Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 12: 7 Julie 2025
Gasspreker: Louis Swanepoel
Watter skool is die mees geskikte vir my kind?
In episode 12 beantwoord Louis Swanepoel, president van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) ons vrae oor hoe ouers te werk moet gaan om ’n geskikte skool vir hulle kinders te kies en watter aspekte om gedagte te hou. Hy verduidelik ook wie die SAOU is en hoekom hulle deel uitgemaak het van die protesoptrede teen die ondertekening van die Bela-wetgewing.
“Vandag is jou naaste skool nie altyd die beste keuse nie.” Binne watter denkraamwerk moet ouers hulle keuse uitoefen?
Ouerskap is seker een van die grootste voorregte en dan ook die grootste geskenk wat ouers kan ontvang. Daarom wil ek glo dat ouers hul kinders die beste geleenthede wil bied en op die heel beste wyses wil ondersteun en grootmaak.
Die keuse van die mees geskikte skool vir ’n kind is daarom dan veral belangrik, aangesien dit die basis lê vir ’n kind se opvoedkundige reis en loopbaanvooruitsigte.
Wat is die verwagting van ’n ouergemeenskap t.o.v. die kernopdrag van ’n skool?
Dit is belangrik om die vraag te vra wat die primêre taak van ’n skool is. ’n Skool het die verantwoordelikheid om die kind in totaliteit te vorm en toe te rus vir die eise en geleenthede wat die volwasse lewe bied, binne ’n dinamiese en diverse omgewing.
Die fokus van ’n skool is dus om die kind se karakter in totaliteit te ontwikkel deur die vestiging van o.a. ’n gesonde waardestelsel. In die proses word die kind se intellektuele, emosionele, sosiale, en fisiese vaardighede ontwikkel en vasgelê. Dit is hierdie aspekte wat ’n ouer in die vooruitsig moet stel binne die keuse van die geskikte skool vir sy kind.
Daarom moet ons verstaan dat die naaste skool nie altyd die beste keuse vir jou kind is nie. Ouers moet dus poog om sodanige keuses uit te oefen dat die skool as ’n ware verlengstuk van die ouerhuis kan dien.
Watter kategorieë van skole bestaan daar en hoe verskil hulle van mekaar?
Die volgende soorte skole word onderskei:
- Openbare skole (ongeveer 24 000)
Hierdie skole word deur die Staat gefinansier, is meer bekostigbaar en ouers kan verder aansoek doen vir korting op skoolgeld indien hulle kwalifiseer volgens bepaalde skale soos deur die Staat bepaal. Dit is belangrik om daarvan kennis te neem dat ongeveer 75% van hierdie skole wanfunksioneel is en daarom is dit belangrik dat ouers deeglike navorsing moet doen oor die gehalte van onderrig en opvoeding, ten einde die regte skool vir hulle kind te identifiseer.
- Onafhanklike/Privaat skole (ongeveer 3 000)
Hierdie skole is heelwat duurder, maar bied die voordeel dat klasse oor die algemeen kleiner is.
- Skole vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes
Hierdie skole maak voorsiening vir leerders met gestremdhede, fisieke leer- en sekere ontwikkelingsuitdagings. Hier word bepaalde eise gestel aan personeel en hulpbronne wat oor sekere gespesialiseerde kundigheid en vermoë moet beskik.
- Montessori- en Waldorfskole
Die klem by hierdie skole val veral op holistiese ontwikkeling, selfgerigte leer en die volg van ’n meer kreatiewe aanslag met die onderrig van leerders.
- Landbou-/Tegniese/Kuns- en Balletskole
Hier volg skole ’n meer gefokusde kurrikulum met die klem op bepaalde vakrigtings.
- Tuisskole
Ouers wat verkies om ’n direkte verantwoordelikheid vir die onderrig van hul kind te aanvaar deur self betrokke te wees met die onderrig in die bemeestering van leerinhoude van hulle kind, kies dikwels hierdie opsie.
Watter aspekte in jou keuse van die geskikte skool vir jou kind moet noukeurige oorweging geniet?
Van die faktore om in ag te neem vir oorweging van die geskikte skool is die volgende:
- Akademiese prestasie: Hoe lyk die deurvloeisyfer in die skool – dus hoeveel van die kinders wat in graad 1 begin kom graad 7 deur in die laerskool en hoeveel wat in graad 8 begin, slaag graad 12 in die hoërskool? Hoe lyk die volgehoue akademiese prestasie van die skool? Bestaan daar ’n positiewe skoolklimaat vir onderrig en leer in die skool?
- Etos en waardesisteem: Is die skoolomgewing ’n verlengstuk van die waardesisteem wat die ouers koester en uitbou? Besoek die skole vir oorweging en kry ’n gevoel van onder meer die skoolkultuur t.o.v. die waardes wat hulle aanhang, dissiplinehantering, gemeenskapsbetrokkenheid en inklusiwiteit.
- Kwaliteit van onderwys: Die gehalte van die personeel het ’n direkte impak op die gehalte van onderwys in die skool. Hoe lyk personeel se profiel t.o.v. ouderdom/geslag/kwalifikasies en ervaring. Wat is die onderwyser-leerder-verhouding (kleiner klasse hou bepaalde voordele in).
- Skoolfasiliteite en hulpbronne: Is die skoolterrein en geboue veilig / netjies / goed in stand gehou en funksioneel vir die onderrigprogram? Weet dat dit ’n bepaalde invloed het op die kind se leerervaring, skoolbelewenis en gevolglike skooltrots.
- Buitekurrikulêre program: Opvoeding strek verder as net die klaskamer. Dit is belangrik vir die ontwikkeling van sosiale en fisiese vaardighede, spanwerk, leierskap en welstand by die kind.
- Ligging en toeganklikheid: Betroubare vervoeropsies na die skool en veiligheid van die omliggende omgewing.
- Bekostigbaarheid: Kostes sluit onder andere in skoolgeld / moontlike koshuisgeld / skool- en sportklere / boeke en skryfbehoeftes / toere en eskursies.
- Ouerbetrokkenheid: Is daar ’n goed funksionerende beheerliggaam wat ouers betrek en inspraak verwelkom? Weet dat die vennootskap tussen ouers en die skool van kritieke belang is.
Watter rol speel die kind self in die uitoefening van die keuse?
Dit is belangrik dat die ouers saam met hulle kinders besluit wanneer hulle die mees geskikte skool kies. ’n Graad R-leerder is nog te klein om self te besluit en daarom behoort die ouer die besluit te neem. Dit is belangrik dat die ouer die kind se behoeftes/persoonlikheid/aanleg en belangstelling deeglik in ag moet neem en die kind dan deelmaak van die besluit wanneer die ouer die finale keuse uitoefen.
Die graad 8-leerder behoort egter die besluit te neem ten einde die kind in staat te stel om verantwoordelikheid vir die besluit te aanvaar. Wat hier belangrik is, is die ouer se rol om saam die reis in die navorsing en oorweging van faktore mee te maak, om die kind te bemagtig sodat die regte besluit deur die kind geneem word.
Dus, die keuse van die regte skool is kompleks en vereis noukeurige oorweging. ’n Ingeligte besluit kan slegs geneem word as die onderwyslandskap verken is en verstaan word, as al die opsies nagevors is en die kind se behoeftes geprioritiseer is.
Hou ook in gedagte: ’n Skool moet nie net ’n stewige akademiese grondslag lê nie, maar daar moet seker gemaak word dat die kind se algehele ontwikkeling en welstand gekoester en bevorder word.
Vir die lesers wat nie weet nie – wie en wat is die SAOU? En watter dienste bied die organisasie.
SAOU – Suid-Afrikaanse Onderwysersunie:
- As vakbond geregistreer op 16 November 1996 in ’n federale vorm en vanaf 2006 as ’n unitêre vakbond.
- Die vakbond se stigterslede was die Kaaplandse Onderwysersvereniging (KO), Natal Onderwysvereniging (NO), Oranje-Vrystaat Onderwysersvereniging (OVSOV) en Transvaalse Onderwysersvereniging (TO). Hierdie verskillende groeperings is onder een sambreel saamgevoeg as die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie – SAOU.
Die SAOU is gevestig as ’n gesaghebbende, waardegedrewe en invloedryke rolspeler in die openbare onderwyssektor en binne die arbeidsomgewing. Verder streef die vakbond na ’n hoë vlak van professionalisme vir alle opvoeders, en sien hulle om na die verbetering van alle aspekte van die werkslewe van die opvoeders in die onderwyssektor, dat onderwys ten beste in die moedertaal van die leerder sal geskied en dat onderwys van hoëkwaliteit die onvervreembare reg is van elke leerder binne ’n gelykwaardige, nierassige, niediskriminerende onderwysstelsel.
Die SAOU het die protes teen die ondertekening van die Bela-wet (veral t.o.v. die taal- en toelatingsbeleide) ondersteun. Wat was jul vertrekpunt om deel te neem aan hierdie protesaksie?
Die SAOU is op rekord t.o.v. die volgende standpunte rakende die BELA-wetgewing waaraan nie toegegee kon word nie:
- Gelyke vennootskap tussen skoolbeheerliggame en die onderwysowerhede;
- Samewerkende beheer en bestuur van skole;
- Onderlinge samewerking van onderwysrolspelers;
- Openbare skole as onafhanklike regspersone; en
- Openbare skole as demokratiese verlengstukke van die onderskeie gemeenskappe ten einde diversiteit te respekteer.
Die SAOU het van die begin af ontevredenheid oor Klousule 4 (toelatingsbeleid) en Klousule 5 (taalbeleid) uitgespreek en ook omvattende positiewe aanbevelings aan hierdie klousules voorgestel vir oorweging.
Die SAOU se deelname aan die optog was ter ondersteuning van die breë onderwysgemeenskap met die volgende vertrekpunte:
- Respekteer die skoolbeheerliggame se gesagsposisie en magte wat op plaaslike vlak uitgeoefen word.
- Respekteer die samewerking van onderwysvennote (Staat/ouers/skoolbestuurspan) in die opvoedingsproses van leerders.
- Elke leerder is geregtig op gehalte onderwys in Suid-Afrika. Dit sluit ook elke graad R-leerder in na die promulgering van die BELA deur die Staatspresident.
- Die reg van skoolgemeenskappe tot die keuse van die taal van onderrig en leer, sowel as toelating tot ’n spesifieke skool.
- Die beskerming van die regte van onderwysers.
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!









