Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 8: 7Junie 2025
Gasspreker: Felix Spies
Kodering en robotika.
In die agste episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels Felix Spies, die stigter en uitvoerende hoof van Siyafunda Education Foundations oor die belangrikheid van robotika-onderrig, die hindernisse en hoe ouers hul kinders kan aanmoedig om robotika as vak te neem.
Hoekom is robotika-onderrig belangrik vir kinders in SA?
Robotika-onderrig is noodsaaklik vir Suid-Afrikaanse kinders omdat dit
- kritiese denkvaardighede,
- probleemoplossing, en
- kreatiwiteit bevorder.
Die huidige skoolstelsel hanteer nie hierdie deurslaggewende vaardighede wat elke dag in die regte wêreld gebruik word nie. Robotika berei egter kinders voor vir die digitale ekonomie en help om die vaardigheidsgaping in STEM (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde) te oorbrug. Dit verbeter ook samewerking en innovasie, wat belangrik is in ‘n vinnig veranderende wêreld.
Wanneer behoort kinders aan robotika bekendgestel te word?
So vroeg as moontlik – verkieslik in die grondslagfase. Dit help om nuuskierigheid en ‘n liefde vir tegnologie te kweek terwyl hulle sommer ook fundamentele konsepte op ‘n speelse manier leer.
Hoe lyk hierdie eerste bekendstelling aan robotika tipies?
Die eerste bekendstelling aan robotika behoort prakties en interaktief te wees. Kinders werk dikwels met eenvoudige robotte wat visueel geprogrammeer kan word. Dit kan insluit LEGO-robotika, BeeBots of ander platforms wat kinders toelaat om instruksies te gee en onmiddellike terugvoer te kry. Die doel is om speletjies en probleemoplossing te gebruik om tegnologiese konsepte bekend te stel.
Net kortliks – is daar ’n verskil in kodering en robotika of ondersteun die een die ander?
Ja, daar is ‘n verskil, maar hulle ondersteun mekaar.
Kodering is die proses om instruksies te skryf sodat ‘n rekenaar of robot dit kan uitvoer.
Robotika is die fisiese toepassing van kodering – waar hierdie instruksies gebruik word om masjiene te beheer.
Met ander woorde: Kodering gee robotte ‘n doel en robotika maak kodering sigbaar en prakties.
Watter rol speel ouers en onderwysers in die aanmoediging van robotika-onderrig?
Ouers en onderwysers speel ‘n belangrike rol deur kinders blootstelling en ondersteuning te gee. Onderwysers kan robotika in die kurrikulum integreer en praktiese leerervarings bied. Ouers kan kinders motiveer deur vir hulle geleenthede te skep om met tegnologie te eksperimenteer, soos om robotikaklubs of aanlyn kodeerplatforms te ondersteun.
Watter hindernisse is daar en hoe kan dit oorkom word?
Sommige van die grootste hindernisse sluit in:
- beperkte toegang tot hulpbronne,
- ‘n tekort aan opgeleide onderwysers, en
- ‘n gebrek aan bewusmaking oor die belangrikheid van robotika.
Dit kan oorkom word deur meer openbare en privaat vennootskappe, deur onderwysers se opleiding te verbeter, en bekostigbare robotikaprogramme aan skole en gemeenskappe beskikbaar te stel.
Waar kan kinders, ouers en onderwysers hulp kry met robotika-onderrig?
Siyafunda (SEF) werk daaraan om toeganklike platforms te skep vir leerders en ouers om te gebruik om hierdie opwindende wêreld beter te verstaan en te navigeer. Intussen het ons die Quantum Crayon Edu-Platform geloods, wat ‘n verskeidenheid kursusse aanbied. SEF verskaf ook opleiding aan skole om hulle te help om selfonderhoudende STEM-programme te bou. Daar is ook organisasies soos First Lego League (FLL), Raspberry Pi Foundation en ander aanlyn platforms wat gratis hulpbronne en kursusse bied.
Hoe lyk die stand van robotika-onderrig tans in ons skole?
Hoewel daar vooruitgang is, bly dit steeds ongelyk verdeel. Sommige skole, veral in stedelike en privaat omgewings, het gevorderde robotika-laboratoriums, terwyl ander, veral in landelike gebiede, min tot geen toegang het nie. Die Departement van Basiese Onderwys het egter amptelik begin om die kodering en robotika in die kurrikulum vir graad R tot 3 regoor die land te implementeer
Wat is SEF se visie vir die toekoms van robotika-onderrig in Suid-Afrika?
SEF se visie is om robotika-onderrig vir alle kinders in Suid-Afrika toeganklik te maak, ongeag hul sosio-ekonomiese agtergrond. Ons streef daarna om volhoubare programme te ontwikkel wat skole en gemeenskappe toerus met die nodige vaardighede en tegnologie om kinders voor te berei vir ‘n digitale toekoms.
Kyk hier na die episode:
Lees meer oor robotika op Afrikaans.com deur op die volgende skakels te klik:
Kodering 101: Opleiding by skole – Afrikaans.com
Fokus: Tegnologie in die klaskamer – Afrikaans.com
Só verryk digitale media en KI die leerervaring – Afrikaans.com
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!