Pampoenkoekies is ’n immergewilde Suid-Afrikaanse bygereg. Dit word natuurlik, soos die naam sê, gewoonlik met pampoen gemaak, maar deesdae is botterskorsie amper makliker om in ’n winkel te kry. En dit werk net so goed soos pampoen, so probeer sommer vandag nog die bekende resep. Die botterskorsie word met kaneelstokkies gekook, wat dit ’n ekstra spesiale geur gee.
Maak ongeveer 24 koekies
800 g botterskorsie of pampoen, geskil en in blokkies gesny
1 kaneelstokkie
2 ekstra-groot eiers, liggies geklits
250 ml (1 k) koekmeel
7,5 ml (½ e) bakpoeier
1,25 ml (¼ t) gemaalde wonderpeper (allspice) of neutmuskaat (nutmeg)
5 ml (1 t) gemaalde kaneel
sout en peper na smaak
olyfolie om in te braai
kaneelsuiker om mee voor te sit
Plaas die botterskorsie met die kaneelstokkie en ongeveer 250 ml water in ’n kastrol. Bring tot kookpunt en prut met die deksel vir 25 minute of tot net gaar. Dreineer dit deeglik en laat afkoel. Haal die kaneelstokkie uit.
Plaas botterskorsie in ’n mengbak en druk met ’n vurk of aartappeldrukker fyner. As jy ’n baie gladde mengsel verkies, kan die gaar botterskorsie met ’n stokmenger verpulp word.
Klits die eiers by tot dit goed ingemeng is. Sif die droë bestanddele oor die botterskorsie en geur na smaak.
Meng dit versigtig met ’n klitser of silikoon-spatula deur – moenie die mengsel te veel meng nie.
Verhit ’n groot braaipan oor matige temperatuur en giet ’n dun lagie olie op die basis. Skep lepelsvol beslag (ongeveer 30 ml elk) in die pan. Braai vir ’n paar minute tot die onderkant goudbruin is en die bokant begin stol.
Draai die koekies om en braai aan die anderkant tot goudbruin en gaar. Hou die koekies warm en herhaal met die orige beslag om ongeveer 24 koekies te bak. Giet nog ’n dun lagie olie in die pan soos nodig.
Sit die warm botterskorsiekoekies met kaneelsuiker voor.
Resep deur Heleen Meyer | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Die resep is ideaal vir oorskiet gaar botterskorsie of pampoen. Gebruik ongeveer 650 g gaar, fyngedrukte botterskorsie vir die resep.
- Sit die pampoenkoekies met suurlemoenwiggies voor – dis ’n heerlike kombinasie met die kaneelsuiker – soos met kaneelsuiker-pannekoeke.







