Skrywer: Seugnet van Zyl
As dit nie vir ’n ooreenkoms was wat sy met ’n bekende insekkundige gesluit het om ’n rolprent oor Eugène Marais te maak nie, sou sy dalk nooit dié bekroonde rolprent gemaak het nie.
Katinka Heyns het onlangs oor Die Wonderwerker, wat handel oor die tyd in Marais se lewe toe hy in 1908 op die plaas Rietfontein in die Waterberge by die Van Rooyen-familie ingewoon het, met belangstellendes by die Othello-aftreeoord in Brackenfell, Kaapstad gesels.
Sy het meer vertel oor dié man wat ’n digter, prokureur, joernalis, sielkundige én pionier van die natuurwetenskappe was. Hy was die eerste Afrikaanse regsgeleerde, het geskryf oor sielkunde lank voor dit ’n gevestigde veld was, en het poësie geskep wat nog steeds in harte weerklink.
Van sy meesterstuk Winternag tot sy baanbrekersnavorsing oor termiete en bobbejane, het hy ’n nalatenskap gelaat wat die Afrikaanse taal en wetenskap vir altyd gevorm het.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Kaapse kantoor het Katinka genooi na ’n geleentheid om die lewe van Marais en sy gedig, “Winternag”, se 120ste bestaansjaar te vier.
Op 23 Junie 1905, vanjaar 120 jaar gelede, het Marais Winternag in sy koerant Land en Volk gepubliseer. Twee jaar later in 1907 het hy hy na die Waterberge, waar hy ’n geruime tyd vertoef en die gedrag van diere ondersoek het, vertrek.

Katinka Heyns lees ‘n koerantberig oor Eugène Marais voor die vertoning van Die Wonderwerker, haar rolprent oor hom.
Winternag het verskyn in ’n tyd toe die Tweede Afrikaanse Taalbeweging ná die Anglo-Boereoorlog begin momentum kry het. Die gedig word beskou as die eerste letterkundig betekenisvolle gedig in Afrikaans en 23 Junie 1905, as die mondigwording van Afrikaanse poësie.
Die Wonderwerker, wat in 2012 uitgereik is, was die laaste fliek wat Katinka as regisseur, en haar wyle man Chris Barnard, wat vir die draaiboek verantwoordelik was, saam gemaak het.
Katinka, wat deesdae in ’n aftree-landgoed in Onrusrivier in Hermanus bly, het vertel dat ’n besoek aan die entomoloog prof. Erik Holm, in Hartbeespoort, Noordwes daartoe gelei het dat sy en Chris dié fliek gemaak het.

Katinka Heyns gesels met Elizma Smith, kultuurkoördineerder van die FAK in die Kaap, oor Die Wonderwerker.
Sy het met ’n ondeundheid in haar stem vertel hoe verbaas die goggaprofessor oor haar besoek was. Sy het ook in die fynste besonderhede sy kort, swart naels, “van al die pyprokery en sy gewerskaf met die bou en herstel van ossewaens”, beskryf. Erik is ook ‘n restoureerder van ossewaens.
Toe sy by die huis kom en haar man van Erik se versoek vertel, het hy dadelik ingestem om die draaiboek van hierdie “historiese fiksie”-verhaal te skryf.
Volgens Katinka het dit hulle 10 jaar geneem om finansiering vir Die Wonderwerkerte kry. Die Dagbreek Trust het uiteindelik die maak van dié rolprent befonds.
Sy vertel sy was in trane toe sy die eerste keer Chris se draaiboek gelees het.
“Chris was begeesterd deur Marais se verhaal. Met die storie kyk ons deur ’n sleutelgat na ’n grepie uit sy lewe en ervaar hom as die argetipiese gewonde heler.”
Die Wonderwerker is gegrond op die tydperk toe Eugène siek was aan malaria. Die rolprent wys hoe hy die gesin by wie hy gebly het, se lewens verander het.
Katinka het die gaste ook vertel van die soektog na ’n mak bobbejaan om in die rolprent te gebruik, oudisies en rolverdelings en die ooreenkomste in gelaatstrekke tussen Marais en Dawid Minnaar wat die hoofrol in Die Wonderwerker gespeel het.
Na ’n gesellige saamkuier, het Katinka saam met die gaste weer hulle plekke ingeneem en saam na Die Wonderwerker gekyk.

Katinka Heyns geniet ‘n koppie tee en iets te ete saam met Hettie Venter met die vertoning van Die Wonderwerker.
Op Elizma Smith, kultuurkoördineerder van die FAK in die Kaap, se vraag of Erik destyds tevrede was en van die rolprent gehou het, het Katinka geantwoord: “Hy was in trane.”
- By die Silwerskermfees is Die Wonderwerker in 2012 bekroon met ses toekennings: Beste film, Beste regisseur – Katinka Heyns, Beste draaiboek -Chris Barnard, Beste redigering -Ronelle Loots, Beste aktrise – Elize Cawood en Beste vroulike byspeler – Sandra Kotzé.
- Leon van Nierop, bekende rolprentresensent, het van Die Wonderwerker gesê: “So ’n meesleurende, beeldskone en aangrypende Afrikaanse rolprent sien jy dalk net een maal per jaar. Die Wonderwerker moet ten alle koste gesien word.”
Hier is die woorde van die bekende Winternag-gedig, wat as dié eerste letterkundig betekenisvolle Afrikaanse gedig beskou word:
Winternag
O koud is die windjie en skraal.
En blink in die dof-lig en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande, versprei in die brande,
is die grassaad aan roere soos winkende hande.
O treurig die wysie op die ooswind se maat,
soos die lied van ʼn meisie in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ʼn druppel dou,
en vinnig verbleek dit tot ryp in die kou!”