyd net so klein bietjie vetter as wat ek graag sou wou wees.
Iemand na wie ek baie opkyk sê nou die dag vir my: “Jy weet, die lewe begin eintlik eers op 30.”
En ek dink hy is reg. Dit voel party dae of ek weer begin loop. Of ek weer moet leer om my vurk vas te hou. Ek soek soms in krisissituasies na die grootmens in die vertrek. Húlle sal dit kan hanteer. En dan besef ek … dis ek. En dis ’n angswekkende gedagte.
Hulle sê altyd jy is 30 and thriving. Maar dalk is dit oukei om net te sê jy is 30 and surviving.
Ek moet bieg oor iets. Ek hou eintlik van mayonnaise. Ek het net vroeër gesê ek hou nie daarvan nie, want ek weet nie hoe om die ratio daarvan reg te kry in ’n aartappelslaai nie. Dis altyd te suur of te soet. En nes Katryntjie voor die mayonnaiserak het ek gisteraand op ’n WhatsApp-groep verklaar dat ek vanaand die aartappelslaai vir tien gaste by ’n braai sal voorsien.
Ek stap sonder skaamte na die yskas in die winkel met die klaargemaakte aartappelslaaie.

Gaan ek dit uitgooi in ’n mooi slaaibak en dit vanaand bedien? Ja.
Gaan ek vir almal sê ek het dit self gemaak? Absoluut.
Miskien sal ek op 40 weet hoe om ’n aartappelslaai te maak. Miskien nie.
En dit, vriende … is ook oukei.








