Hierdie resep van Heleen Meyer, was oorspronklik in haar resepteboek, Onthoukos, gepubliseer. Die inspirasie daarvoor kom van Cass Abrahams, die bekende Kaapse koskenner. Vir baie mense is tamatiebredie sommer net huiskos, maar dit bly ’n spesiale gereg en selfs ideaal om vriende mee te onthaal. Onthou dat ’n bredie stadig moet prut en dat dit die volgende dag selfs nog lekkerder smaak.
Lewer 6 – 8 porsies
30 ml (2 e) olie
1 kg lamsvleis, dikrib, nek, skenkels of skouer, in stukkies gesny en oortollige vet verwyder
2 groot uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
8-10 swartpeperkorrels
6-8 heel naeltjies
8-10 wonderpeperkorrels
125 ml (½ k) water
3 heel kaneelstokkies
6 kardemompeule, gekneus om die saadjies vry te stel
20 ml (4 t) fyngerasperde vars gemmer
25 ml (5 t) gemaalde koljander
30 ml (2 e) gedroogde tiemie
1 kg baie ryp tamaties, geskil en gekap of 2 x 400 g gekapte tamaties
30 ml (2 e) tamatiepasta
1 klein rooi brandrissie, gekap (of hou dit heel vir minder byt)
2-3 middelslag-aartappels, geskil en in blokkies gesny
sout en peper na smaak
gekapte vars tiemie of Italiaanse pietersielie vir garnering
- Verhit helfte van die olie in ’n groot kastrol oor matige hitte. Soteer die vleis in sarsies tot dit verbruin is, skep uit en herhaal met die res van die vleis. Skep uit en hou eenkant.
- Plaas uie, knoffel, pepperkorrels, naeltjies en wonderpeper in die kastrol. Roer die water by en bring oor matige temperatuur tot kookpunt. Laat sonder ’n deksel prut tot al die water ingedamp het en die geure aromaties is. Voeg die orige olie by en soteer die uie tot goudbruin.
- Roer die vleis, kaneel, kardemom, gemmer, koljander en tiemie by. Verlaag die temperatuur en prut met die deksel vir 30 minute.
- Voeg die tamaties, tamatiepasta en brandrissie by. Prut vir nog 30 minute, roer die aartappels by en prut dan verder stadig vir 40-60 minute of tot aartappels en vleis gaar en sag is.
- Geur na smaak met sout en peper. Garneer met tiemie of pietersielie en sit die bredie net so, of as jy verkies, op rys, koring, koeskoes of mieliepap voor.
Resep deur Heleen Meyer | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Hoenderbredie: berei dieselfde resep met hoender, maar prut van stap 3 af net vir 45 minute of tot die hoender gaar is.