Skrywer: Nicolette Kritzinger
Daar is baie dinge van my jongdae wat maar kon bly. Die Chocolate Log, inryteaters, daai lekkergoed-sigarette wat ons op sewejarige ouderdom agter die snoepie gesuig het asof ons lid van een of ander bende was.
En dan is daar ’n paar tradisies wat ons regtig nou maar kan laat gaan. Dis tyd.
Ek kan nie hieroor praat sonder om jou te vertel van tannie Petro en haar man nie.
Tannie Petro was die versinnebeelding van alles wat vreemd was in die 1990’s en vroeë 2000’s.
Kom ek verduidelik…
Dit is die jaar 1997. Tannie Petro se hare is ’n vlak 5-omgewingsrisiko. As daai byekorf op haar kop aan die brand slaan, is dit verby met ons. As hulle haar die dag moet veras, gaan daar 90% van haar oorbly.
Oom Wouter is ’n vlak 7-gesondheidsrisiko. Hy weeg sowat 50 kg meer as waarmee die dokter of sy knopieshemp gemaklik is. Hy is vas oortuig … as sy ma 90 jaar oud kon word en nooit die vet van haar tjops afgesny het nie, dan kan hy ook.
Die tierlantyntjies …
In haar vrye tyd is tannie Petro die voorsitter van die Kaggelkakkie-Vereniging van Suid-Afrika. Elke oop rakkie in haar huis is gevul met iets wat jy nie na twaalfuur in die aand wil teëkom nie.
Ons het een keer daar gaan kuier saam met my oom-hulle. Ons kon tot vandag toe nog nie my nefie opspoor nie. Die polisie vermoed een van die porseleinpoppe in tannie Petro-hulle se spaarkamer het hom ontvoer.
Teen die muur van elke kamer het ’n uitgebleikte sepiafoto gehang van iemand se grootouers in swart geklee. Ek was nooit seker of dit familie van tannie Petro was en of sy die foto by een of ander oorledene gekry het nie. Maar een ding is seker: Iemand se ouma en oupa steel nou al vir baie jare die laaste bietjie passie tussen getroudes wat in daardie spaarkamers moet slaap.
Tannie Petro se sitkamer was ’n enigma. Die pienk keramiekhond langs die televisie, ’n sandroos wat sy in 1995 in Namibië opgetel het en ’n gesandblaste bierglas met die woorde “Struisbaai, jou lekker ding” daarop. O, en moenie van die kerse vergeet nie – klein, uitgebleikte engeltjies. Dit was eens op ’n tyd pienk en geel, maar die stoflagie op elkeen maak dit nou onmoontlik om die kleur uit te ken.

Soos in die meeste van ons ouers se huise, het die groot vyf, in hout uitgekerf, ook op een van die rakke in tannie Petro se sitkamer gepronk. Sy het altyd met trots vertel dat dit eg Malawiese houtkuns is wat haar man tydens ’n eksotiese vakansie vir haar gekoop het.
Sy was baie ontsteld toe ons eendag aan haar noem dat ons presies dieselfde stel by die stalletjies in Willowbridge Mall gesien het – teen helfte van die prys.
Is jy seker jy wil ’n draai loop?
Ek onthou nog tannie Petro se badkamer. Iemand moes altyd my hand vashou as ek toilet toe wou gaan. Geen kind onder ses behoort aan daardie skakering van pienk blootgestel te word nie.
Ek is tot vandag toe seker my sterk immuniteit is te danke aan tannie Petro se badkamer. Mense dink Covid het in China ontstaan, maar ek is vas oortuig dit het sy oorsprong in ’n Afrikaanse tannie se badkamer nadat iemand op een van daardie gebreide toiletsitplekke moes sit.
En net wanneer jy dink dit kan nie erger word nie … die Barbie binne die toiletrol met ’n gebreide rok in dieselfde skakering as die toiletoortreksel, die badmatjies en die stortgordyn. Klein Katryntjie dog nog sy speel huis-huis toe kom annekseer iemand haar pop sodat dié kan staar deur die siel van elke gas wat ’n draai wil loop. Die stories wat daai arme pop kan vertel… ek sidder om te dink.
En dan … die pynlik-netjiese huis
Tannie Petro was ten beste van tye ’n aangename mens. Tot hulle kuiergaste ontvang. Dan het die angs van 50 muishonde haar beetgepak en is haar hele huisgesin al sesuur die oggend uit die bed gejaag om te begin afstof.
Daar mag geen teken wees dat hier mense in hierdie huis bly nie!
Die een bevel na die ander word rondgeslinger:
“Wouter, stofsuig die gras!”
“Kan iemand asseblief net die hond bad?! Daar is koeksoda in die kas.”
“Pak reg jou onderklerelaai, Jessica!”
“Mamma, ek dink nie tannie Kobie-hulle gaan in my pantylaai kom krap vanaand nie,” probeer sy stry.
“Jessica, jy weet dit nie!” skree tannie Petro.
En tannie Petro was nie ’n uitsondering nie. Nee, alle vrouens in daardie tyd het geglo dat hul gaste onmiddellik na elke vertrek gaan hardloop, laaie gaan oopruk en elke onderbroek met ’n gat in gaan uitwys.
Die gevreesde soengroet …
En dan breek die groot aand aan. Oom Wouter berei al die hele dag voor vir hierdie aangeleentheid. Hy sweet reeds op plekke wat ek nie eers geweet het bestaan nie.
Nou, daar is een ding van ’n soengroet wat jy moet weet … ongeag hoe lank jy daarvoor voorberei. Dit betrap jou altyd onverwags.
Met die intrapslag, glip ek agter my ma se bene in. Hy sal my seker nie daar kry nie. Maar dis die ding van ’n soengroet … jy kan dit nie ontsnap nie!
Soos dit ’n seekat betaam, sluip hy nader en met een suigbeweging sluk hy my in. Ek het altyd ’n verskoning gereed: Ek het verkoue, ek het ’n koorsblaar, ek het ’n maagvirus. Maar hierdie keer was hy te vinnig vir my.
Ek staan op die stoep en staar voor my uit. Sopnat, met die reuk van ’n ou sigaret, bier en die knoffelbroodjie wat oom Wouter gisteraand geëet het, wat oor my hang.
Hoe baie het dinge nie oor die jare verander nie?
Die nat soene, die pienk badkamerteëls, die gebreide Barbie-toiletrolle, die keramiekhondjies …
Ek kyk soms na my eie huis en dié van my medemillenniërs. Minimalisties, gestroop, alles in skakerings van wit en beige, elke ornament met sorg gekies … Ek onthou die kyk van bejammering op my ma se gesig toe hulle die eerste keer vir my kom kuier het. Haar oë het oor die leë vertrek geflits.
“Toemaar, hartjie, ek en jou pa het ook maar met min goedjies begin. Dit sal meer word met tyd.”
Ek staan onlangs om ’n braaivleisvuur saam met vriende en ons begin gesels oor hierdie tradisies. Elkeen ken ’n tannie Petro en ’n oom Wouter. Elkeen het ’n storie oor ’n walglike soengroet. Elkeen het al die voorreg gehad om op ’n gebreide toiletsitplek te sit. Elkeen van ons is steeds effens bang dat ons gaste ons klerekaste gaan oopruk en ons gaan oordeel omdat ons onderklere nie netjies opgevou is nie.
Daardie aand lag ons dat die bure later kom kla.
Hulle sê mos trauma bind mense. Dalk was daar toe al die tyd ’n doel agter die pienk gebreide toiletsitplekke. Ons het dit net nie toe besef nie.








