Skrywer: Clara de Wet
Afrikaans is multidimensioneel. Kompleks, tog eenvoudig. Diep, maar tog wyd. Oral, maar tog naby.
Dit was die boodskap van die Uit die mond-vertoning op 28 en 29 Mei by die Atterbury-teater in Pretoria.
Hierdie vertoning is saamgestel ter viering van Afrikaans se 100ste bestaansjaar as amptelike taal. Die produksie het elke dimensie van Afrikaans vasgevang en het die gehoor, met die keuse van kunstenaars en musiek, op ’n reis van Afrikaans se komvandaan geneem.
Dapper Muis en Lappop het die gehoor teruggeneem na hul kinderjare (of hul kinders se kinderjare), gevolg deur die hoendervleismooi, poëtiese musiek soos Kinders van die wind en Op Blouberg se strand. Emo Adams het die gehoor op ’n ritmiese reis geneem en gesorg dat niemand stilsit of stilbly nie, want hoe lekker bly dit nie om nuwe weergawes van ou musiek soos Oukraalliedjie te hoor nie?
Legendariese kunstenaars soos Amanda Strydom, Coenie de Villiers en Jannie du Toit het opnuut die hartsnare geroer met die emosie waarmee hulle van hulle eerste liedjies gesing het.
Lynelle Kenned en Frazer Barry was ’n musikale goue draad wat met die veelsydigheid van hul stemme, ook die veelsydigheid van Afrikaans verteenwoordig het. Dit is deurlopend ondersteun met poësie, wat veral deur die talentvolle Nicole Holm vertolk is.
Die konnotasie aan moederskap wat rou, diep en eerlik is, maar onlosmaaklik deel van jou is, is uitstekend in verhouding gebring met wat moedertaal werklik is.
Hoërskool Wonderboom se koor het aangesluit vir die laaste items, insluitend Sonvanger en met ’n staande applous het die kunstenaars afgesluit met Hoor hoe brom die wind onder leiding van Amanda Strydom.
Die woorde van Frazer Barry beskryf nie net Afrikaanssprekendes nie, maar ook wat ons beleef het in hierdie produksie:
“Op die ou end is ons stof van dieselfde aarde en sout van dieselfde traan.”
Ondersteun die kunste en leef jou taal (uit die mond) op jou manier (uit die hart).
Dit bly ’n enorme voorreg.