Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 13: 12 Julie 2025
Gasspreker: Juané du Randt
Hoe word Aandagafleibaarheid- en hiperaktiwiteit gediagnoseer.
In die laaste episode van Seisoen 2 van die Via-programreeks, “Maak die beste van jou kind”, gesels projekleier en berader, Juané du Randt, oor die diagnose van ADHD. Juané is verbonde aan Goldilocks en die Bear Foundation.
Die ADHD-diagnose – wat is Aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit en hoe word dit gekategoriseer?
ADHD is ‘n neuro-ontwikkelingsafwyking wat gekenmerk word deur aandagafleibaarheid, hiperaktiwiteit en/of impulsiwiteit. Dit word gewoonlik in drie hoofkategorieë verdeel:
- Aandagafleibare tipe (hoofsaaklik probleme met fokus en organisasie, met min of geen hiperaktiwiteit).
- Hiperaktiewe-impulsiewe tipe (meer rusteloosheid en impulsiewe gedrag, maar met beter fokus).
- Gekombineerde tipe (waar beide aandaggebrek en hiperaktiwiteit voorkom).
‘n Kind kan dus een van die tipes hê, of ‘n kombinasie daarvan.
Daar is so baie mense wat deesdae met ADHD gediagnoseer word. Is dit regtig so dat almal wat hiermee gediagnoseer word, werklik hieraan ly of word daar dikwels verkeerdelik gediagnoseer?
Dit is waar dat die aantal ADHD-diagnoses toegeneem het, maar dit beteken nie noodwendig dat meer mense “verkeerdelik” met ADHD gediagnoseer word nie. Wat ons eerder sien, is ‘n toename in hulpsoek-gedrag en bewustheid – meer ouers, onderwysers en volwassenes is bewus van ADHD en wend hulle tot professionele persone vir hulp.
ADHD is ‘n oorerflike toestand, wat beteken dat as ‘n kind met ADHD gediagnoseer word, daar waarskynlik ‘n ouer of ‘n ander familielid is wat dit ook het, maar nooit gediagnoseer is nie. In vorige generasies was daar baie diagnoses wat gemis is, omdat mense bloot nie geweet het dat hul interne stryd iets was waarvoor daar hulp beskikbaar is nie. Dit is hoekom ‘n diagnose so belangrik is – dit help ‘n persoon verstaan hoekom hulle anders dink en funksioneer, en dit bevestig dat dit nie verkeerd is nie, net verskillend. Kennis is mag, en as ons die volgende generasie kan bemagtig deur vroeë identifisering en hulpsoek-gedrag aan te moedig, behoort ons dit te doen.
Wat verkeerde diagnoses betref, is dit ook ‘n werklikheid. Daar is ander toestande, soos angs, trauma, slaaptekorte en selfs outisme, wat soortgelyke simptome as ADHD kan hê. Daarom is dit van kardinale belang dat ‘n deeglike diagnostiese proses gevolg word, waar ander moontlike faktore uitgeskakel word voordat ‘n ADHD-diagnose gemaak word. Dit is waarom ons beklemtoon dat slegs gekwalifiseerde, professionele persone ‘n diagnose moet maak en dat dit nie op ‘n vinnige assessering of ‘n aanlyn toets gebaseer moet wees nie.
Het die verkeerde diagnose en soms selfs die feit dat die toestand nie raak gediagnoseer word nie, te make met die feit dat talle van hierdie “toestande” (soos op die outismesespektrum) se simptome oorvleuel of word daar nie altyd gehou by die korrekte protokol nie – soos om byvoorbeeld volgens die DSM-5-riglyne/-kriteria te assesseer nie. Of is daar dalk ander redes?
Daar is verskeie redes waarom ADHD soms verkeerd gediagnoseer word of glad nie geïdentifiseer word nie. Een van die belangrikste faktore is die oorvleueling van simptome met ander toestande soos angs, depressie, trauma, leerprobleme en selfs outismespektrumversteuring. Dit maak die diagnostiese proses kompleks, en dit is van kardinale belang dat professionele persone ander moontlike faktore uitskakel voordat ‘n ADHD-diagnose gemaak word.
Nog ‘n groot rede vir diagnoses wat gemis word, veral by meisies, is geslagsverskille in simptome. Seuns word dikwels vroeër en makliker gediagnoseer, omdat hulle meer eksterne simptome toon – soos hiperaktiwiteit en impulsiewe gedrag. Meisies, daarenteen, toon dikwels meer interne simptome, soos dagdromery, emosionele oorweldiging en ‘n intense behoefte om dinge perfek te doen.
Sosialisering speel ook ‘n groot rol in hierdie verskille. Van kleins af word seuns en dogters anders hanteer:
- “Seuns sal seuns wees” – hulle word dikwels toegelaat om meer aktief en roekeloos te wees.
- “Dames maak nie so nie” – meisies word van jongs af aangemoedig om hul gedrag te beheer en hul gevoelens te onderdruk.
Hierdie sosiale verwagtinge lei daartoe dat baie meisies leer om hul ADHD-simptome te masker, wat beteken dat hul stryd dikwels onsigbaar bly vir onderwysers en selfs hul ouers. Dit is hoekom baie vroue eers in volwassenheid gediagnoseer word.
Baie meisies word eerder met angs gediagnoseer as met ADHD, omdat hul daaglikse stryd om hul brein gefokus te hou en hul gedrag te beheer, daartoe lei dat hulle oorweldig en angstig raak. Dit veroorsaak ‘n kettingreaksie waar die angs eers raakgesien word en behandel word, terwyl die onderliggende ADHD ongemerk bly.
As gevolg van al hierdie faktore is ‘n volledige en deeglike assesseringsproses noodsaaklik. By die Goldilocks and the Bear Foundation maak die beraders eers seker dat die kind se omvattende geskiedenis aangeteken word, voordat die inligting aan ‘n psigiater of sielkundige vir ‘n diagnose gestuur word. Ouers en onderwysers word gevra om meer as 90 vrae te beantwoord voordat die kind gesien word, soadat die berader ‘n volledige prentjie kan kry van hoe die kind in verskillende omgewings funksioneer. Hierdie deeglike benadering help om misdiagnoses en diagnoses wat dalk gemis is, te voorkom, en verseker dat kinders die regte ondersteuning kry.
Wanneer behoort die ouer ‘n kundige te raadpleeg? En wie is hierdie kundiges?
Ouers moet ‘n kundige raadpleeg as hul kind voortdurend sukkel met aandag, hiperaktiwiteit of impulsbeheer, en dit hul skool-, huis- of sosiale lewe negatief beïnvloed. ADHD gaan nie net oor ‘n kort aandagspan nie – daar moet werklike belemmering in daaglikse funksionering wees.
Slegs gespesialiseerde gesondheidspraktisyns kan ‘n ADHD-diagnose maak. Dit sluit in:
- Psigiaters, pediaters en sielkundiges: Hulle kan ‘n formele diagnose maak, ADHD bevestig en behandelingsopsies bespreek.
Daar is ander professionele persone wat siftings kan doen en aanbevelings kan maak, maar nie ‘n amptelike diagnose mag gee nie. Dit sluit in:
- Beraders en geregistreerde beraders – hulle kan simptome identifiseer en ouers verwys vir verdere evaluasie.
- Arbeidsterapeute – kan ‘n kind se funksionering in die klaskamer en by die huis beoordeel en verdere assessering aanbeveel.
- Onderwysers – speel ‘n belangrike rol deur aandagafleibaarheid of gedragskwessies op te merk en dit onder ouers se aandag te bring.

Is daar grade van ADHD?
Ja, ADHD wissel in erns. Sommige kinders het geringe uitdagings wat met strategieë hanteer kan word, terwyl ander intensiewe ondersteuning en intervensie benodig. Dit kan ook verander met ouderdom en omgewingsfaktore.
Is medikasie altyd die antwoord, want baie ouers is lugtig om die medikasie vir hulle kinders te gee? Of is daar meer holistiese benaderings wat gevolg kan word?
Baie ouers is huiwerig om medikasie vir hul kinders te gee, en hoewel dit ‘n baie doeltreffende behandelingsopsie vir ADHD is, is dit nie altyd die enigste of die beste oplossing vir elke kind nie. ADHD het verskillende grade van erns, wat beteken dat sommige kinders sonder medikasie kan funksioneer met die regte strategieë en ondersteuning, terwyl ander wel medikasie benodig om hul simptome te bestuur.
Net soos almal skoene dra, maar nie almal dieselfde grootte dra nie, werk ADHD-behandeling dieselfde—een grootte pas nie almal nie. Vir sommige kinders help medikasie hulle om hul volle potensiaal te bereik, terwyl ander baat by gedragsintervensies, roetine-aanpassings en ander holistiese benaderings. Dit is belangrik dat behandeling individueel aangepas word volgens die unieke behoeftes van die kind.
Wat is die frustrasies in die openbare en privaat sektor? Word daar genoeg gedoen om hulp te verleen?
Een groot uitdaging is die vooroordeel wat daar bestaan ten opsigte van geslag in ADHD-diagnoses. Seuns se simptome is dikwels duideliker—hulle is meer hiperaktief of impulsief—terwyl meisies se simptome dikwels meer intern is, soos dagdromery en emosionele wisselings. Dit lei daartoe dat baie meisies eers in hul tienerjare of selfs as volwassenes gediagnoseer word, nadat hulle al jare lank sukkel sonder ondersteuning.
’n Tweede uitdaging is toegang tot hulp. Diagnoses in die privaat sektor is duur, terwyl die publieke sektor lang waglyste en ’n tekort aan spesialiste het. Dit beteken dat baie kinders nooit die regte ondersteuning kry nie, wat weer hul akademiese en emosionele ontwikkeling beïnvloed.
Is daar genoeg bewusmaking en opleiding vir onderwysers om die leerders in hulle klasse by te staan?
Dit hang af van die skool. Sommige skole en onderwysers doen baie moeite om hul kennis oor ADHD uit te brei en kinders beter te ondersteun. Ongelukkig is dit nie ‘n vereiste vir alle onderwysers om formele opleiding in ADHD te ontvang nie. Baie van die onderwysers sê dat hulle self navorsing doen of skakel met organisasies soos Goldilocks om meer te leer.
Maar dit is nie alles negatief nie—in inligtingsessies raak dit duidelik hoe onderwysers met mekaar strategieë deel en waardevolle wenke gee oor hoe hulle ADHD-leerders in die klaskamer bestuur. Daar is dus ‘n duidelike gewilligheid om te leer, maar die stelsel self kan verbeter deur ADHD-opleiding meer formeel en toeganklik te maak.

Die meeste van ons skole is nie aangepas om hierdie individue te akkommodeer nie – en mens kan begryp dat dit nogal talle uitdagings kan bied – maar wat sou die ideaal wees om hierdie kinders tegemoet te kom?
Baie skole is nie ten volle ingerig om ADHD-leerders optimaal te ondersteun nie, maar daar is praktiese strategieë wat ‘n groot verskil kan maak:
- Gebruik die Pomodoro-tegniek – Laat kinders kort pouses neem (byvoorbeeld bewegingsbreuke) om energie vry te stel en fokus te behou.
- Verminder afleidings – Plaas die kind nader aan die onderwyser of weg van vensters en geraasbronne.
- Struktureer roetines – Duidelike, voorspelbare skedules help kinders om te weet wat om volgende te doen.
- Vroetel is nie altyd verkeerd nie – Stil-stimulasie soos ‘n stresbal of fidget-spinner kan help met fokus sonder om aandag te belemmer.
- Gebruik positiewe versterking – Belonings soos ‘n plakker of ‘n “goed gedoen”, motiveer kinders om moeite te doen, selfs vir take wat van hulle verwag word.
- Moenie die kind uitsonder nie – In plaas van hul naam te roep as hulle afdwaal, gebruik ‘n geheime sein (bv. drie klappe) om hulle te herinner om te fokus, sodat hulle nie voor die klas in die verleentheid gestel word nie.
Hierdie eenvoudige aanpassings maak ‘n groot verskil in hoe kinders met ADHD in die klaskamer funksioneer en voel.
Hoe kan ouers hulle kind tuis help? Is daar wenke?
Daar is verskeie maniere waarop ouers hul kind met ADHD kan ondersteun en ‘n positiewe omgewing kan skep:
- Beperk skermtyd – Te veel blootstelling aan skerms kan impulsiewe gedrag en aandagprobleme vererger. Stel duidelike grense vir TV, speletjies en fone.
- Verseker ‘n gesonde slaappatroon – Kinders met ADHD benodig minstens agt ure slaap om hul brein optimaal te laat funksioneer. ‘n Konsekwente slaaproetine help met selfregulering en konsentrasie.
- Verseker genoeg fisiese aktiwiteit.
- Vermy te veel suiker en kunsmatige preserveermiddels.
- Leer emosionele regulering deur voorbeeld – Kinders leer deur waar te neem. Wys vir hulle hoe om emosies te bestuur deur kalm te bly en die moontlike gevolge van spesifieke gedrag aan hulle te verduidelik.
- Gebruik die Pomodoro-tegniek – Raai die kind aan om kort pouses te neem wanneer hulle aan take werk om hul fokus en energie te herlaai.
- Gee iets om hul hande besig te hou – Dit kan iets soos ‘n stresbal of fidget-spinner wees, wat hulle help om hulle aandag op die taak te behou.
- Struktureer roetines – Kinders met ADHD floreer in ‘n omgewing waar dinge konsekwent en voorspelbaar is. Stel ‘n daaglikse roetine op wat hulle kan volg.
- Help met organisasie deur visuele skedules en herinneringe.
- Maak gebruik van alarms – Dit kan help om tydblindheid te bestry, en die kind weet presies wanneer dit tyd is om van taak te verander of om pouses te neem.
- Handhaaf ‘n balans met positiewe versterking – Moet nie die klein foute te ernstig opneem nie. Fokus eerder op positiewe gedrag en hul pogings. Belonings kan help om die kind te motiveer.
Klein veranderinge in die huisomgewing en ouerlike benadering kan ADHD-kinders help om hul volle potensiaal te bereik.
Meer oor Goldilocks and the Bear Foundation
Die Goldilocks and the Bear Foundation is ‘n niewinsgewende organisasie wat fokus op vroeë identifisering en intervensie vir kinders met neuro-ontwikkelingsuitdagings soos ADHD. Hulle bied gratis geestesgesondheid-sifting en verwysings aan kinders in onderbediende gemeenskappe, aangesien toegang tot diagnostiese dienste en behandeling ‘n groot probleem in Suid-Afrika is.
Alhoewel die openbare sektor en klinieke hierdie dienste behoort te verskaf, is daar groot uitdagings met toegang. Baie ouers kan dit eenvoudig nie bekostig om hul kinders na die kliniek te neem nie – nie net weens vervoerkoste nie, maar ook omdat hulle familieverantwoordelikheidsverlof moet neem om ure lank in lang rye te wag. Dit beteken dat baie kinders nooit ‘n diagnose ontvang nie en, selfs al word hulle gediagnoseer, bly hulle sonder behandeling weens ‘n tekort aan bewustheid en hulpbronne.
Daarom word daar gefokus op:
- Bewusmaking oor ADHD en ander leer- en aandaguitdagings.
- Opleiding en werkswinkels vir ouers, onderwysers en gemeenskappe om kennis en vaardighede te verbeter.
- Gratis sifting en verwysing sodat kinders die regte ondersteuning kan kry.
- Assessering by skole of Goldilocks se kantore deur afspraak, sodat daar minimale ontwrigting is vir ouers en kinders.
Deur hierdie benadering verseker Goldilocks dat kinders vroeg geïdentifiseer en ondersteun word, selfs al het hul ouers nie die middele om self vir ‘n assessering en behandeling te betaal nie.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!







