Skrywer: Seugnet van Zyl
Ons het met Neil Sandilands gesels oor sy produksie, Die Vyftigers.
Jy het met die idee vir Die Vyftigers vorendag gekom?
Kom ons sê dit was ’n gesamentlike bewuswording. Ek sou kon redeneer dat as Gian Groen nie vir my en Schalk Joubert na sy vyftigste verjaarsdag toe genooi het nie, en Abel Kraamsaal nie óók daar was nie, niks hiervan sou gebeur het nie. Maar inderdaad, by die betrokke verjaarsdagpartytjie besef ek al vier van ons is 1975-babas. Die taal is ook amptelik 100 jaar oud. Dis nogals skrikwekkend as mens oorweeg jy’s die helfte so oud soos die taal wat jy praat. Dis mos eintlik ’n wonderwerk in 2025.
Die reine waarheid is dat ek nie kan wag vir Die Vyftigers om op die planke te wees nie, want vir ’n oomblik kan mens wegbreek na iets gefokus en edel selfs; meer in lyn met ons hoogste moontlikhede tot vergestalting.
Kan jy asb bietjie meer vertel?
Om aan te sluit by bogenoemde, dink ek dit sou verkeerd wees om nie die moontlikhede van samewerking te ondersoek nie. Dis ’n wonderlike kapstok: Die Vyftigers. Die Jirre hore my, ons het dit nodig. Bietjie stilstaan om die lewe op sigself te vier. Om tot verhaal te kom en die wonderbaarlikhede om ’n mens raak te sien. Ons 1975-babas het al heelwat beleef.
Ons kom vanuit ’n analoogwêreld, die geboorte van TV in Suid-Afrika, twee politieke dispensasies, die geboorte van die slimfoon, Covid, die val van die Berlynse muur, Jaws is in 1975 gemaak, so ook Bohemian Rhapsody van Queen. Kortom, ons het ’n tyd geken toe jou brood en melk en eiers met koepons op jou voorstoep afgelewer is, tot waar ons nou onsselwers “lewendig” kan beeldsaai die ganske wye wêreld in.
In Die Vyftigers word jy beskryf as die hofnar en visuele impresario. Die een wat die produksie met humor, sinisme en teaterflair verbind.
Ek moet vashou vir parkeerplek tussen die manne. Kyk, hulle is elkeen gedefinieerde, duidelike wesens met persoonlikheid, emmers vol. Iemand moet seker sorg, soos ’n padpatrolliekaptein, dat almal mooi saam in die sandput speel. Vir die hier en nou roep ek orde en die beste manier om dit te doen, is met selfnegerende humor. Gemaak-streng. Vir die oomblik werk dit, maar dit kan ook verander. Miskien, op ’n sekere aand, voel Schalk kaatjie van die baan (hy is immers ’n Leeu, laat-Julie, die jongste een tussen ons) en dan wil hy afshow. Dan sorg ek dat hy nie hand-uit ruk nie. Pappa piets. Dis ontnugterend om te dink ek mog moontlik die mees onbesoedelde, verantwoordelike lid tussen die vier van ons wees – net die tyd sal leer. En die vet weet alleen, ons sien reikhalsend uit. As jy die boonste kon raaklees as “tong-in-die kies”, gaan jy hierdie vertoning verskriklik geniet.
Pas dié rol jou? Hoekom?
Ek is nie seker of “pas” die korrekte term is nie. Heimlik sou ek seker graag my lyf Jimi Hendrix of Freddie Mercury wil hou, maar ek dink ek het iets geleer uit jare se ondervinding voor gehore, beide op skerm of die verhoog, en dit is die waarde van ensemble. Dit help nie daar is ’n vyfde viool wat presies doen wat die soloviolis doen nie. Met ander woorde, as my funksionering die hofnarhoed vereis om die ensemble te laat werk, dan dra ek daai hoed, al beteken dit ek moet net een noot op die piccolo speel.
Ensembles is wonderlik. Die geheel is regtig groter as die afsonderlike dele en ek dink dis ’n gawe en talent om te weet wanneer om uit die pad te staan, dinge te laat begaan, en wanneer om in te tree. Het julle al daai narre gesien wat die bees se aandag aftrek in Rodeos of stiergevegte? Dis Frikkie. Dit help dat ek ’n ukelele het.
Donderdagaand is julle eerste vertoning. Hoe voel jy? Raak jy nog senuweeagtig?
Natuurlik. Ons al vier, asook Briers Coetzee, ons klankman wat saam toer, het een doel voor oë: Ons wil graag hê ons gehore moet ietwat beter daar uitstap, as toe hulle ingekom het. Dat dié transaksie ’n sinvolle en vermaaklike affêre was. Die Vyftigers poog regtig om die “viering”-element tuis te bring. Dis gaaf om in daardie oomblik die lewe in volheid in te drink.
Ek wil egter iets kwytraak oor my belewenis tydens ons eerste vertoning. Daar was regtig iets tasbaars energiek omtrent dié aanbod. Mens weet dit nie noodwendig alvorens nie. Almal wou dieselfde tipe belewenis hê. ’n Lekker een. Genadiglik was dit só en dit was asof daar ’n sluier van moontlikheid gelig het. Ons was besig met die regte ding vir die hier en nou. Dit is raar.
Ons het so bietjie meer as twintig vertonings wat voorlê. Elke liewe een gaan ’n nuwe storie wees.

Is verhoog baie anders as om in ’n TV-reeks te speel?
Nee wat, ek het vroeër so gedink en baie verdiep geraak in die nuanse en verskille, maar op die ou end is dit ’n spesifieke funksionering wat die groep dien. Daar’s goeie argitekte, rugbyspelers, tandartse, dokters en ook minder goeies, selfs slegtes. Die vertolkingskuns is ook só. Partykeer moet jy net een tand trek, soms moet jy ’n heel nuwe gebit insit, maar op die ou end wil jy tog, sonder voorbehoud, kan glimlag as die geleentheid homself voordoen.
Dis dieselfde boom, net verskillende takke.
Wat verkies jy?
Visvang en middagslapies. Alle grappies op ’n stokkie … as ek dan nou wel ’n keuse moet maak, sou ek aanvoer dat my artistieke hoogtepunte suiwer in “lewendige teater” is. Soos met hierdie vertonings wat ons doen. Daar is net oomblikke wat nie dupliseerbaar is nie. Dit gebeur net in daardie oomblik presies net so en ek glo dit is die naaste wat ons gesamentlik aan sublieme beskouing kan kom. Die Ou Hande praat van “heilige oomblikke”. Dis veral nie iets wat jy met die slimfoon kan vasvang nie of, “touch wood”, AI sal nooit weet wat ons in daai oomblik weet nie. Dankie Drikus.
Jy is nou vyftig. Wat beteken die halfeeu vir jou?
Moes jy dit nou só stel? Halfeeu.
Ek moet sê, ek voel geen beduidende verskil tussen Mei, toe ek vyftig slaan, en nou nie. In my siel is ek seker maar die nimmereindigende pre-adolessent, stout laaitie. Miskien is ek net te besig tans om die fynere fluisters te hoor. Ek let wel op dat my lont korter raak. Ek registreer ’n onmiddellike irritasie met prul, laksheid, traagheid, onvermoë, algemene nonsens. Dis seker maar deel van die ontwerp.
Op ’n super-ego-vlak dink ek daar’s iets anders aan die gang. Ek vermoed dit het iets te make met daai bekende sêding van bome plant, terwyl jy weet jy self nie noodwendig in die skadu sal sit nie. Hoe los mens die plek effe meer versorgd as toe jy hier aangekom het? As ek die wêreld so kyk, voel dit ’n onbegonne taak en dan beroep ek my op NP van Wyk Louw, die groot metafisika-digter. Doen wat voor jou hande is om te doen, en tik jou klein beiteltjie. Tans tik die klein beiteltjie “Die Vyftigers”. Met ’n bars wat dwarsdeur die sterre loop.
Kan jy uitbrei op jou liefde vir Afrikaans en jou moedertaal se eeuwording vanjaar?
Ek staan in kleine nederigheid en eerbied teenoor die mirakel wat ek glo Afrikaans is. My lewensbeskouing is in die taal gegiet. Ek begryp die kontekstuele plasing. Ek’s nie ’n aktivis nie, maar ek besig die taal. Ek dink en droom en skep in haar en in haar mooiheid. Iewers daar ver voor, is sy skitterblink. Sweerlik die mooiste wat ek ooit gesien het. In my hemel hoor ek haar. Sy is. Dis al.
Kan ons jou dalk een van die dae in ‘n Afrikaanse TV-reeks sien?
Dit sal al te lekker wees. Ek steek my hand op om getel te word. Dit voltooi die sirkel. Ek sal my voortanne gee om saam met my tydgenote ’n Afrikaanse skepping te pleeg wat ver oor die voetligte skyn. Dit sal ’n goeie oomblik wees om sonder voorbehoud te glimlag.







