Het jy al energieballetjies met hawermount, neute, appel en grondboontjiebotter gemaak? Maak sommer binnekort ‘n bord vol van die prettige peuselhappies. Jy het net ’n paar basiese bestanddele nodig en dis so maklik om te maak, dat die kinders kan help kap, meng en rol, of dit sommer self maak. Of dit nou vir ’n peuselhappie, eksamentyd-versnapering, kosblik of padkos is, die energieballetjies is altyd ’n wenner.
Lewer ongeveer 25 balletjies
50 rou amandels of 180 ml sonneblomsaad
375 ml (1½ k) rou hawermout
125 g dadels, grof gekap
½ medium appel in die skil, grof gerasper
5 ml (1 t) gemengde speserye of gemaalde kaneel
15 ml (1 e) goeie gehalte kakao
60 ml (¼ k) grondboontjiebotter (verkieslik met geen bygevoegde sout of suiker)
60 ml (¼ k) sterk afgekoelde Rooibostee
paar eetlepels fyn klapper of kakao om in te rol (opsioneel)
Plaas die amandels of sonneblomsaad en hawermout in ’n voedselverwerker en meng tot ’n dit amper soos ’n growwe meelmengsel lyk.
Voeg die res van die bestanddele, behalwe die klapper, by en meng saam tot dit soos koekiedeeg begin lyk.
Rol balletjies van sowat 15 ml (’n eetlepelvol) van die mengsel. Rol van die balletjies in klapper of ekstra kakao, indien verkies. Verpak in ’n lugdigte houer en hou in die yskas vir tot ’n week.
Resep deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira