Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 9: 14 Junie 2025
Gasspreker: Prof. Debra Meyer
Hoe berei ek my kind voor om tersiêre opleiding te ontvang.
In die negende episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels professor Debra Meyer, adjunk-visekanselier Navorsing, Innovasie en Nagraadse studies en aangewese visekanselier en prinsipaal van die Sol Plaatje Universiteit, oor hoe om ons kinders voor te berei vir tersiêre opleiding.
Toegang tot tersiêre opleiding is gekoppel aan goeie hoërskoolpunte, maar lank voordat jou kind nog by hoërskool uitkom, is dit belangrik om hom voor te berei en goeie gewoontes by hom vas te lê.
Hier, sê prof Debra, is dit veral belangrik om ’n liefde vir leer by jou kind aan te wakker. Maar … ’n liefde vir leer gaan hand aan hand met ’n liefde vir lees. Hoe doen jy dit?
Prof Debra sê dat dit eintlik heel eenvoudig is. Kinders hou daarvan om vrae te vra. As ouer is jy, terwyl jou kind nog klein is, sy enigste bron van kennis. Na gelang die kind ouer raak en meer ervaring kry, kan jy as ouer hom help deur beter kennisbronne uit te wys. Bestee tyd daaraan om interessante onderwerpe met jou kind te bespreek, saam projekte aan te pak en veral saam te lees. Saamlees is belangrik en iets wat deurlopend kan plaasvind totdat jou kind dit alleen kan aanpak en genot daaruit kan put. Natuurlik is dit belangrik dat jy as ouer self lees en die voorbeeld aan jou kind stel.
Hoe kan jy jou kind voorberei vir al die fasette van die lewe?
- Kommunikasie is hier die belangrikste. Praat as jy ‘n probleem het, vra vrae as jy onseker is of meer wil weet en moet nooit huiwer om om hulp te vra as jy dit nodig het nie. Die is nie ‘n skande om hulp te vra nie.
- Veral hoe om met geld te werk. Wat goed kos, soos bv tersiêre opleiding. Ouers kan uit eie ervaring hul kind leer oor geldbestuur – wees egter eerlik as jy self hiermee sukkel en kry kundiges om julle hierin by te staan.
- Leer jou kind om onafhanklik, maar verantwoordelik te wees. Hou in gedagte: Almal is mense en dit wat jy deurgaan, is heelwaarskynlik dieselfde as wat ’n ander persoon deurgaan.
Uitdagings – hoe kan ouers hulle kinders daarvoor voorberei?
Daar is talle uitdagings wat veral na skool op ’n mens se pad kom. Baie jongmense pak hulle studies aan met sterre in die oë en verwagtinge oor hoe dit moet wees en veral as hulle toelating gekry het omdat hulle goed op skool gevaar het, glo hulle dat dit ook op tersiêre vlak voorspoedig sal gaan. Daar is egter heelwat uitdagings waarvoor jou kind nie noodwendig op skool voorberei word nie. Prof Debra raak aan enkele hiervan:
- Wees voorbereid op akademiese druk – net omdat jy 10 onderskeidings op skool verwerf het, beteken nie dit gaan net natuurlik kom op universiteit nie. Daarom moet jy weet hoe om te herstel as jy skielik nie die punte kry wat jy wou hê of verwag het nie. Wat doen jy dan om die uitdaging aan te pak en reg te stel. Hier is studievaardighede nuttig asook tydsbeplanning.
- Gefokusde leer is een manier om akademiese druk te oorkom. Jy moet die werk (studies) insit om uiteindelik sukses te behaal en jou graad te behaal. As jy sukkel, praat met iemand en vra om hulp. Universiteite het hulpbronne om jou te help studeer.
- Handhaaf ‘n balans tussen studies, sosiale bedrywighede, sport, en so meer. Sê prof. Debra: “Jy moet jou lewe op universiteit geniet, maar wat belangrik is, is dat jy nie uit die oog verloor hoekom jy daar is nie. As jy nie op die ou end ’n kwalifikasie kan verwerf nie, het jy jou tyd gemors. Dit is dus moontlik om alles op universiteit te geniet, mits jy beplan en ’n balans handhaaf tussen alles wat gedoen moet word.”
Nog ‘n paar wenke vir ouers
Daar is heelwat wat ouers kan doen om hulle kinders voor te berei vir die toekoms – ook klein dingetjies wat uiteindelik groot impak kan hê wanneer jou kind die “grootmenswêreld” betree. ’n Liefde vir lewenslange leer en tydsbeplanning is belangrik, maar dis ook belangrik om om te sien na hul emosionele, sosiale en praktiese vaardighede. Hulle mag maar foute maak, want dit bevorder hul onafhanklikheid, veral as hulle weet dat hulle verantwoordelikheid moet neem vir hulle optrede en besluite.
Emosionele intelligensie is sekerlik een van die belangrikste vaardighede in vandag se lewe. Elkeen van ons moet in staat wees om ons eie emosies te verstaan, onsself uit te druk en veral om ander se emosies te verstaan sodat ons met die nodige empatie kan optree.
Konflikhantering. Dit sluit aan by emosionele intelligensie en is ‘n vaardigheid wat nie genoeg beklemtoon kan word nie. Om te weet hoe om met jou medestudente, vriende, familielede en kollegas om te gaan, is baie belangrik vir jou emosionele welstand.
Moedig hulle aan om balans te handhaaf in hulle lewe deur deel te neem aan buitemuurse bedrywighede, soos sport, kuns, klubs. Dit is almal aktiwiteite wat selfvertroue bou en vaardighede ontwikkel en baie belangrik, selfdissipline kweek.
Gesels met jou kind oor sy belangstellings en toekomsplanne en help hulle om realistiese doelwitte te stel en loopbaanbeplanning te doen.
Raak betrokke by gesprekke en aktiwiteite wat kritiese denke bevorder, soos debatsvoering oor huidige gebeure of om legkaarte te bou. Kritiese denke is veral nodig op tersiêre vlak, maar ook eendag in die werksplek. Hier is dit ook belangrik om jou kind toe te laat om onafhanklik te leer om sodoende sy selfvertroue te bou.
Maak seker jou kind het toegang tot boeke, tegnologie, aanlyn platforms en so meer wat vir leer en nie net speletjies nie, ingespan kan word.
Leer jou kind dat om vrae te vra juis ’n doeltreffende manier van leer is, mits hy natuurlik eers self probeer het om by die antwoord uit te kom en wel toegang het tot die nodige bronne.
Leer jou kind om uitdagings as geleenthede te sien. Vier daarom jou kind se suksesse, maar onthou ook om erkenning te gee aan sy pogings en nie net die resultate nie. Dit leer hom om aan te hou en uit te hou totdat die taak voltooi is.
Takies in en om die huis, soos skottelgoed was, bed opmaak, kamer skoonmaak of om die gras te sny, leer jou kind oor dissipline en harde werk.
Meer oor tersiêre opleiding
Suid-Afrika het drie soorte universiteite, naamlik tradisionele universiteite, tegnologie-universiteite en omvattende (uitgebreide) universiteite. Laasgenoemde twee bied beroepsgerigte opleiding ook aan. Daarom is dit raadsaam dat ouers en leerders eerlik moet besin oor hoe hulle veral die laaste twee jaar van hoërskool ervaar het. As die leerder dit moeilik gevind het om te studeer, te fokus op boeke en om inhoud te memoriseer of te analiseer, is meer praktiese opleiding dalk die beste opsie. Met ander woorde, dis steeds universiteitsopleiding, maar dan dalk meer beroepsgerig en ’n diploma in plaas van ’n graad word verwerf.
Wat doen skole om kinders leiding te gee oor vakkeuses en verdere opleidingsmoontlikhede?
Die meeste skole verskaf leiding aan hulle leerders oor die beroepsmoontlikhede daarbuite en nooi dikwels kundiges, lektore of studente om met die leerders te kom gesels. Die universiteite stuur ook mense na die verskillende skole toe om inligting te verskaf. Daar is heelwat inligting op die web beskikbaar en die meeste vrae word gewoonlik hier beantwoord.
Dit is ook goed om ope dae by te woon en dan van die geleentheid gebruik te maak om vrae te stel oor die dinge waaroor ouers en kinders nog nie duidelikheid het nie.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!