Skrywer: Seugnet van Zyl
Foto: Susanne Beyers in Die Kwiksilwers
Haar stem wink jou nader.
Dis gulhartig.
Jy wil amper jou skoene uitskop om nader aan haar op ’n mat te gaan sit, waar sy met jou sal gesels en dalk selfs ’n stukkie uit Tolstoy se War and Peace, wat sy nou lees, vir jou sal voorlees.
Dan kom haar lag by en voel jy tuis in haar teenwoordigheid.
Selfs oor die foon kry Susanne Beyers dit reg om jou só te laat voel.
Buiten vir die verskeie radiodramas en televisiereekse waarin Susanne al gespeel het, was sy boonop in die middel tagtigs tot aan die einde van 1994 ’n platejoggie, bekend as Suzy B, op Radio Algoa in Port Elizabeth. Sy was al ’n televisie-aanbieder ook, en vir twee verkiesings ná 1994 ook die ankerpersoon. Oor die meer as 30 jaar het sy uiteenlopende rolle op TV, verhoog en radio gespeel. Haar heel eerste TV-rol was in die reeks Dennekruin 12 waarin sy en Joanie Combrink susters was. At Botha was haar beminde, Paul Eilers haar pa en Marie du Toit haar ma. Toe volg Arende 1, Arende 2, Onder draai die duiwel rond, Hart van staal, Soutmansland en vele meer. Susanne sê Arende het haar “op die map geplaas”.
Susanne (70) wat baie mense vandag steeds onthou vir haar rol in 1989 in die TV-reeks Arende, is deesdae te sien as Renate van der Riet in kykNet se dramareeks, Die nuusmakers.

Susanne Beyers in Die nuusmakers
Dit volg die lewe en loopbane van ’n groep joernaliste wat vir ’n TV-nuusprogram werk. Met ’n ster-rolverdeling en ’n gedugte span agter die kameras, wys dit kykers wat dit verg om die storie agter die storie te kry.
Susanne se karakter, Renate, is die eienaar van dié TV-kanaal.
Dan kom die lag as sy sê: “Almal verwys na my in dié TV-dramareeks, al speel ek net ’n paar tonele daarin. Dit is ’n totaal ander rol. Ek is vriendelik, maar berekenend. Ek weet presies wat ek wil hê en mense het respek vir my en hulle weet hul moet mooi trap by my. Dit is ’n baie lekker rol. Hierdie is ’n vrou wat presies weet wat sy doen. Dis heerlik om te speel, want dis so anders as wat ek self is, maar ek dink ek kan daardie tipe rol speel. Hoe kan ek sê? Ek ken sulke mense.”
Sy sonder ook uit dat dit lekker was om saam met Rolanda Marais, Roeline Daneel en Leah Vivier in Die nuusmakers te werk.
Dié rol is die teenoorgestelde van die “vrou met ’n vry gees” wat Susanne onlangs in die Silwerskermfilm Die Kwiksilwers gespeel het.
Die Kwiksilwers het amptelik die rekord gebreek vir die mees suksesvolle plaaslike loketprestasie vir ’n Afrikaanse rolprent sedert die Covid-19-pandemie. Die rolprent vertel die verhaal van vier bejaarde vriendinne wat op ’n onwaarskynlike avontuur vertrek om ’n meteoorreën in Sutherland te sien.
Die fliek is ’n viering van vriendskap, vryheid en die lewenslus wat nie deur ouderdom geblus kan word nie.
“’n Rêrige fliek. Dit was absoluut heerlik. Dit was pret, maar harde werk-pret. Ek is verskriklik trots op die produk. Dit was vir my ’n groot voorreg om deel te wees daarvan,” vertel Susanne.
Haar karakter, die flambojante Mienke, het Susanne baie geniet om te speel.
“Sy het my baie aan my oorlede ma laat dink, wat hierdie flambojante vrou was en sulke kaftans gedra het en ook so groot bril.”

Sy gaan binnekort begin werk aan die tweede seisoen van Een keer om die son op kykNET. Die akteurspaar Ivan Botha en Donnalee Roberts vervaardig die reeks. Dié reeks, wat tot dusver met lof deur kykers ontvang is, volg die lief en leed van die Van Wyk-familie oor die loop van ʼn kalenderjaar, met elke episode wat ʼn maand in hulle lewe uitbeeld.
Susanne en Pierre van Pletzen speel Salie en Jan Wessels. Dié twee karakters is Sebastian (Albert Maritz) en Elma van Wyk (Joanie Combrink) se beste vriende.
“Ek en Pierre sorg bietjie vir die komedie. Ek moes in die laaste reeks leer rolbal speel, ons moes leer dans, ons het aqua aerobics gedoen. Ons moes allerhande vreemde dinge doen. O, die rolbal was so moeilik. Vir my was dit baie moeilik. Dit was moeilik om te skiet, want daar is ekstras op die baan. Op hierdie ouderdom moet jy ongelooflik fokus om jou woorde te onthou. Ek moet só fokus, want enigietsie trek jou aandag af.”
Susanne vertel hoe haar verbeeldingswêreld van kleins af deur boeke gestimuleer is.
Buiten dat sy lief is vir lees, lees sy as stemkunstenaar ook graag boeke voor op radio, vir Netwerk24 en vir die blindes.
“Goeie boeke is my stimulasie. Ek geniet dit eintlik meer om ernstiger boeke te lees. Ek lees nou weer al 1996 bladsye van Tolstoy se War and Peace. Lees is my ding, jong.”
Sy sonder dan teater en goeie flieks ook uit.
“Radio is in my bloed, so ook toneelspel en boeke. Ek dink aan my ma wat vandag al ’n honderd sou wees. Sy was ’n briljante aktrise. Sy sou ’n briljante skrywer gewees het. Sy het my voorgestel aan die wêreld van boeke en teater. Ons het elke liewe toneelstuk in die Kaap by die destydse Nico Malan kom kyk toe ek ’n kind was … by die Free Arts, oral, oral. Ek is van kleins af daarin geskool. Yvonne (haar oudste kind, wat na haar ma vernoem is) is so duidelike kleindogter van my ma. Sy het so baie van my ma se talente geërf en haar persoonlikheid.”
Susanne se jongste kind, Pietie, het in haar en in sy ouma se voetspore gevolg. Pietie is ook ’n akteur en nes sy ma gemaklik voor die kamera of om deel van ’n radiodrama te wees.
Pietie beskou sy ma as ’n “wonderdier”.
As sy nie op die TV te sien is of haar stem op die radio gehoor word nie, gee Susanne as deeltydse dosent by die Universiteit Stellenbosch klas.
“Ek geniet dit so, want dis so kreatief om toneelspel vir studente te gee.”
Sy beskou haarself as ’n Jack of all trades.
Net so helder haar stem op as sy van haar jongste kleinkind van sowat ’n maand oud praat.
“Die ou kleintjie het sulke ernstige oë. Ek dink sommer hy gaan ook eendag ’n leser wees.”
Arius of Ari soos daar na dié seuntjie verwys word, is Susanne se middelkind, André, se jongste. Hulle bly in Stellenbosch.
“Ek ry een of twee keer ’n week soontoe. Ek is mal oor daai kleintjies. Mens kan nog daar ’n bydrae lewer.”
Meer oor Susanne:
Wat is jou gunstelingtyd van die dag? Etenstyd!
Wat drink jy as jy wakker word? Koffie
Jou gunsteling – Afrikaanse woord of sêding? Waarlikwaar
Jou gunstelingdrankie? Rooi capuccino met oat-melk en heuning
Jou laaste gereg wat jy sal eet? Waatlemoen in die somer, growwe roosterbrood met marmite en kaas in die winter.
Jou gunstelingstorie, -fliek of -boek? Antjie Krog se “Binnerym van bloed” is ’n onlangse gunsteling

Luister hier hoe Susan Sidney Gilroy se Bloedsomer op Netwerk24 voorlees.







