Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 11: 2 Julie 2025
Gasspreker: Milanie Vosloo
Inligting op Afrikaans.com wat ouers, leerders en onderwysers kan help om te presteer.
In episode 11 gesels Milanie Vosloo, voorsitter van Uppe Marketing, skrywer en projekbestuurder van Afrikaans.com oor Afrikaans.com se nuttige leerhulpafdeling, die onderwysmarkplein en hoe mens moet maak om by die regte inligting uit te kom.
Afrikaans.com vier die waarde, nut en sjarme van Afrikaans deur ‘n platform te wees waarop besoekers die hoogtepunte in die Afrikaanse leefwêreld kan vind. Afrikaans.com het dan ook die afgelope paar jaar ‘n gewilde en betroubare handelsmerk geword en dien as spreekbuis vir Afrikaans in al sy vorme en variëteite. Ons streef na inklusiwiteit, is modern en relevant en ons hoofdoel bly steeds om te beïnvloed, in te lig, te ondersteun, te onderrig en te inspireer.
Gratis leerhulp
Die afgelope drie jaar het ons ons leerhulpafdeling uitgebrei. Leerhulp is verdeel in verskillende afdelings, naamlik: Algemeen, Voorskool, Laerskool en Hoërskool en dan het ons ook ‘n Moedertaalafdeling waar ons die mites, waarhede en belangrikheid van moedertaalonderrig bespreek. Nog ’n afdeling wat onlangs bygevoeg is, is ons Onderwysmarkplein.
Voorskool
Dit is een van die belangrikste fases in enige kind se ontwikkeling. Hier bied ons leerhulpbronne (weeklikse lesplanne) vir kleuterskoolonderwysers. Daar is tans 80 volledige lesplanne beskikbaar vir 2-4-jariges en graad R en pre-R.
Die inhoud is gratis en aflaaibaar en kan net so in die klaskamer gebruik word. Daar is ook ’n kinderboekrak met 160 kinderstories, luisterstories en ’n hele klomp aflaaibare aktiwiteite.
Skoolgereedheid
Die sprong na graad 1 is groot. Daarom het ons ’n skoolgereedheidsprogram saamgestel om ons ouers te help om probleemareas te identifiseer en dan indien nodig die nodige stappe te neem. Die afdeling gee ’n volledige lys van verwagte uitkomste vir graad R-kinders, praktiese take en aktiwiteite.
Laerskool – sluit grondslagfase in
Vir graad 1 – 3 bied ons materiaal wat al vier die vakke in hierdie ouderdomsgroepe dek. Dit is Afrikaans Huistaal, wiskunde, lewenswetenskappe en Engels Eerste Addisionele Taal.
Vir graad 4, 5 en 7 bied ons gratis werkkaarte en memorandums vir Afrikaans Huistaal en Afrikaans EAT. Graad 6 is tans in die ontwikkelingstadium en sal binnekort beskikbaar wees.
Hoërskool
Vir graad 8 en 9 bied ons gratis werkkaarte en memorandums vir Afrikaans huistaal en Afrikaans EAT.
Ons het ook ‘n matriekklaskamer wat die volledige sillabus vir Afrikaans huistaal en EAT dek en ook deur die graad 10 en 11-leerders gebruik kan word.
Algemeen
Hier kan ouers en opvoeders in-diepte artikels lees wat ouerleiding gee en onderrigverwante kwessies dek. Daar is tans ongeveer 200 artikels gelaai.
Leefstyl
Afgesien van die uitgebreide leerhulpafdeling, probeer Afrikaans.com iets vir elke smaak bied. Besoekers kan uitsien na interessante profiele oor bekendes, skreeusnaakse blogs, video’s, taalspeletjies, podsendings, leefstylbrokkies en ‘n steeds groeiende en baie gewilde resepafdeling. Verder bemark ons ook ons feeste, Afrikaanse literatuur en relevante geleenthede wat deur die talle Afrikaanse organisasies gehou word.
Watter ander organisasies is daar in die onderwyssektor waarby leerders, ouers en onderwysers kan baatvind?
Daar is verskeie wat ons kan noem, maar nooi lesers uit om ons Leerhulpafdeling te besoek en op die Onderwysmarkplein te klik. Daar is tans ‘n lys van meer as 25 ander uitmuntende organisasies wat ons aanbeveel en wat deel uitmaak van die Afrikaanse onderriglandskap.
Lesers kan bloot net op die organisasie van hul keuse klik om te sien wat hulle bied.
Al hierdie organisasies is op verskillende maniere en deur ‘n ryk verskeidenheid projekte, materiaal en dienste en toerusting en opleidingsmodelle daar vir die behoud en bevordering van gehalte onderrig in ons land. Organisasies sluit in:

Die AON (Die Afrikaanse Onderwysnetwerk)
Die AON is ‘n netwerkorganisasie wat Afrikaanse onderwys in samewerking met vennote bevorder. Nuusbrief met feite en wenke. Werkswinkels en VKO-seminare.Die AON fokus op die instandhouding, versterking en uitbouing van gehalte Afrikaanse onderwys, van voorskoolse tot tersiêre vlak.
DIE MOS
Die MOS Inisiatief is ‘n onafhanklike skolenetwerk wat gehalte en toekomsgerigte Afrikaanse onderrig verskaf deur die stigting van onafhanklike privaat skole en hul wêreldwye aanlyn tuisskool MOS-wêreldwyd. ’n Nuwe en innoverende benadering tot leer maak Die MOS ‘n unieke ervaring.
AKADEMIA
Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling met twee onderrigleermodelle (die nauurse afstandsmodel en voltydse kampusmodel), vyf dinamiese fakulteite, verskeie programme en ʼn bruisende studentelewe is Akademia jou Afrikaanse studietuiste.
ATKV (Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging)
‘n Wye verskeidenheid taal- en kultuurprojekte soos debat en redenaarskometisies, tienertoneel, musiek en danskompetisies en Olimpiades.
FAK
Die FAK is die oudste Afrikaanse kultuurorganisasie in Suid-Afrika en bied sedert 1929 ’n tuiste vir alles Afrikaans. Die FAK pak verskeie projekte aan vir die bevordering van Afrikaans en die beskerming en bewaring van ons ryk erfenis.
FEDSAS
FEDSAS is die leier in skoolbeheerliggame met hul primêre fokus die ontwikkeling en toerus van sodanige skoolbeheerliggame.
SAOU
‘n Onderwysunie toegewy aan onderwysers: opleiding, ondersteuning en bemagtiging van opvoeders om gehalteonderrig te verseker.
SOS
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) werk om die toekoms van Christelike, Afrikaanse onderwys te verseker deur gehalteonderrig wat reeds bestaan in stand te hou, én waar nodig nuut te bou. Die aanlyn Wolkskool is deel van SOS.
KLASKAMER(LAPA Uitgewers)
Bekostigbare boeke vir almal se smaak met ‘n keur van kinder- en jeugverhale. Die Klaskameraad-afdeling fokus op taal-, studie- en leesgidse, asook klasgidse.
NB-uitgewers
Kinderboeke.
MIND MOVES INSTITUTE
Die Mind Moves Instituut span natuurlike beweging in as ‘n katalisator om leer te optimaliseer. Toegepaste neurowetenskap en beweging word gekombineer om vaardige, selfbewuste en veerkragtige persone te ontwikkel om vreugdevol te lewe van die jongstes tot ouer volwassenes.
PRACTICA
Die Practica Program is ’n tuisgebaseerde, een-tot-een opvoedingstimulasieprogram en produkte. Breinontwikkeling word op ’n natuurlike wyse geoptimaliseer deur met kinders te speel as deel van die daaglikse roetine.
SAKAI
SAKAI (SACAI), ‘n privaat- asesseringsinstansie, en bedien primêr tuisskoolleerders, afstandsonderriginstansies, kleiner onafhanklike skole en leerders wat leerhindernisse ondervind.
SBA (Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans)
Vir plaaslike gemeenskappe, bied die SBA ‘n uiteenlopende aantal digitale hulpbronne gratis aan leerders, opvoeders, ouers en taalliefhebbers.
Dit sluit in kinderpublikasies met meegaande animasievideo’s, aanvullende onderrigmateriaal vir die klaskamer of verryking tuis, en ‘n YouTube-kanaal wat videomateriaal van relevante projekte deel.
SIYAFUNDA EDUCATION FOUNDATION
Siyafunda maak met hulle opleiding en modules wat hulle ontwikkel het programmering (kodering en robotika) toeganklik vir beginners.
VivA
Taalonderrigportaal (VivA se onderwysafdeling) bevat onder meer toegang tot die Woordeboekportaal (en apps) waar woorde se spelling nageslaan kan word, ’n taaladviesdiens waar kundige antwoorde op taalnavrae verskaf word.
VVA (Vriende van Afrikaans)
Bevorder lees en maak reeds 30 jaar lank seker dat kinders oral in Suid-Afrika die wonderwêreld van boeke en lees ervaar. Hul vlagskipprojek is die boektrommels vol heerlike boeke wat by verdienstelike skole en kleuterskole besorg word.
WAT (Die Woordeboek van die Afrikaanse Taal)
Die WAT is ’n sinchroniese verklarende woordeboek wat op ’n omvattende manier verslag doen van die Afrikaanse woordeskat in sy wydste omvang. Dit is ’n akademiese woordeboek wat as ’n gesaghebbende naslaanbron deur taalkundiges, ander navorsers en liefhebbers van Afrikaans gebruik kan word.
WEET (Maroela Media)
Weet is ‘n aanlyn ensiklopedie en e-naslaangids vir leerders. Met dié platform kry leerders toegang tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat sal stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!