Skrywer: Clara de Wet
‘n Móét vir die gemoed: 10 dinge wat jy kan verwag van die Semi-soet-musiekblyspel.
Jy het seker in die laaste paar weke tussen die aankondigings van swangerskappe en sportwedstryde gewaar dat baie van jou vriende die Semi-soet-musiekblyspel gaan kyk het.
Die winter steek op en dit raak moeiliker om jouself te motiveer om jou neus by die deur uit te steek, maar hierdie produksie gaan jou om verskeie redes vinnig warm maak.
Hier is 10 dinge wat jy kan verwag wanneer jy die produksie gaan kyk:
1.) Min van die akteurs wat in die fliek speel, is ook in die musiekblyspel, maar die wat nie oorspronklik in die fliek is nie, se toneelspel in die produksie doen geensins afbreek aan die fliek nie – die seleksie van rolspelers was in die kol!
Die gesigte wat jy kan verwag op die planke van die hoofrolle wat nie in die fliek is nie, is soos volg:
Rol | Fliek | Musiekblyspel |
JP Basson (Die “Jackal”) | Nico Panagio | Bobby van Jaarsveld |
Denise Marais (Die eienaar van MOJO reklameagentskap – Jaci se baas) | Corine du Toit | Nadia Beukes |
Karla Jordaan (Jaci se beste vriendin en kollega) | Sandra Vaughn | Zöricke Snyman |
Hertjie Greyling (JP se beste vriend en kollega) | Louw Venter | Revan Luus |
Markus Rossouw (Jaci se eks-verloofde) | Paul du Toit | Izak Davel |
Chandrie Snyman (Markus se meisie) | Diaan Lawrenson | Marcelle Peach |
2) Anel Alexander (die hoofaktrise wat Jaci van Jaarsveld in die fliek se rol vertolk) kán sing. Omdat daar nie sang in die fliek is nie, is dit nie iets wat ‘n mens as kyker verwag op die kassie nie, maar dan slaan sy jou asem weg met haar stem op die planke!
3.) Bobby verskyn in lewende lywe (klem op lywe) in ’n klein swembroekie soos in die toneel in die fliek.
4.) Die storielyn is dieselfde as die fliek, alhoewel hulle in die musiekblyspel moeite gedoen het om sekere aspekte meer relevant tot die hede te maak, wat bydra tot die kyker se aanklank met die produksie.
5.) Die fliek het 13 jaar gelede vir die eerste keer op 17 Februarie 2012 verskyn en ’n opvolg daarvan sal op 20 Junie 2025 op Netflix verskyn, nl. Semi Soeter. Kyk die lokprent hier:
6.) Jannes Erasmus, Bernice West se man, is die regisseur van die musiekblyspel.
7.) Die Afriforum-teater het gesorg dat jy van die intrapslag af voel of jy deel is van die produksie met fotohoekies wat tonele van die produksie vasvang (ideaal vir daardie selfie wat jy wil neem).
8.) Daar is ’n pouse in die middel van die produksie – die perfekte geleentheid om bene te rek en vir jou ’n verversing te kry.
9.) Daar is nuwe musiek geskryf vir die musiekblyspel wat jy nie in die fliek sal hoor nie – uitstekend om sekere tonele vas te vang, sonder om dit op te voer.
10.) Die vark van Vryersvoetpad maak nie ’n verskyning nie, maar die toneel is uitstekend uitgebeeld en ondersteun met dekor en rekwisiete wat jou laat voel of jy ook op Vrede en Lust-wynlandgoed is.
Kom lag weer dat die trane loop en koop jou kaartjie vandag!
Ondersteun Afrikaanse kunste en hou aan om by te dra tot die hartklop van ons taal.
Semi-soet se musiekblyspel loop nog tot einde Junie by die AfriForum-teater in Menlopark, Pretoria.
Koop jou kaartjies hier: https://afriforum.co.za/semi-soet/