Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Wat jy sien is wat jy kry … suiwer Anton-magic.
Hy staan dalk bekend as die Liedjieboer, die Vader van Afrikaanse rock, en Jantjie Blom, is boonop eksentriek en beslis nie ’n konformis nie, maar uiteindelik is hy net Anton Goosen – musikale genie – wat na dekades dit steeds regkry om met sy lirieke en spesiale klank Suid-Afrikaners van hier tot in die vreemde te inspireer en te bekoor. Dit was vir Afrikaans.com heerlik om met hierdie legende te gesels.
Anton is in Middelburg in die Oos-Kaap gebore, maar vra jy vir sy ouers, vertel hulle dat hulle hom op die Renosterberg buite die dorp gevang het en sy stert afgekap het. Nou ja … wie is ons om te stry.
As kind het die Goosens baie rondgetrek, want Anton se pa was werksaam in die poskantoor en is gereeld verplaas. Sy ouers het juis in die poskantoor op Okahanje (sy ma se geboorteplek) ontmoet en hy vertel dat hulle op die kaai in Swakop verloof geraak het. Anton was in Kroonstad in twee laerskole, Sentraal (Paddavlei – vandaar die “paddafontein” in sy liedjie Kruidjie-roer-my-nie) en Noordheuwel. Daarna was hy in Afrikaans Hoërskool Kroonstad en matriek in die Hoërskool Goudveld in Welkom.
Na skool vertel hy dat hy Heidelberg Onderwyskollege toe is om Spesiale Onderwys (SpO) te swot, maar dat die rede eintlik grootliks was omdat hy op daardie manier die weermag kon vermy. Hulle het wel elke Maandag op kollege ’n offisierskursus (OKKO) bygewoon “en een kamp in die yskoue winter in Potch wat drie weke lank was”. Anton vertel ondeund dat hy en sy orkesvriend Dirk Stassen vinnig besef het dat hulle Maandae die fout maak om eerste die registerbywoning te doen (roll call) en dan het hulle op en af Nigel se kant toe marsjeer. Anton en Dirk het dan hulle kans gegryp en flink terug masjeer na hulle koshuiskamers toe.
Hy vertel met deernis van sy broer Ben. “Ek was baie lief vir hom. Toe ek op skool rock ‘n roll ontdek het en onder andere na Chuck Berry en die Beatles geluister en kitaar gespeel het, het hy na Jim Reeves geluister en trekklavier gespeel.”
Na sy opleiding was hy onderwyser by Laerskool Suidheuwels en Alberton Primary en het uiteindelik as Afrikaansonderwyser by St Stithian’s Preparatory School in Sandton beland. Dit blyk dat die musiekman nie net musiek gemaak en Afrikaans gegee het nie, maar hy het ook destyds gekwalifiseer as krieket- en Suid-Transvaal- sokkerskeidsregter. Anton noem terloops dat een van sy leerlinge John Leyden van Mango Groove was.
Tydens sy jare by St Stithian’s het hy Jantjie – ‘n tweebedryf-musiekblyspel geskryf en saam met die hele laerskool opgevoer. En toe … het hy begin liedjies skryf.
Anton en sy gewese vrou het ook pottebakkery gedoen en klas gegee. Terselfdertyd was Anton ’n vryskut-musiekresensent by Beeld en Huisgenoot. Dit was in daardie tyd dat hy ’n onderhoud met nog ’n legende van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf gevoer het, Sonja Herholdt – maar so bietjie meer hieroor later.
Vanaf die Hennopsrivier na die see by Gansbaai
Ongeveer 18 jaar gelede was Anton die slagoffer van ’n plaasaanval – iets wat hy as verskriklik beskryf, want “dit ruk die hart uit jou binnekamer uit”. Daarna het hy see toe getrek waar hy reeds 18 jaar lank woon. “By die see het ek herstel. Waar ek jare langs die rivier gewoon het en wat heerlik was, is dit nou die geval van alle riviere lei na die see. Gansbaai is ’n vissersdorpie sonder enige pretensies of dampkringe. Wat jy sien is wat jy kry. En ek hou daarvan. Daar is wonderlike natuurskoon in die omgewing en ons huis, Laventel-huisie, het ’n uitsig oor beide hawens asook Walkerbaai.”
Sedert die groot trek af kus toe, het Anton ’n hele paar albums uitgereik, onder andere Padkos (Diep blou see) en sy jongste album, Sirkels met die treffers Luka, Tik Tok en Bly by my, my lief daarop. Laasgenoemde was ’n toonsetting van ’n gedig deur Antjie Krog. Anton vertel dat Antjie se ma, die bekende skrywer, Dot Serfontein, en sy ma beste vriendinne op Kroonstad was.
Vertel meer oor jou album Sirkels.
“Ȇrens word die sirkels verbreek en hou tyd op om te bestaan.”
Anton sê dat hy spesifiek ’n konsepalbum wou maak. “Die lewe is sirkels, alles vorm sirkels met tyd. Sirkels vorm deel van die album in sy geheel, of dit nou die spoorweghorlosie in Tik Tok is, of die kringe in die water van Dear Henry of die paaldans van Gigi – die sirkels van tyd …”

Hoe ervaar jy die ouderdom hier naby 80?
Hy sê dis maar dieselfde as op 17, behalwe dat “’n mens se lyf verander en dat die onderdele moeiliker raak om te vervang. ’n Mens hou wel van die meer rustige bestaan en in ’n mate die afwesigheid van die voortvarendheid van die jeug wanneer mens besef dat James Dean se ‘I’m against it, whatever you’ve got’! nie meer so belangrik is nie.”
Jou talent en lewenslange bydrae tot Afrikaanse musiek kan nie misgekyk word nie. En jy was nog altyd net jouself – hoe doen jy dit?
Was jy altyd maar die “anderste” kind en jongmens?
“Remember you are all different … I’m not.” – Monty Python Life of Brian.
Anton vertel dat hy maar van kleins af ’n “outsider” was wat die wêreld dopgehou het en nooit daarvan gehou het om te konformeer nie. Sy graad 1-juffrou het op sy eerste rapport geskryf: “Ek is baie lief vir Anton, maar hy kan geen kind met rus laat nie.” Sy ma het glo baie daaroor gehuil. “Ja, ek was altyd net myself en ja … dis bevrydend, maar terselfdertyd moeilik, want die samelewing is nie ook so nie en is dikwels skepties oor eksentrieke gedrag en denke. Ek kon nog nooit die PR-ding doen nie van ‘vertel die mense wat hulle graag wil hoor’, in plaas van die naakte waarheid nie.”
Op skool het jy ’n orkes gestig. Waar het die liefde vir musiek vandaan gekom?
“My ouma aan my ma se kant het haar lisensiaat in viool en klavier gehad. My pa het mondfluitjie gespeel en Ierse liedjies in die kar gesing wanneer ons van kuiers op plase teruggery het dorp toe. In graad 9 het ek my eerste kitaar gekry. En dit was die tyd van rock ’n roll se kleuterjare. Rockmusiek in sy sosiale verband is ’n statement, ‘n lewensfilosofie teen die grein van politiek en die alledaagse. Dit het my gelok soos ‘n magneet.”
Anton vertel dan ook dat hy in graad 11 na die skoolsielkundige verwys is omdat hy sogenaamd gedragsprobleme gehad het. Die sielkundige het bevind dat daar volgens hom geen toekoms in musiek vir Anton was nie. Ook – toe Anton in graad 3 was – wou sy juffrou tot groot ontsteltenis van sy ouers, hom laat toets het vir toelating tot die verstandelik gestremde klas – wat darem nie gebeur het nie. Sê Anton: ”Daardie tyd het ek nie daaraan gedink nie, maar vandag sou ek daai skoolsielkundige geantwoord het dat ek dink daar is nie ’n toekoms vir hom in sielkunde nie.”
Boy van die Suburbs (1979) was jou eerste album.
Al die liedjies uit jou pen en volledig in Afrikaans – ’n eerste vir Suid-Afrika. Vertel bietjie meer oor die album – die dryfveer daaragter, want jy het protes aangeteken teen talle ongeregtighede van die tyd – iets wat dalk nie so lekker aan die lyf van sekeres gesit het nie – en tog was die verkope fenomenaal.
“Die Afrikaanse musieklandskap het braak gelê en ek het op Suid-Afrika en sy mense gekonsentreer. Boy van die suburbs was musikale sosiale kommentaar op ons mense, hetsy die zef-deel of die la-di-da-deel, die gewoontes en die kultuur, die volksgewoontes en geskiedenis, romantiek, legendes en mites en dies meer. Ja, daar was kritiek: Begrafnistyd in Zeerust is byvoorbeeld deur die SAUK verbied, en een van die talle gesinne wat beweer het dat die Spookmeisie van Uniondale hul familie was, het hul vir my vervies, maar die album het puik gevaar. Vandag as ek terugdink, dink ek dit was omdat dit dalk ’n eerste was.”

Woorde is vir jou baie belangrik en jou lirieke is nie net sommer nie – dit maak ’n stelling.
Hoe gaan jy te werk om ’n goeie liriek te skryf? Wat kom eerste? Die liriek en dan die musiek of andersom?
“Die feit dat Blommetjie gedenk aan my die eerste Afrikaanse rockliedjie was, is bloot toevallig. Chris Kritzinger, my eerste regisseur, het by die aanhoor onmiddellik gesê, ‘jy gee nie hierdie een ook weg nie!’ en in die ateljee die instruksie vir die tromspeler gegee, ‘Think Baby Come Back’ (van die Equals). En dit was dit.”
Anton verduidelik dat hy sy liedjieskryf holisties benader. “Gewoonlik is dit die tema heel eerste en dan navorsing oor die onderwerp en dan bietjie-bietjie musiek en liriek. Wanneer ek die totale wysie het, vul ek dan die res van die versies se liriek in.
“Ja, woorde is geweldig belangrik en ek weeg dikwels woorde. Dis ook belangrik om nie bo of onder die luisteraar se woordeskat of musikale begrippe te skryf nie. Luisteraars moet agterna kan identifiseer, amper soos ‘ek wens ek het dit gesê’”. Tog meen Anton dat daar nie regtig ’n resep vir goeie liedjies is nie, maar, lag hy, “daar is wel resepte vir die sogenaamde snert”.
Waar kom jou inspirasie en/of idees vandaan?
En hoe hou jy dit vars en relevant na soveel jare. Jou musiek klink beslis nie soos die meeste ander Afrikaanse musiek nie.
“Dis ‘n kwessie van om die vuurtjie wat binne brand, in melodieë en woorde te probeer omskep.”
Anton beskou homself as ’n musikale joernalis. “’n Musiekspons wat musikale prikkels omhels. Dis die romantiese sy van skryf. Ek werk op inspirasie en dan perspirasie.” Hy beklemtoon wel dat hy nooit musiek vervaardig wat spesifiek markgerig is nie.

Vertel ons van die proses om liedjies vir ander kunstenaars te skryf
– want jy kan tereg daarop aanspraak maak dat jy met liedjies boer.
“In die begin (1976) het ek vir Huisgenoot ’n onderhoud moes voer met die nuweling Sonja Herholdt (Ek verlang na jou) – dit was haar en my eerste onderhoud. Sy het stof gesoek vir haar debuutalbum en in ’n opvolgkuier by my huis op Jantjie afgekom wat ek in ’72 vir die blyspel by St Stithian’s geskryf het. Daarna het ek ’n rits liedjies vir haar geskryf – ek het nou die dag getel en dit was 52 in totaal!” Hieroor sê Sonja die volgende: “Ek was doodbang om met die man van Huisgenoot ’n onderhoud te voer en het twee van my vriendinne gevra om teenwoordig te wees. Ek het darem ‘n lekker melktert gehad vir koffie, maar ek dink Anton was maar taamlik geamuseerd met hierdie onervare meisie.”
Anton vertel voorts dat hy ook vir Carike Keuzenkamp begin skryf het, asook vir Laurika Rauch, Vicky du Preez, Cornelia, Herbie en Spence, Gene Rockwell, Glennys Lynne, Four Jacks and a Jill, Gé Korsten, Marie van Zyl, en so meer.
“Sekere liedjies het ek met die kunstenaar in gedagte geskryf, maar die meeste het maar net vanself gevloei uit my waarnemings en emosionele ervaringe. Ek het meestal net geskryf en agterna gedink by wie die liedjie sal pas …”
Sonja Herholdt vertel meer …
“Toe ek Anton se goed hoor, toe hoor ek net daar’s ‘substance’ en die lirieke was so vars en anders – dit was musiek wat ek wou sing.” – Sonja Herholdt
Sonja vertel dat sy destyds op soek was na nog liedjies vir haar debuutalbum (Ek verlang na jou), en haar bestuurder, Corrie Rademeyer, het voorgestel sy kontak hierdie baie goeie liedjieskrywer van Randburg. Dit was toe Anton Goosen. Hy het aanvanklik verby die liedjie Jantjie in sy musiekboek geblaai, maar sê Sonja: “Toe ek die eerste keer die liedjie en woorde gehoor het, het ek net geweet dit is ’n hit en was ek vasbeslote om dit te sing.”
Sy vertel dat dit maar ‘n bietjie van ’n stryd was om die platemaatskappy te oortuig, want hulle het hulle eie idees gehad en Anton se musiek was vir hulle vreemd, veral omdat hulle gewoond was aan vertalings – liedjies wat sy nie wou sing nie.
“Maar, my instink het net vir my gesê ons het hier met iets besonders te doen en ek het daarop aangedring om Anton se liedjies op te neem – hulle het darem baie gehou van Jantjie – wat saam met ander liedjies van Anton op die album was en uiteindelik ‘n baie groot treffer geword het.”
Volgens Sonja, was dit in die tyd dat Anton behoorlik vlam gevat het. Sonja vertel verder dat sy haarself met al sy liedjies kon vereenselwig en dit het vir haar gevoel of die liedjies net vir haar geskryf was. “Daar was ‘n kameraderie tussen ons – ek het hom waardeer – daar was nie ’n ander skrywer soos hy nie. Ek kon sy liedjies as’t ware voel en vertolk (dit was amper asof ek self die musiek geskryf het) – en die albums het soos soetkoek verkoop. Selfs beter as Abba se musiek wat in die sewentigs ook in Suid-Afrika gewild was. My albums met Anton se liedjies het egter plaaslik meer verkoop. Mense was mal oor Anton se musiek en dit was werklik ’n goue era vir ons. Baie spesiaal en kosbaar.”
Oor Anton as mens sê Sonja:
“Hy’s ’n fyn waarnemer … iemand met ’n mooi en sagte hart.”
Sy sluit af: “Anton het werklik ’n gawe gekry om ’n besondere skrywer van Afrikaanse musiek te wees. Hy kon nog altyd liedjies skryf met sterk melodieë en woorde wat saam met die melodie vloei. Sterk liedjies, treffers. En ja, daar is ander liedjieskrywers in Afrikaans wat goed is en ook treffers geskryf het, maar daar is maar net een Anton.”

Sonja Heroldt en Anton Goosen(Foto: KKNK)
Hanlie Retief het jou biografie geskryf – was dit vir jou maklik om deel te wees daarvan?
Hoe het jy besluit wat om te deel en wat om uit te laat.
“Hanlie en ek het heerlik saamgewerk. Aanvanklik het sy hiernatoe gery vir onderhoude, maar toe het ons besluit om die boek op WhatsApp te doen. Na vertonings, op lughawens, in gastehuise en wanneer ek ook tyd gehad het, het ek stemboodskappe opgeneem soos wat ek onthou het, of in antwoord op haar vrae. Sy wou graag my stem vasvang en sy het dit reggekry. Ek het een of twee hoofstukke self geskryf, maar Hanlie het die boek verwoord. En ja, die hele boek se notas is nog op my selfoon onder die titel anton boek.”
Die lewe is vol hoogte- en laagtepunte, maar kom ons konsentreer op van die hoogtepunte in jou lewe.
Is daar spesifiek iets wat uitstaan?
“Behalwe al die dekades se optredes hier en in die buiteland, was alles vir my heerlik. Ek hou baie van toer en my ouers het reis as deel van die vakansie beskou en ons het van kleintyd af oral gestop en gekyk.
“Ek het Londen omtrent 14 keer besoek en sal nooit die verlange van daai jong mense vergeet wanneer ek Jantjie of Geelperskereën sing nie: Black Labels in die een hand, selfoon in die ander … en trane van verlange oor die wange.
“En ’n groot hoogtepunt was op ’n keer toe ons na ’n toer deur Australië teruggekeer het huis toe, maar weens sterk winde, oor die punt van die Suidpool moes vlieg. Daardie toneel uit die vliegtuig, was een van die indrukwekkendste gesigte wat ek nog ooit beleef het.”
Enige iets wat jy dalk sou wou verander as jy nou terugdink?
“Toe ek lank gelede aan wyle Fanus Rautenbach dieselfde vraag gevra het, was sy antwoord ‘ek sou volgende keer bietjie beter beplan het’.”
Wat maak jou gelukkig?
Vir Anton is die ervaring van geluk in sy onmiddellike omgewing, die mense en diere naby hom – sy familie en vriende – alles wat tot sy geluk bydra. “Ek is baie lief vir die natuur: die bosveld, riviere, berge, die see. Ek was bevoorreg om die oorsprong van die Nyl te sien, Victoriameer uit die lug te beleef, te slaap op die strand van die Malawi-meer, die Kongorivier, Kilimanjaro, die Vic-valle. Te veel om op te noem.”

Foto: Facebook
As daar ’n groot advertensiebord vir jou opgerig moet word wat deur baie gesien word, wat moet daarop staan?
“Ek het baie foute, maar ek is darem nie ’n narsis nie en dit sluit selfpromovering in.”
Het jy ’n gunstelingliedjie? Jou eie en dalk ander kunstenaars?
“My eie liedjies is almal my eie kinders en onvergelykbaar, want elkeen het sy eie funksie. Van ander kunstenaars se werk staan Bob Dylan – die grootste liedjieskrywer van alle tye – se oeuvre vir my uit. Maar daar is ’n horde ander ook, bv. Leonard Cohen, Paul Simon, Neil Young, Bruce Springsteen, Marcus Mumford, Joni Mitchell, Robert Plant, Jeff Beck, Alison Krauss … ad infinitum.”
Is daar iets wat mense nie van jou weet nie en wat jy met lesers kan deel?
Hy lag en sê: “Nee, nie juis nie. Ek besig nie noodwendig die suiwerste taal nie, maar ek het ’n kleintjie dood wanneer ek advertensies sien wat “nartjie” met twee ‘a’s’ spel, of mense hoor wat praat van die musiekindustrie i.p.v. bedryf, of ’n liedjie vrystel i.p.v. bekendstel of uitreik. Dis in my kop ingefoeter toe ek vir die kunsblad by Beeld gewerk het.”
Wat lees jy graag? Is daar ’n gunstelingboek/e wat jy sou aanbeveel?
“John Steinbeck, Breyten Breytenbach, Bill Bryson, Eugène Marais, Herman Charles Bosman, Roald Dahl, Etienne Leroux, JM Coetzee, Dana Snyman en deesdae die jong digter Lynthia Julius, et al.
“Boeke wat ’n onuitwisbare indruk op my gemaak het was onder andere Irving Stone se The Agony and the Ecstasy, en Leon Rousseau se Die Groot Verlange.”
Afrikaans is jou moedertaal en die taal waarin jy skep.
Wat beteken die taal vir jou?
Dink jy dis belangrik dat kinders in hulle moedertaal (nie noodwendig Afrikaans nie) moet skoolgaan?
“Afrikaans is die taal waarin ek dink, slaap, bid, skryf, sing, liefdemaak… Afrikaans dans op die tong. Ek glo 100% aan moedertaalonderrig vir kinders en dit geld vir alle tale in ons land. Moedertaal is die taal van die hart.”
Jou nalatenskap sal voortleef in jou musiek en lirieke, maar hoe wil jy, Anton, onthou word?
“Nee, gits ek weet nie. Dalk net as ’n gewone ou wat liedjies geskryf en gesing het. En soms oor allerhande dinge gepeins het.”
Sê Nadine Petrick in ’n resensie oor “Blommetjie gedenk aan my” by die Woordfees 2024: “Terwyl ek hierdie skryf, dink ek terug aan die Anton-magic wat my help grootword het, deur dinge gehelp het en wat ek by min of meer elke studentepartytjie saam met ’n klein bietjie wyn ingekry het. Dis jare gelede. En al is van sy grappies nog presies dieselfde, is ’n mens dankbaar oor élke geleentheid wat jy kry om hom te kan sien speel.
Dankie vir die tunes, Anton.”
