Skrywer: Seugnet van Zyl
Sy liedjies is vir baie soos ’n oorwurm, wat jy nie net in jou kop bly hoor nie, maar ook neurie of selfs hardop in die stort sing. Vir ander verskaf sy musiek die perfekte pas in die gimnasium en vir die meeste van ons is dit net lekker om daarop te dans en dit luidkeels in die openbaar te sing.
Afrikaans.com het by Kurt Darren gaan inloer om te gesels oor waar die inspirasie vir sy liedjies vandaan kom, sy volgende enkelsnit en sy liefde vir Afrikaans.
Kurt Darren, wat vanjaar die mylpaal van dertig jaar vier sedert hy sy eerste CD vrygestel het, is skaamteloos Afrikaans.
“100% Afrikaans”, korrigeer dié kaptein dadelik.
“Ek is ’n baie sterk verdediger van die kultuur van Afrikaans. Ek sal opstaan vir Afrikaans. Ek hou van die kultuur, ek hou van die mense, ek hou van net Afrikaans wees.”
Kurt skram weer vinnig en sê dat sy opstand nie polities van aard sal wees nie, maar hy sál opstaan vir sy taal.
Die Afrikaans rol sommer oor sy tong nes die vele Afrikaanse liedjies waarvoor hy in die laaste drie dekades bekend geword het.

Kurt het sy eerste CD, For Your Precious Love, in 1995 opgeneem, maar dit was eers hier in 1999, toe hy sy eie liedjies begin skryf het, dat hy groot opslae begin maak het in die Suid-Afrikaanse musiekwêreld.
Met liedjies soos “Kaptein”, “Loslappie”, “Meisie Meisie”, “Hemel op Tafelberg”, “Dans op die tafels” en nog vele ander, het hy sinoniem geraak met partytjie-, dans- en saamsing-musiek – maak nie saak watter taal jy praat nie.
Kurt het in sy loopbaan van 31 albums tot dusvêr al nege SAMA-toekennings, 12 dubbelplatinum- en 21 goue verkope-toekennings ontvang, sowel as talle ander toekennings, soos Tempo, Ghoema, Vonk en Geraas. Hy was al ’n aanbieder op kykNET en Jacaranda met Jukebox en het in vyf flieks verskyn.
Hy is deesdae net so besig soos altyd, elke drie maande stel hy ’n nuwe enkelsnit vry, en het geen planne om die pas stadiger te vat vorentoe nie – daar is nog baie musiek vasgevang in sy kop!

Kurt Darren vier sy sukses by Sony Music.
Al het Kurt Engels en Afrikaans grootgeword, maak hy sy twee kinders, Kyrah (10) en Kade (8) slegs in Afrikaans groot.
“Ek het Afrikaans en Engels grootgeword. My ma is Engels en was van Zimbabwe.”
Hy skerts dan en sê sy pa was die enigste van 13 broers en susters wat met ’n Engelse vrou getrou het.

Van links na regs: Kurt Darren as jong seun. Kurt saam met sy Dunay en sy kinders Kade (8) en Kyrah (10). Kurt en Dunay.
Met ’n onlangse optrede in Abu Dhabi, waar die grootste gehoor nog, op hom gewag het, kon die skare nie wag dat hy sy jongste treffer, “Hop, Hop Spinnekop”, sing nie.
“Daai mense het gewag vir daai song. Dit was regtig iets baie spesiaals. Die show was buite. Half tien die aand was dit 42 grade Celsius. Ek sweet gewoonlik op shows, maar dáár …”
Kurt sê die oud-Suid-Afrikaners daar mis hul vaderland verskriklik.
“Afrikaanse musiek hou hulle nog in die loep van Afrikaans.”
Oor die wegholsukses van dié liedjie, sê hy droogweg: “Dit voel fantasties.”
Hy gaan spoor dan self die kykergetalle van die liedjie en ook hoeveel keer mense na die musiekvideo gaan kyk het, op sy foon na.
“Hop Hop Spinnekop” se musiekvideo is tot dusver al deur 6,2 miljoen mense gekyk. Die sogenaamde “short views” op TikTok is al deur 70 miljoen mense gekyk.
Kyk hier na die musiekvideo:
“Ek meet die grootheid van my liedjies aan wat mense my noem op straat. Ek kry al hierdie byname elke keer as ek ’n groot stukkie uitbring. Vir 17 jaar het mense my Meisie-Meisie genoem en toe selfs Kaptein-oom.”
Noem mense hom dan nou Hop Hop of Spinnekop?
Laggend sê hy dan: “Hop Hop.”
Wat is sy gunstelingliedjie van al sy liedjies?
“‘Onbeskryflik’ wat ek vir Dunay geskryf het.”
Kyk hier na die musiekvideo:
Hulle is vanjaar 14 jaar gelukkig getroud.
Uit hulle gedeelde liefde vir die bos, het Kurt en Dunay vanjaar saam “Bos is my kos” geskryf.
“Bos is my kos” is ’n liefdeswerk.”
Sy verskyn ook saam met hom in die musiekvideo van dié liedjie.
Kyk hier na die musiekvideo:

“Dunay het nog nooit – vandat sy een jaar oud is – ’n jaarlikse besoek aan die Kruger (wildtuin) gemis nie. Ek is ’n bosmens. Jy kan my maar los in die bos. Dis maar net ons passie.”
Saam besit en bedryf die egpaar, Super Events, waar hulle onder andere sewe luukse bootvaarte en groot feeste by Sun International aanbied.
“Ek tree al vir 12/13 jaar op op bote.”
Kurt waarborg dat hy en ander gaskunstenaars gereeld die boot oorneem.

Is daar ’n liedjie wat hy veral geniet om te sing?
“‘Laat die dansvloer brand’. Ek is nie ’n danser nie,” skerm die een wat beslis nie twee linkervoete het nie, beskeie.
Kyk hier na die musiekvideo:
Nog ’n bekentenis wat sy aanhangers en Jan Alleman dalk nie weet nie: Kurt Darren is eintlik skaam.
“Ek is performer op die stage. As ek op ’n stage klim, is dít ek. Dit vloei net.”
Diegene wat dalk dink Kurt is tuis nes hy voor duisende mense is, maak ’n fout.
Hy is ’n gesinsman van die verhoog af.
Tyd saam met sy gesin is wat hy die meeste mis as hy weg is van die huis vir optredes oor die land heen en oorsee.
“Ek het so uitgesien om net ’n movie saam met my kinders en vrou te kyk en hulle wat vir my popcorn maak,” sê Kurt na sy onlangse optrede in Abu Dhabi.
Sy volgende liedjie, waarvan hy net die begin- en eindletters (O….m) wil bekend maak vir nou, gaan weer “ge-Kurtify” wees.
Hy loop al vyf jaar lank met dié liedjie in sy kop.
“Ná Spinnekop gaan hy nou werk. Ná vyf jaar het ek nou my sin gekry. Ek dink ons het dit reggekry. Dis daai tipe ding wat jou net onmiddellik gaan gryp.”
Kurt skryf 95% van sy eie liedjies.
Wat inspireer hom om liedjies te skryf?
“Ek kan inspirasie uit enigiets vind. Dis ’n natuurlike ding. Ek weet nie. Ek is gebore om hierdie te doen.”
Nes hy uit byna enigiets inspirasie put, gebeur die skryf van sy liedjies ook byna op enige plek.
“Ek skryf waar ook al ek is.”
Hop Hop Spinnekop het hy sommer een oggend in die bed geskryf.
Die meeste van sy liedjies bevat ’n werkwoord. Dink maar net aan die een oor die einste gogga, “Kaptein span die seile”, “Staan op”, “Kom ons dans in Afrikaans”.
Buiten vir die werkwoord, moet mens volgens hom op sy liedjies kan loop, nie dans noodwendig nie.
“Jy moet kan loop op my liedjies. Jy moet drie tot vier minute kan loop sonder om te struikel. Nie te vinnig nie en nie te stadig nie.”
Met groot trots in sy stem vertel hy dat Laurika Rauch al sy liedjies ken.
Hy was hoorbaar self verbaas toe Laurika dit jare terug erken het.
“Sy het gesê sy gym op my musiek.”
Sou hy dalk iets anders vir ’n lewe wou doen?
“Ek moes al van jongs voor my ouers se vriende optree. Dis ’n natuurlike ding. Ek weet nie. Ek is gebore om hierdie te doen. Ek love dit. Dis ’n talent wat ek gegee is. Ek is baie bly ek kan dit doen vir ’n lewe.”
As dinge dalk anders sou uitwerk, sou Kurt dalk ’n wildbewaarder wou word vanweë sy liefde vir die bos.
Hy droom daarvan om eendag ’n wildlodge van sy eie met die Groot Vyf te hê met ’n goeie restaurant en goeie wyn.
Blitsvrae vir Kurt:
Gunstelingtyd van die dag: “Skemertyd – die aand is op pad …”
Wat drink jy eerste soggens? “’n Glas water en dan ’n sterk koppie koffie.”
Laaste gereg wat jy sal eet? “’n Beesstertpotjie met krummelpap.”
Gunstelingdrankie: Goeie rooiwyn
Gunstelingboek: “My gunsteling- boekreeks/skywer is Wilbur Smith, daar is nie een wat ek nog nie gelees het nie; ek is maar avontuurlustig.”
Opkomende bootvaarte saam met Kurt:
12 – 15 Desember Kids & Teens cruise
2026
30 Januarie tot 2 Februarie: Krone Cruise
20 tot 23 Februarie: Kaptein en vriende.
Bespreek vandag nog jou plek!