Skrywer: Seugnet van Zyl
Met ’n besige paar maande agter die rug, het daar nou saam met die koue Kaapse weer ’n effens stadiger pas vir Roeline Daneel, ’n aktrise, stemkunstenaar en ma van twee, aangebreek.
Roeline het ’n konstante teenwoordigheid op kykNET, waar sy sedert 2011 in minstens 10 reekse gespeel het, waaronder Arendsvlei, Diepe Waters, Fraksie, Sara se Geheim, Niggies en nou Die nuusmakers.
Om ’n aktrise te wees, is beslis in haar DNS. Haar ma is Elsabé Daneel, welbekende Suid-Afrikaanse aktrise, voordragkunstenaar en aanbieder.
Roeline is tans op Dinsdagaande in Die Nuusmakers op kykNET te sien.
Dié drama volg die lewe en loopbane van ’n groep joernaliste wat vir ’n TV-nuusprogram werk. Met ’n ster-rolverdeling en ’n gedugte span agter die kameras, gaan dit kykers wys wat dit verg om die storie agter die storie te kry.
Roeline speel die rol van Karla Viljoen, ’n veldverslaggewer wat altyd eerste op die toneel is. Sy is vreesloos en sal enigiets doen om die storie te kry. Karla kan sarkasties en sinies wees. Sy het min tyd vir mense wat net die sonkant van die lewe wil sien, maar sy het ook ’n hart van goud en sal altyd help wanneer sy gevra word.

Hoe was jou ervaring om die rol van nuusjoernalis te speel?
Dit was ’n heerlike projek. Weer eens ’n uitmuntende span, en boonop ’n heerlike karakter wat anders is as wat ek gewoonlik vertolk (maar dalk effens meer soos ekself is?). Dis ’n interessante wêreld waarin die karakters werk, en ek het boonop baie geleer deur die stories wat in die reeks gedek word, van prostitusie tot omgewingsake.
Het jou honneursgraad in joernalistiek jou in hierdie rol gehelp?
Ek dink dit het gehelp dat ek die mense ken wat aangetrokke is tot daardie beroep. Dis lang ure, baie toewyding, dikwels ondankbaar en soms selfs gevaarlik. So, dis ’n baie spesifieke spesie wat harde joernalistiek doen. Dis werklik passievolle, hoogs intelligente en empatiese mense.
Roeline was onlangs te sien in die dramareeks Niggies wat gegrond is op ware gebeurtenisse. Sy het die rol van Maks Fouché – naby familie van die twee twaalfjarige niggies, Issie Fourie en Petro Nel – vertolk. Die twee niggies is in 1966 in die rustige dorpie Odendaalsrus in die Vrystaat ontvoer en vermoor.
Meer oor Niggies:
Maks is swanger in die tonele in die 1960’s in Niggies.
Anders as haar werklike swangerboep in die laaste seisoen van Die Byl wat vroeër vanjaar op kykNET uitgesaai is, vertel Roeline hoe sy ’n vals boep moes dra vir dié tonele in Niggies.
“Dit was laat-lente en vrek warm in daardie ding! Ek was swanger in die laaste seisoen van Die Byl (wat vroeër vanjaar uitgesaai is op kykNET) met my jongste. Toe die oudisie verbykom, het ek my agent laat weet om die produksiemense in te lig dat ek waarskynlik al opmerklik swanger gaan wees wanneer ek moet verfilm. Dié karakter het nie ’n liefdesstorielyn nie en sy is ’n gewetenlose mediese dokter wat genetiese werk op fetusse doen, so die swangerskap was eintlik ’n lekker element!

Waarmee is jy nou besig?
Ek verfilm aan niks op die oomblik nie wat my bietjie angstig maak (dis maar die donker kant van vryskutwerk), maar ek is besig met radiowerk, stemwerk en ’n boekvoorlesing. Verder het ek tyd vir al die dinge wat ek nie kan doen as dit te druk gaan nie. My kinders, kosmaak, kar diens, kaste regpak en dies meer!
Roeline het in Junie gedigte oor legendes soos prinses Diana, Freddie Mercury, Muhammed Ali en Desmond Tutu, vir “Vers en Klank” op RSG voorgelees.
Roeline is ma van twee kinders, Alexa (5) en Jan (1). Sy is getroud met Werner Lotz, ’n argitek.
Hoe het ’n tweede kind jou en julle gesinslewe verander?
Op die beste manier denkbaar. Hy is pure vreugde en gelukkig waar ook al hy neergeplaas word. Dis asof hy nog altyd hier was. My huisdokter het voor sy geboorte, toe ek bekommerd was oor hoe ek al die balle in die lug gaan hou, vir my gesê dat al my groot aanpassings reeds gemaak is, en dit was baie waar. Die sprong van geen kinders na een, is massief. Die sprong van een na twee is net lekker.

Hoe kies ‘n akteur ‘n rol of word ‘n akteur ‘n rol aangebied?
Hierdie bedryf is nou nie die grootste nie, en alhoewel mens nie kan kies en keur nie, kan mens wel “nee” sê vir rolle of jouself skaar by projekte, tekste of vervaardigers wat jou opgewonde maak. Gewoonlik kry mens maar via jou agent die oudisies vir die rolle waarvoor jy aangevra word. Maar soms hoor jy terloops van iets waarvoor jy jou naam in die hoed wil gooi, dan moet jy maar bietjie parmantig wees en ’n oudisie versoek.
As jy jou rolle self kan kies, wat neem jy dan in aanmerking? Het jy dalk blokkies wat jy aftiek?
Baie dinge. Die span (vervaardiger, regisseur, skrywer/s, mede-akteurs) en die teks is seker die grootstes. Dan soek mens ook iets wat jou opgewonde maak en bietjie uitdaag, iets wat anders is as die vorige rol/le wat jy vertolk het. Omdat ek jong kinders het, moet ek ook dink aan hoeveel tyd dit in beslag gaan neem en waar dit verfilm word.
Is jy al ‘n vreemde rol aangebied? Dalk een wat jy dalk nooit jouself in gesien het nie?
Mens kry maar gereeld dieselfde tipe rolle. Ek kry dikwels óf pligsgetroue, gawe karakters (die meisie langsaan, die maatskaplike werker of die goeie eggenoot en ma), óf afgeronde, gemene karakters (die dokter of die prokureur met die donker geheim). Maar dis lekker om iets buite jou gewone gemaksone te kry. Karla in Die Nuusmakers, was vir my so ’n karakter. Sy is nie moederlik of saggesproke nie, sy rook en swets, maar sy het ’n hart van goud.
Kan jy jou lekkerste rol tot dusver uitsonder?
Ek sal nooit net een kan kies nie. Dis dikwels eerstes. My eerste filmrol (Oliver Hermanus se Skoonheid, wat by die Cannes-filmfees gewys het), die teaterwerk saam met ons teaterkollektief, Polony, in ons twintigs, my eerste film in Duits (ek het slegs Matriekduits en dit was ’n helse uitdaging om te werk in ’n taal waarin jy nie gemaklik is nie). Die onlangse reeks, Niggies, was beslis ook ’n hoogtepunt. Die span, die teks, die biografiese gegewens, die twee tydvakke waarin die reeks afspeel – dis alles dinge wat nie gereeld in ’n loopbaan gebeur nie.
’n Rol wat jou besonders uitgedaag het?
Ek het slegs een speelvak gedoen van die enigste eenvrouvertoning waarin ek al was. Ek was nog skelm swanger met my eerste kind en so naar en moeg en bang en onseker.
Hoe maak jy elke rol jou eie?
Ek onthou Antoinette Kellermann, een van my dosente, het op universiteit gesê mens moet soveel lééf en beleef as wat jou waardesisteem jou toelaat, want dit alles dra by tot jou geheuebank wat jy gebruik om jou karakters te bou. En soos jy ouer word, is daardie bank ryker en voller. Elke ervaring, elke gewaarwording, is iets wat jy kan gebruik om ’n karakter te verstaan.
Jy is baie lief vir teater.
My Mense is die Kluts Kwyt (is Groot) in Maart 2020 was die laaste keer wat ek op die verhoog was, kan jy glo! Direk daarna het Covid gebeur en, sonder dat ek dit so beplan het, het verhoogwerk nie weer oor my pad gekom nie. Die teater is ’n wonderlike en magiese ruimte, maar ek sal moet hoop verhoogwerk is soos fietsry as die geleentheid weer oor my pad kom!
Na wie kyk jy op as akteur?
Ek dink dit help nie veel om na Hollywood te kyk nie, want die milieu waarin hulle werk, is so anders as ons s’n, mens kan dit eintlik nie vergelyk nie. Die mense na wie ek die meeste opkyk, is mense hier op eie bodem, effens ouer as ek, wat reeds vir ’n goeie paar dekades akteurswerk hul nering maak. En dis nie swier en glans in Suid-Afrika nie, dis baie harde werk en vasbyt en ongelooflike werksetiek en opoffer. Mense soos Tinarie van Wyk Loots, Erica Wessels en Rolanda Marais was op universiteit my helde, en nou is hulle kollegas, klankborde en vriendinne.
Is daar iemand saam met wie jy nog wil werk of ‘n droomrol?
Ek sê nou ek wil nie te veel Hollywood toe kyk nie, maar dit sal darem lekker wees om die ervaring te hê om ’n behoorlike rol te vertolk in ’n produksie wat behoorlike tyd en geld het om magic te skep. Saam met ’n ikoon soos Cate Blanchett of Kate Winslet. Maar my ambisies is geensins om buite Suid-Afrika te werk nie. My mense is hier.
Wat is jou gunstelingtyd van die dag?
Ek is ‘n naguil, so dis vir my in die aand, as dinge stil word en die meeste mense slaap.
Wat drink jy as jy wakker word?
My man bring vir my elke oggend ’n koppie filterkoffie in die bed. Melk, geen suiker. Ek sukkel baie om op te staan daarsonder.
Jou gunsteling- Afrikaanse woord of sêding?
Sy is nie op haar bek geval nie. En poenankies.
Jou gunstelingdrankie?
’n Koue MCC Brut.
Jou laaste gereg wat jy sal eet?
Waarskynlik iets nostalgies uit my kinderdae, soos winkelwitbrood met stroop en grondboontjiebotter.
Jou gunstelingboek?
Ek sal nooit net een kan kies nie. Skrywers wat my na aan die hart lê, is Jonathan Franzen, Donna Tartt, Margaret Atwood, Ian McEwan. Ek sal enigiets lees wat hulle skryf.

- Luister hier na die episode van “Vers en Klank” op RSG waar Roeline gedigte oor legendes voorlees. Klik hier.