Skrywer:Annelie van Jaarsveldt
Ons vertel jou meer oor anorexia nervosa
“Meer as ’n derde van persone wat beweer dat hulle dieet normaal is, is patologiese diëters en ’n kwart van hulle het ’n eetversteuring. 95% van eetversteurings kom voor tussen die ouderdomme van 12 en 25 jaar. En net 10% van hulle sal self hulp soek.” – rooi rose aanlyn (Maart 2023)
Die meeste van ons ken waarskynlik een of meer persone met ’n eetversteuring en trap maar versigtig om nie iets afbrekends te sê of ongevraagde raad te gee nie. Wanneer dit egter nader aan die huis kom en jou tiener ’n slagoffer is van so ’n eetversteuring, is dit belangrik om te weet hoe dit lyk en manifesteer en moet jy ook weet hoe om jou kind te help. Blootstelling aan die media waar die perfekte liggaam en voorkoms voorgehou word as dit waarna elkeen behoort te streef, asook sosiale media, dra verder by tot ’n lae selfbeeld en ’n verwronge liggaamsbeeld. Hou ook in gedagte dat nie alle brandmaer mense anoreksies is nie. Dit gaan baie dieper as net die uiterlike.
Afrikaans.com lig graag die kenmerke en risiko’s van eetversteurings uit en gee ook raad oor hoe om die tiener met ’n eetversteuring te help. Jackie Harding van Soul Therapy in die VK het ons vrae oor spesifiek anoreksie beantwoord.
Reeds lankal in ons midde
Volgens Jackie dui historiese geskrifte daarop dat anoreksie reeds honderde jare voorkom en is dus nie ’n moderne tendens nie. Anoreksie en ander eetversteurings is ’n ernstige en komplekse geestesgesondheidstoestand en kan enige een affekteer ongeag, ouderdom, geslag, etniese groep, agtergrond of sosio-ekonomiese omgewing. Vroeë diagnosering, ingryping en ondersteuning is uiters belangrik en kan ’n dramatiese verskil maak aan die persoon se fisiese en sielkundige welstand. Hoewel dit meer by adolessente voorkom, word daar deesdae al hoe meer jonger kinders en ouer persone daarmee gediagnoseer.
Hoe word dit gediagnoseer?
Slegs ’n gekwalifiseerde mediese praktisyn/dieetkundige/sielkundige kan ’n diagnose maak. Nie alle uiters ondergewig persone het ’n eetversteuring nie, daarom word die Diagnostiese en Statistiese Handleiding vir Geestesgesondheidsafwykings (DSM-5) ingespan en moet die volgende kriteria teenwoordig wees alvorens ’n diagnose gemaak kan word:
- ’n Beperking van energie-inname wat lei tot beduidende lae liggaamsgewig ten opsigte van ouderdom, geslag, ontwikkeling en fisiese gesondheid.
- ’n Intense vrees om gewig aan te sit/vet te word of aanhoudende gedrag wat inmeng met gewigstoename, selfs al is hulle gewig beduidend laag.
- ’n Verwronge liggaamsbeeld en die manier waarop die gewig en liggaamsvorm ervaar word en ’n ontkenning (“denial”) dat daar ’n probleem is.
Kenmerke van anoreksie
Anorexia nervosa word gekenmerk deur twee tipes, naamlik
- beperkende anoreksie en
- anoreksie wat gepaardgaan met ooreet (“binging”) gevolg deur vomering en/of die oormatige gebruik van lakseermiddels (“purging”). Laasgenoemde is waarskynlik meer bekend as bulimia nervosa.
Tipiese kenmerke sluit in:
- Streng beperking op kalorie-inname deur voedselinname te beheer, net sekere kossoorte te eet en selfs hele voedselgroepe uit te sluit met gevolglike dramatiese gewigsverlies.
- Ooreet en dan ontslae raak van die kos deur te vomeer en/of lakseermiddels te gebruik. Gaan onmiddellik badkamer toe nadat hulle geëet het.
- Ekstreme oefensessies om gewig te verloor of hul liggaamsvorm te verander.
- Preokkupasie met kos en gewig. Die persoon is dikwels ’n wandelende kos-ensiklopedie.
- Sal kos maak en bak vir ander, maar nie self van die kos/gebak eet nie.
- Kosrituele, soos om die kos te weeg of te meet, in klein stukkies te sny, op die bord te rangskik, ’n spesiale bord of koppie te gebruik, oormatige hoeveelhede vloeistof tydens maaltye in te neem (gee ’n gevoel van volheid) en die gebruik van geurmiddels en souse (kondimente).
- In restaurante hou die persoon by streng reëls oor wat geëet kan word en die voorbereiding daarvan. Afgesien daarvan sal daar min of geen van die bord kos geëet word. Nog ’n voorbeeld van hierdie eise, is om byvoorbeeld koffie te bestel, een of twee slukkies te neem en dan die koffie herhaaldelik terug te stuur om opgewarm te word.
- Uiters onbuigsaam om af te wyk van hulle kosroetine.
- Probeer om etenstye saam met die gesin oor te slaan/te vermy en eet dikwels in die geheim en sal kos wegsteek.

Fisiese tekens
- Skielike en uitermatige gewigsverlies of gewigskommelings.
- Vertraagde puberteit en/of ongereelde maandstonde of gebrek daaraan.
- Hare wat verdof, bros raak en uitval, swak naels, sensitiewe of beskadigde tande, probleme met die slukderm (veral omdat party lyers gereeld vomeer).
- Duiseligheid of floute.
- Spysverteringsprobleme wat kan lei tot maagpyn en/of opgeblasenheid.
- Die vel voel koud en die persoon kry uitermatig koud.
Sosiale en sielkundige tekens van versteurde eetgewoontes:
In die geval van tieners veral is dit dikwels die veranderinge wat in hulle liggaam en voorkoms plaasvind, wat ’n sneller kan wees. Hulle sien dit as negatief en wil nie verander nie. Hulle is dikwels perfeksionisties. Daarom moet alles “net reg” wees en is hulle ook baie krities oor hulle liggame – alles dinge wat ’n negatiewe selfbeeld verder voed.
- Persoonlikheidsveranderinge, soos sosiale onttrekking en verhoogde prikkelbaarheid.
- Verwronge liggaamsbeeld – die prentjie wat hulle in die spieël “sien”, is nie hoe dit in die werklikheid en vir ander lyk nie.
- Spandeer baie tyd op sosiale media.
- Depressie en/of angs.
- Die tiener voel nie goed genoeg nie, is bang om te misluk en het oor die algemeen ’n negatiewe persepsie van hulleself.
- Baklei met ander oor kos, eet en gewig, want wil altyd in beheer voel.
- Vermyding van kosverwante sosiale aktiwiteite soos verjaarsdae of oorslaap by maats.
- Tree geheimsinnig op.
- Emosionele angstigheid rakende eet, soos intense skuldgevoelens en hartseer.
- Kan tekens van Obsessiewe Kompulsiewe Gedrag toon, maar daar moet versigtig onderskei word of dit deel is van die eetversteuring of alleenstaande is en afsonderlik behandel moet word.
Ouers wees bedag op:
- ’n Skielike of drastiese verandering en skommeling in jou kind se eetgewoontes en maaltydpatrone.
- Fisiese veranderinge, soos onverklaarbare gewigsverlies of -toename, aanhoudende moegheid of gemoedskommelinge.
- Onttrekking uit sosiale interaksie, veral waar etes betrokke is.
- Gesprekke oor ander se (ook jou eie) voorkoms, gewig, en so meer en probeer dit liewer vermy. Fokus liewer op gesondheid en help jou kind om ’n positiewe verhouding met kos en hulle liggame te ontwikkel.

Mediese implikasies
’n Eetversteuring soos anorexia nervosa kan ernstige mediese implikasies inhou, soos:
- ’n Wanbalans van elektroliete in die liggaam wat o.a. ’n hartaanval kan veroorsaak.
- Die wegkwyn van spiere weens wanvoeding. Die liggaam gebruik aanvanklik die vetreserwes, maar daarna die spiere. Omdat die hart ’n spier is, lei dit dikwels tot hartversaking.
- Die metaboliese tempo neem af, kognitiewe vermoëns word negatief geraak.
- Spysverteringsprobleme is teenwoordig en die bloedsuikervlakke neem af.
- Toename in bakteriële infeksies.
- Neurologiese probleme weens verhongering.
- Die endokriene stelsel (hormone) raak in ’n warboel.
- Nierversaking kan voorkom.
- Anemie weens lae ystervlakke.
- Beendigtheid neem dramaties af (osteoporose).
Dit is dus duidelik dat dit tot katastrofiese en lewensgevaarlike mediese gevolge en komplikasies en selfs voortydige dood kan lei.
Terapie
Dit is belangrik om elke geval afsonderlik te assesseer alvorens op terapie besluit word. Daar is nie ’n perfekte resep nie. Dit is ook belangrik dat die persoon met die eetversteuring gemaklik en veilig by die terapeut sal voel. Terapie sluit onder andere in: Psigoterapie, gesinsterapie en kognitiewe gedragsterapie.
Riglyne om te volg as jou kind ’n eetversteuring het
“Begin deur emosioneel beskikbaar te wees, sonder oordeel en sonder enige vorm van afbrekende opmerkings oor hulle eie en ander se liggame en voorkoms. Verseker hulle van jou onvoorwaardelike liefde en leer hulle om hulleself waardig te ag.” – Jackie Harding
Dit is belangrik om dit nie te ignoreer nie, want vroeë intervensie is belangrik sodat jou kind so gou moontlik professionele behandeling kan ontvang. Streef ook na die volgende:
- Sorg dat jy en jou kind ’n gesonde verhouding het, gebaseer op wedersydse respek en eerlikheid.
- Moenie kwaad raak nie, al reageer jou kind ook met woede. Maak seker hulle weet dat jy altyd daar is om te ondersteun en te luister.
- Moenie probeer om antwoorde of raad of vinnige oplossings te gee nie. Gee hulle die spasie en geleentheid om te praat en luister dan werklik, m.a.w. luister meer as wat jy self praat.
- Moenie veroordelend wees nie.
- Stel self die voorbeeld met positiwiteit, gesonde eetgewoontes, genoeg oefening en selfsorg.
- Verander die narratief rakende die perfekte liggaamsvorm en die ideale voorkoms. Fokus liewer op waartoe die liggaam in staat is eerder as hoe hulle lyk – gesondheid en nie gewig nie.
- Moedig gedrag aan wat belangstellings en stokperdjies ondersteun. Jou tiener moet goed voel oor hom-/haarself.
- Komplimenteer hulle op hulle karakter, kreatiwiteit en die deernis wat hulle aan ander betoon.
- Vermy druk ten opsigte van kos en maaltye. Moet dus nie kommentaar lewer oor posiegrootte en wat hulle eet nie en bied liewer ’n verskeidenheid aan sodat die kind self kan kies. Hou maaltye kalm, ondersteunend en sonder konflik.
- Help jou kind om negatiewe emosies te hanteer.
- Stel grense en leer jou kind om verantwoordelik op te tree.

’n Slotgedagte
Eetversteurings word beskou as ‘n “perfekte storm”-toestand waar veelvoudige komponente en faktore bymekaarkom om die perfekte geleentheid te skep vir die eetversteuring om te ontwikkel. Dit kan dus ’n kombinasie van persoonlikheid, genetiese predisposisie, omstandighede, trauma, huislike omstandighede, seksuele teistering of mishandeling, boeliery, stres, sosiale faktore of die omgewing, wees wat daartoe lei dat die persoon wat daardeur geraak word, op ’n manier sal reageer wat hom of haar in staat stel om die situasie te hanteer en in beheer te wees.
Indien jy vermoed of weet dat jou kind ’n eetversteuring het, moet jy onmiddellik, maar met die nodige omsigtigheid, optree en professionele hulp kry. Anoreksie is ’n komplekse toestand en verg geduld, maar veral deernis en onvoorwaardelike liefde, om suksesvol te behandel.
Bronne en lees meer:
Anoreksie (hier is kontaknommers beskikbaar)
Jou kind en eetversteurings: Wat ouers kan doen om te help | rooi rose
www.akeso.co.za (Netcare Akeso verskaf pasgemaakte hulp en behandeling vir ’n verskeidenheid geestesgesondheidstoestande, o.a. ook eetversteurings.)