Geskryf namens die AON deur
Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Baie van ons koester onbewustelik, as ouers, vals vrese wat ons pogings om goeie ouers te wees ernstig kan ondermyn as dit nie aangespreek word nie. ~ Michael Mascolo
Sommige ouers glo dat hul kinders hulle as gelykes moet beskou.
Ouers wat met hierdie idee in hul agterkop rondloop het gewoonlik sterk oortuigings oor die aard van gesag.
Hulle is tipies goeie mense wat sterk in demokrasie glo, maar hulle besef nie dat demokratiese beginsels nie sonder meer in ‘n ouer-kind dinamika geld nie. (Kinders word tog met goeie rede nog nie toegelaat om te stem nie!)
Dis goed om mooi te luister wanneer kinders hul begeertes en behoeftes verwoord, voordat ons as ouers gesaghebbende besluite neem.
Maar hierdie ouers laat kinders deelneem aan redenasies, besprekings en onderhandelings wat ver bo die kinders se vuurmaakplek is.
Die kinders het net soveel gesag as die ouers, en gevolglik moet die ouers baie goeie redes op die tafel kan lê om teen ’n kind se wense op te tree.
Antwoord:
Daar is ’n a-simmetriese gesagsbalans tussen ouers en hul kinders wat spruit uit die feit dat die ouers meer kennis en ervaring as die kinders het.
Hulle het boonop ‘n verantwoordelikheid om vir die kinders leiding te gee en vir hulle die waardes en lewensvaardighede te leer wat hulle eendag gaan nodig hê om suksesvol in die volwasse wêreld aan te pas en suksesvol te wees.
Ouers het mag en gesag oor hul kinders en dis presies hoe dit behoort te wees.
Die gesagsverhouding wat ouers met kinders het, kan prakties gesproke eers begin verander wanneer die kinders ouer word en hulle genoeg kennis, ervaring en verantwoordelikheidsin ontwikkel het om werklik met hul ouers skouers te skuur wanneer besluite geneem moet word.
Die feit dat kinders nie die kennis, vaardighede en redeneringsvermoë het om net soveel seggenskap as hul ouers te hê nie, beteken nie dat hulle geen sê moet hê in hul interaksies met hul ouers nie.
Kinders moet gehoor word. Maar hulle behoort nie op alle gebiede ’n opinie te lug of aan besluitneming deel te neem nie – slegs in areas waar hul ouers bepaal dat hulle ervare genoeg is om betrokke te wees.
Baie ouers is bang om te veel voorskrifte te gee.
Daar is minstens twee redes waarom ouers vandag ’n afwesige houding aanneem en nie aktief aan hul kind se opvoeding deelneem nie.
- Sommige van hierdie afwesige ouers voel nie opgewasse vir die taak nie. Baie is onder intense druk omdat hulle noodgedwonge te veel hooi op die vurk het, en baie ken niemand anders met kinders van dieselfde ouderdom by wie hulle kan kers opsteek nie. Verder het baie ouers vandag geen ondersteuning van nabye familie nie, en hulle het nie ervaring waaruit hulle kan put om moeilike (of selfs alledaagse) ouerskapsituasies te hanteer nie.
- ’n Groot gros ouers kry op sosiale media die indruk dat kinders — soos plante — net kos, water en sonskyn (liefde) nodig het, en dat elkeen met ’n interne kompas gebore word wat vir daardie unieke kind die regte pad sal aandui — solank die ouers nie inmeng of “hul idees op die kind probeer afdruk nie”. Vanuit hierdie perspektief is ouers wat gereeld vir hul kinders praktiese advies gee, doelwitte stel, terugvoer gee en hulle leer wat reg en verkeerd is, in der waarheid besig om die kind se unieke potensiaal, eie inisiatief, onafhanklikheid en outonomie te onderdruk. leier is nie, maar eerder by die kind gewild wil wees.
Antwoord:
Alison King is ’n opvoedkundige navorser wat in 1993 ’n invloedryke artikel geskryf het met die titel “From Sage on the Stage to Guide on the Side”. In hierdie artikel het sy gepleit vir ’n verandering in onderrigmetodes in skole — weg van lesinggebaseerde onderrig na ’n meer studentgesentreerde benadering. Die idee is dat onderwysers leer moet fasiliteer eerder as om bloot inligting oor te dra.
Alhoewel hierdie idee in klaskamers waardevol is, word dit gevaarlik wanneer dit te vrylik op ouerskap toegepas word. Dit veroorsaak ongegronde vrese by ouers dat hulle hul kind se natuurlike ontwikkelingsdrang sal onderdruk as hulle te voorskriftelik sou wees.
Die waarheid is dat kinders baie dikwels duidelike leiding, struktuur en ondersteuning nodig het om ‘n sterk interne kompas te ontwikkel — dit ontwikkel nie vanself nie.
’n Ware ondersteunende ouer verstaan wanneer om terug te staan en ’n kind te laat verken, maar ook wanneer om in te gryp om struktuur te bied en belangrike waardes te leer. Te permissiewe ouerskap kan tot verwarring, onsekerheid of probleme met selfregulering lei. Dit gaan oor balans — om aktief betrokke te wees terwyl ’n kind steeds outonomie ontwikkel.

Ouers is dikwels bang om iets te doen wat mag maak dat hul kinders nie van hulle gaan hou nie.
Ons almal wil bitter graag ’n goeie verhouding met ons kinders hê. Daarom is dit verstaanbaar dat ouers erg bekommerd kan begin voel wanneer dit duidelik is dat hul kind op ’n spesifieke tydstip net mooi niks van hulle hou nie!
Maar wees versigtig vir ’n verskuilde slaggat. As ons as ouers ons besluite meerendeels baseer op of kinders daarvan gaan hou — en of hulle van óns gaan hou — is die kanse uitstekend dat ons deurlopend swak besluite gaan maak.
Antwoord:
Die inherente dinamika van ’n gesin laat kinders instinktief verstaan dat ouers die taak het om hul kinders te beskerm en voor te berei vir sukses. Hulle aanvaar dat hulle nie van al die besluite wat ouers neem sal hou nie, en ook dat hulle soms nie van hul ouers sal hou nie.
Om die waarheid te sê, kinders voel onveilig wanneer dit vir hulle lyk asof ’n ouer nie ’n goeie leier is nie, maar eerder by die kind gewild wil wees.
’n Ouer is nie ’n kind se maat nie.

Maatjies wil by mekaar gewild wees, maar suksesvolle ouers tree anders op. Hulle maak seker hul kinders weet dat hulle met ’n plan opgevoed word — en dat dit behels dat die ouers soms sal moet kies om in die kinders se belang op te tree en by die plan te bly, eerder as om op die korttermyn gewild te wees.
Só kweek ouers langtermyn-respek en ’n gevoel van geborgenheid by kinders — iets wat bydra tot die vrede en vertroue wat hulle nodig het om ’n veilige gehegtheidsband met hul ouers te hê.
Die etikette wat kinders gebruik om hul ouers te beskryf, vang die ouers soms onkant.
Dis vir geen ma lekker om te hoor dat sy “sommer nou lelik” is, of dat sy “altyd alles sleg maak” nie.
Die opmerkings verskil van kind tot kind en van situasie tot situasie, maar die kruks van die saak is dat dit nie onaangespreek gelaat moet word nie.
Antwoord:
Die oplossing is om te sê: “Ek is jou Mamma. Ek is lief vir jou. Ek wil net die beste vir jou doen. Ek help jou nie as ek jou net altyd wil laat goed voel nie.”
Dis nodig om sensitief te wees vir ons kinders se gevoelens, maar ons kan en mag hulle nie alewig teen teleurstelling, frustrasie of moeilike emosies probeer buffer nie.

Die idee dat kinders ’hoë dunk van hulself moet ontwikkel om eendag suksesvol te wees, lei tot onnodige vrese.
“Self-esteem” is lank geprys as ‘n voorloper vir sukses, maar Carol Dweck se navorsing het ‘n nuwe lig hierop gewerp.
Die resultate van die studies wat sy gedoen het oor die impak van ‘n “groei-ingesteldheid” in teenstelling met ‘n “vaste ingesteldheid” op kinders se kanse om sukses te bereik, is verreikend.
Kinders met ‘n groei-ingesteldheid geniet dit om te leer, te waag en insette van ander mense te ontvang, omdat hulle nie fokus daarop om ‘n beeld in stand te hou wat hulle slim en bevoeg laat lyk nie.
In teenstelling hiermee lei ’n vaste ingesteldheid daartoe dat kinders bang is om moeilike uitdagings aan te pak en wegskram van kritiek, omdat hulle wil goed lyk.
Die hoë dunk wat hulle van hulself het is vir hulle die fondament van hul eiewaarde – nie net in hul eie oë nie, maar ook in dié van ander mense. Gevolglik vervul die moontlikheid dat hulle dalk nie suksesvol sal wees nie, nie sal wen nie, of nie perfek is nie hulle met angs – en hulle verkies om eerder nie te waag nie.
Antwoord:
Kinders voel geliefd en gewaardeer wanneer ons in hulle belangstel, met hulle gesels oor die proses wat hulle volg om iets gedoen te kry, hulle aanmoedig om vir hulself doelwitte te stel, en hulle prys wanneer hulle die vrugte pluk van goeie keuses wat hulle gemaak het.
Baie goedbedoelde ouers dink steeds dat dit tot hul kinders se voordeel is om hulle om elke hoek en draai te prys, hulle te laat glo dat hulle die slimste kind in die wêreld is, en toekennings te gee vir deelname — iets wat kinders se ambisie om waarlik te presteer ondermyn.
Lofprysinge is egter nie ‘n voorloper vir sukses is nie – dit behoort op sukses te volg.
Om die waarheid te sê, kinders wat met leë lof toegegooi word ontwikkel dikwels allerhande ongegronde vrese, omdat dit geneig is om ‘n vaste ingesteldheid by hulle te kweek.
Groete en beste wense tot volgende keer! Kontak gerus vir Wilna van Rooyen via Wilna@aonetwerk.co.za vir meer inligting.