Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 10: 23 Junie 2025
Gasspreker: Immanuel Europa
Hoe om beter vir ‘n eksamen voor te berei.
In episode 10 gesels Immanuel Europa, Senior kurrikulumbeplanner vir Afrikaans by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement oor eksamenvoorbereiding, die rol wat die opvoeder in die proses speel en wat die leerder se verantwoordelikheid is.
Eksamenvoorbereiding is belangrik om met minder angs die eksamen aan te pak.
Watter rol speel die opvoeder in die proses?
Kreatiwiteit is hier van belang. Die opvoeder moet die voorgeskrewe kennis en vaardighede (JOP) op kreatiewe en interaktiewe wyse aan die leerders oordra, want dit moet vir hulle lekker wees en hulle nuuskierigheid prikkel. Natuurlik word dit vermag deur deeglike voorbereiding en navorsing oor die relevante en aktuele onderwerpe en aktiwiteite. Nog belangriker, is die skep van leeroomblikke in die klaskamer, aldaar baie leerders nie die spasie of geleentheid tuis het nie.
Hoe kan die ouers/voogde help om sukses te verseker?
Die huidige kurrikulum stel hoe eise aan leerders wat dikwels buite die ouers se kennis of ervaringsveld strek. Tog het die ouers ‘n fenomenale rol om te vervul deur onder andere ondersteuning en bystand te verleen, te sorg vir ’n geskikte leeromgewing en om ook in die kind se basiese behoeftes te voorsien. Die harde werklikheid is dat baie leerders weens sosio-ekonomiese agterstande geen of bitter min van die noodsaaklike en broodnodige steun ontvang. Onthou egter, blote belangstelling in en gesprekvoering met jou kind gee die deurslag.
Wat is die leerder se verantwoordelikheid?
Toegewydheid, ywer en deursettingsvermoë bly steeds die grondslag vir sukses. Leerders moet geleer word dat ‘n mens nie deur jou omstandighede bepaal word nie. Jy, as leerder wat wil uitstyg en ‘n blink toekoms vir jouself wil skep, is die een wat jou omstandighede bepaal. Doen elke dag wat verwag word en jy sal suksesvol wees. Kry vir jou ’n maatjie vir ‘n praatjie – vir akademiese gesprekke. Gebruik elke leeroomblik en lees verskeie tekste en artikels. Leesbegrip en woordeskat is van uiterste belang.
Is dit nog deesdae nodig dat leerders verder moet studeer?
Die huidige werkopset bevoordeel steeds leerders wat naskoolse opleiding doen. Die ideaal is dat daar werksgeleenthede vir skrynwerkers en ambagsmanne geskep word, maar dit draal. Aldaar is dit tog steeds belangrik dat jy voor in die ry kom, wat ‘n verdere opleidingsertifikaat jou gaan gee.
Die e-klaskamer. Waar pas dit in ons diverse samelewing in?
Ons lewe in ‘n gejaagde samelewing wat deur e-kommunikasie aangevuur word. Leerders moet dus op hoogte bly van tegnologie en inligting. Ongelukkig is die nodige infrastuktuur en apparate nie tot almal se toegang of beskikking nie… Feit is – die leerders moet steeds inhoud en kennis leer en dan assessering daaroor kan aflê.
Is daar raad vir ons leerders wat dikwels oorweldig voel deur die hoeveelheid skoolwerk wat hulle moet baasraak?
Die inhoud en konsepte kan leerders soms moed laat verloor. Maar gelukkig is daar altyd ‘n plan B of C. Maak jou sommetjie sommer vroeg in die jaar, veral nadat jy kwartaal 1 se uitslae ontvang het. Dan het jy ’n goeie idee aan watter vaardighede jy meer aandag moet gee, bv. skryfwerk of in baie gevalle is dit die taalgebruik of die voorgeskrewe literatuur wat baie leerwerk verg. Begin deur weekliks slegs twee of drie aspekte te leer wat verseker dat jy sal slaag. Die beter simbole sal dan net ‘n bonus wees.
Behoort leerstrategieë oor hoe om te leer deel van die skoolkurrikulum op ’n spesifieke stadium te wees?
Baie beslis! Dit is ‘n groot frustrasie as leerders slegs in September bekendgestel word aan hoe om ‘n studierooster op te stel of watter leermetodes gebruik kan word. Soos vroeër genoem, begin die voorbereiding vir die eindeksamen alreeds vanaf die eerste skooldag.
Die WKOD het ‘n oulike boekie wat jaarliks uitgegee word: “Wenke vir Sukses”. Dit bevat ‘n uitleg van elke vak se inhoud, studiewenke, artikels van graad 12-leerders wat sukses behaal het, asook inligting oor verdere studies. Die vak, Lewensoriëntering, gee ook waardevolle leiding aan leerders oor studies en loopbane.
Wanneer behoort eksamen skryf deel van die skooljaar te wees? Veral as ‘n mens kyk hoeveel angs dit kan veroorsaak.
Die kurrikulum maak voorsiening vir informele en formele assessering regdeur die jaar. Aan die einde van elke kwartaal word daar toetse of eksamen afgelê wat die leerders deeglik voorberei vir die finale eksamen. Dit is egter van kardinale belang dat leerders eksamenvaardighede aangeleer word. Ook sluit dit aan by gereelde lees en leer wat die angs baie verskraal.
Laaste paar woorde aan die leerders … aldus Immanuel Europa:
Lees gereeld. Leer gereeld. Leef voluit in Afrikaans.
Kyk hier na die episode:
Lees ook:
Studiegroepe as leerstyl hou baie voordele in – Afrikaans.com
Eksamenvoorbereiding: Doen dit behoorlik en verminder so jou stres. – Afrikaans.com
Eksamenvoorbereiding: Afrikaans Huistaal en Afrikaans Eerste Addisionele Taal. – Afrikaans.com
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!