Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 6: 26 Mei 2025
Gasspreker: Dr. Liezl Byliefeldt
Belangrike feite oor positiewe ouerskap
In die sesde episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels dr Liezl Byliefeldt van The Balanced Approach oor positiewe ouerskap – wat dit behels, hoe ouers moet maak om die uitdagings van ouerskap te hanteer en hoe ouers kan seker maak hulle maak gelukkige kinders groot.
Wat behels positiewe ouerskap?
Positiewe ouerskap is gegrond op ‘n koesterende ouerskapbenadering wat daarop gemik is om ‘n ondersteunende omgewing vir kinders te skep waar hulle hul sterkpunte kan ontdek, daarop kan kapitaliseer en sodoende positiewe gedrag versterk. So ‘n benadering tot ouerskap benadruk warmte, empatie en begrip wat positiewe ouer-kind-verhoudings as prioriteit stel.
Positiewe ouerskap vereis die volgende:
- Aktiewe luistervaardighede
- Positiewe versterking
- Gesonde en konsekwente grense
- Empatie
- Navolgingswaardige voorbeelde wat deur die ouers gestel word.
Ouerskap in die hedendaagse samelewing kan baie uitdagend wees. Watter raad is daar vir ouers om hierdie uitdagings te hanteer?
Ouers maak tans kinders groot in ‘n vinnig veranderende en geweldige kompeterende wêreld. Meer as ooit, ervaar kinders vandag geweldige druk om te presteer en deur sosiale media veral word hulle konstant gekonfronteer met hoe goed dit met ander gaan en hoe suksesvol ander is. Dit kan baie maklik lei tot ‘n gevoel van minderwaardigheid of ontoereikendheid. En dit is hier waar ouers baie waarde kan put uit die veld van Positiewe Sielkunde.
Positiewe Sielkunde is die wetenskaplike studie van al die aspekte en faktore wat individue laat floreer en optimaal funksioneer. Vanuit hierdie lens kyk ons na die sterkpunte, gawes en talente wat ons wel het en fokus ons nie op die tekortkominge nie. Ons werk eerder daaraan om wat goed en reg is, sterk en beter te maak eerder as om dit wat ons nie het nie, aan te vul.
Ouers kan dus hulle kinders help om met dankbaarheid te kyk na wat hulle kan doen, hulle te help om hulle sterkpunte te identifiseer en om baie teenwoordig of bewustelik (“mindful”) te lewe.
Ouers wat daarop konsentreer om opbouende woorde te gebruik, kwaliteittyd met hulle kinders te spandeer, gesinsroetines en waardes te vestig en hulle kinders blootstel aan die goeie en slegte van die lewe, help hulle kinders om in die oomblik te leef en geanker te bly.
Hoe kan jy seker maak dat jy ’n gelukkige kind grootmaak?
Ouers kan hierin slaag deur ‘n opbouende, ondersteunende omgewing te skep wat die kind uitnooi tot kommunikasie, ook oor die moeilike aspekte van die lewe.
Positiewe Sielkunde fokus op die balans tussen positiewe en negatiewe van die lewe en gee daarmee erkenning daaraan dat ons die positiewe meer waardeer en geniet as ons die negatiewe erken en ervaar het.
Ouers kan hul kinders die waarde van goeie en gesonde verhoudings leer sodat hulle self ook in positiewe en bevestigende verhoudings kan tree.
Kinders moet ook aangespoor word tot ’n groei-ingesteldheid, en om altyd iets te bly leer (selfs iets informeel of prakties).
Veerkragtigheid is deesdae ’n gonswoord. Hoe kweek ouers veerkragtigheid – in hulle kinders, maar ook in hulleself?
Veerkragtigheid word beskryf as die vermoë om terug te bons na ‘n terugslag en as gevolg van daardie terugslag, te groei en sterker anderkant uit te kom. Ons praat in die sielkunde van “post-traumatiese groei”.
Individue hoef nie trauma noodwendig te beleef om hierdie groei te ervaar nie, maar as hulle blootgestel word aan die stampe en stote van die lewe en hulle word gehelp om daardie negatiewe ervaring in perspektief te sien, kan hulle veerkragtigheid ontwikkel.
Ouers speel ‘n sentrale rol in die ontwikkeling van hul kinders se veerkragtigheid.
- Eerstens kan ons kinders leer dat hulle beheer het oor hulle keuses, al het hulle nie noodwendig beheer oor hulle omstandighede nie.
- Tweedens moet kinders die waarde van mislukking besef en dat ‘n mens leer uit jou foute.
- Dis ook baie belangrik dat kinders sal ervaar dat hulle saakmaak, dat hulle uniek is en ‘n bydrae het om te lewer.
- Laastens is veerkragtige kinders bewus van hulle sterkpunte en fokus hulle op wat hulle wel het, en nie wat hulle tekortskiet nie.
Die goeie nuus is dat veerkragtigheid nie net ingebore is nie, dit kan gekweek en gegroei en beoefen word sodat ons beter en beter vaar in die hantering van terugslae, maak nie saak of ons oud of jonk is nie.
Dis lank reeds bekend dat IK nie noodwendig ‘n aanduider is van ‘n kind se kanse op sukses nie. Emosionele intelligensie is eerder die bepaler hier. Wat is emosionele intelligensie presies?
Die navorsing en praktyk wys dat suksesvolle aanpassing en optimale funksionering nie net op intelligensie of breinkrag gebaseer is nie, maar eerder hoe gebalanseerd en emosioneel volwasse kinders is. Dit beteken nie dat akademiese vordering nie belangrik is nie, maar eerder dat sukses grootliks afhang van ’n gebalanseerde benadering tot die lewe en aanpasbaarheid.
Emosionele intelligensie verwys na die vermoë om jou emosies te verstaan, toepaslik of sosiaal aanvaarbaar uit te druk en te bestuur. Dit behels ook om ander se emosies te herken, en op gepaste wyse daarop te reageer.
Hoe kan ouers hulle kinders help om emosioneel volwasse te word?
Ouers kan hulle kinders help om emosioneel volwasse te word deur in voeling te wees met hulle emosies. Met ander woorde, om hulle te emosies te kan eien (dit by die naam te noem) en te bestuur, daaroor te gesles asook die effek wat dit op hulle het, te besef.
Ouers kan ook hulle kinders help om negatiewe ervarings te sien as groei- of leergeleenthede.
Verder kan ouers hulle kinders en hulself daaraan herinner om in die hier en nou te lewe, dit wat nou is te geniet en daarvoor dankbaar te wees.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!







