Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Episode 5: 19 Mei 2025
Gasspreker: Dr Ignatius Gous
Hoekom en hoe leer ek
In die vyfde episode van die reeks op Via-TV, Maak die beste van jou kind, gesels dr Ignatius Gous, verbonde aan Unisa en ’n spesialis in effektiewe leermetodes oor hoekom ’n mens leer en wat die beste leermetodes is om te gebruik. Afrikaans.com het verder by dr Gous gaan kers opsteek.
1.) Wanneer jy oor die hoe en hoekom van leer praat, noem jy dit gaan “van buite, na binne, na boontoe”. Wat bedoel jy hiermee?
Mense verwar “leer” dikwels met iets wat mens moet doen omdat ander mense dit van mens verwag – ouers, onderwysers, die samelewing. Dis deels waar en ook deels belangrik, maar dit is “van buite”. Leer is egter iets wat inherent van waarde is omdat dit die wese van menswees is. Ons doen dit van voor geboorte af tot die dag dat ons sterf, omdat dit ons laat leef en oorleef – dus “van binne”. Hoe beter ons leer, hoe beter leef en oorleef ons, hoe beter kan ons die gevare elke dag die hoof bied, en hoe beter kan ons die geleenthede van elke dag benut – dus “na boontoe”. Daarom kan ons nie praat oor die “hoe” van leer voordat ons nie eers oor die “hoekom” van leer praat nie.
2.) Hoe op aarde kry mens kinders dan sover om te dink oor die “hoekom” van leer?
Baie kinders dink nie verder as tot by pouse nie, of verder as die volgende kuier met vriende nie. Ons moet dus besondere moeite doen en voorbeelde stel. Byvoorbeeld:
Weetgierigheid kan tuis gestimuleer word deur kommunikasie en blootstelling. Maak daarom tyd om te praat oor die lewe en die wêreld. Of … doen interessante dinge saam. In die skoolsituasie is dit belangrik dat elke klas ’n bespreking insluit oor hoekom dit belangrik is om te leer wat in die klaskamer onderrig word. As die onderwyser of dosent nie weet hoekom dit in die sillabus is nie, gaan die leerders en studente beslis nie daarin belangstel nie.
3.) Baie mense kom deur skool, kollege en universiteit sonder dat hulle ooit geleer is hoe om te leer. Is dit dus regtig nodig om te leer HOE OM te leer?
Probeer en tref kan soms werk, maar baie mense haat leer, of dis ten minste nie top 10 op die gewildheidsleer nie. Hoekom? Omdat dit moeisaam en oneffektief is. Navorsing het lankal gewys wat werk goed en wat werk sleg. Mense doen opsommings, lees en herlees, eindelose herhaling — dit is alles baie oneffektiewe maniere van leer. Dan glo hulle nog in dinge wat wyd geglo word, soos linker-regterbrein, leerstyle, breingim, barokmusiek, en meer, wat ons weet neuromites is, en wat nie net onwaar is nie, maar ook skadelik.
Dus … wat werk regtig of dan beter?
Wat regtig werk, is onder andere
- ontspanne aandag en fokus,
- gespasieerde en gevarieerde herhaling,
- selftoetsing, en
- goeie leergewoontes in ‘n werkbare leerprogram.
Hierdie inligting is oral beskikbaar, maar dit lê rond soos los pêrels. Wat ek gedoen het, is om die pêrels in te ryg in ‘n reeks doenbare leerstrategieë en gewoontes, en om dit uit te toets met alle soorte studente – van laerskool tot die moeilikste kursusse op universiteit, tot mense wat na universiteit vir professionele kwalifikasies en spesialisrigtings studeer.
4.) Vertel ons bietjie meer oor jou leerstrategieë – op die tuisblad van futuresharp (www.futuresharp.co) staan daar: “Begin with the end in mind” – dit word dus ’n reis. Kan jy hierop uitbrei?
Leer word deur baie mense as ’n onaangename aktiwiteit ervaar, gekenmerk deur druk, angs, spanning, laatnagstudie, en ’n wisselvallige mengsel van sukses en mislukking. Dit is egter nie hoe leer veronderstel is om te wees nie. Leer is ’n natuurlike en noodsaaklike proses om die uitdagings van jou omgewing en lewenswerklikhede die hoof te bied. In oertye het mense geleidelik geleer, begelei deur ervare lede van hul gemeenskap, en in reaksie op onmiddellike behoeftes. Leer was spontaan, ondersteunend en direk relevant vir die lewe.
Formele onderwys verander die leerproses
Met die koms van formele onderwys het die leerproses egter drastiese veranderinge ondergaan, dikwels losgemaak van sy oorspronklike doelgerigtheid. Een manier om terug te keer na ’n meer natuurlike en betekenisvolle manier van leer, is om te fokus op waarom ons leer, eerder as net op wat en hoe om te leer.
Die leerproses kan beskryf word as ’n reis van Identiteit, Bemeestering en Nalatenskap: Ek ontdek wie ek is, ek ontwikkel die vermoë om te kan, en ek streef daarna om ’n verskil te maak. Deur met die einddoel in gedagte te begin—die soort impak wat jy op jou lewenspad wil hê—word leer ’n doelgerigte en motiverende proses.
In oertye was leer lewensbelangrik: oorlewing het afgehang van die bemeestering van kennis, vaardighede en houdings wat direk toepaslik was. Vandag kan ons hierdie beginsel herontdek deur elke leergeleentheid te beskou as ’n stap na ons groter doelwitte. As ons leer koppel aan die waarde wat dit vir ons lewe en ambisies inhou—of dit nou is om ’n loopbaan te bou, ’n probleem op te los, of ’n nalatenskap te skep—word dit ’n aktiwiteit wat ons graag aanpak. Leer verander dan van ’n las in ’n lonende reis, gedryf deur relevansie en die belofte van persoonlike groei.
5.) Kan jy die ses stappe van transformatiewe leer kortliks opsom?
Die bemeestering van enige vaardigheid—of dit nou akademiese leerwerk, sportprestasies, of hand- en tegniese vaardighede is—volg ses duidelike fases wat transformatiewe leer moontlik maak.
- Fokus jou aandag op wat jy wil leer of doen, met volle konsentrasie.
- Verstaan waaraan jy aandag gee en hoe dit verbind met wat jy reeds van die onderwerp weet, om ’n konteks te skep.
- Benader die materiaal geleidelik sodat dit bereikbaar voel en nie oorweldigend of ontmoedigend is nie.
- Maak seker dat die inhoud vir jou betekenisvol en relevant is—dit moet nuttig genoeg wees om te wil leer en toe te pas.
- Jy moet die onderwerp in diepte bemeester deur dit grondig te verstaan.
- Laastens, moet jy in staat wees om die kennis of vaardigheid te herroep, te gebruik en effektief toe te pas.
Deur hierdie ses fases te volg, ondergaan jou brein ’n werklike transformasie deur die vorming van nuwe neurale verbindings wat vinnig en doeltreffend funksioneer.
6.) Hoe maak ‘n mens ‘n kind regtig lief vir leer? Is daar iets wat ouers en onderwysers kan doen om dit aan te help?
Kinders is besig met identiteitsvorming en kyk na ouers en onderwysers as rolmodelle, wat hul houding teenoor leer beïnvloed. Spandeer kwaliteit tyd saam met kinders en leer op ’n prettige, drukvrye manier om ’n positiewe assosiasie met leer te skep. Hierdie benadering benut die oerinstink van sosiale leer, wat oksitosien vrystel—’n hormoon wat leer aangenaam en effektief maak. Ouers en onderwysers kan kinders se nuuskierigheid aanwakker deur te vra, te gesels en ondersteuning te bied op maniere wat natuurlik en bemoedigend voel.
7.) Dink jy tradisionele onderrig dra enigsins by tot party leerders se weersin in leer? Sou jy ‘n ander onderrigmodel voorstel?
Onderrigmodelle ontwikkel oor tyd, elk met sterkpunte en beperkings. Effektiewe onderrig moet aansluit by die brein se natuurlike leerprosesse, maar ook rekening hou met die spesifieke konteks en omstandighede van leerders.
In die hedendaagse era maak kunsmatige intelligensie (KI) kennis maklik toeganklik, maar die fokus moet bly op die opbou van diepgaande begrip en vaardighede. Deur KI eties en strategies in onderrig te integreer, kan onderwysers leer verryk en leerders se betrokkenheid versterk, sonder om KI die werk namens hulle te laat doen. Hierdie benadering bevorder ’n liefde vir leer deur relevansie en persoonlike groei te beklemtoon.
Kyk hier na die episode:
Die AON en Afrikaans.com maak ’n reuseverskil in die opvoeding van kinders.
Besoek die AON se webtuiste (www.aonetwerk.co.za) vir meer inligting oor hul werksaamhede ten opsigte van vroeëkinderontwikkeling, leierskapontwikkeling en taalontwikkeling en loer verder op www.afrikaans.com se leerhulpafdeling vir meer inligting oor hierdie en ander onderwerpe. Daar is ook ’n groot verskeidenheid van aflaaibare hulpbronne van voorskool tot matriek beskikbaar. Alles gratis!







