Skrywer: Seugnet van Zyl
In ’n splinternuwe videoreeks in samewerking met die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) gaan Afrikaans.com in die komende maande ouers meer vertroud maak met onderwerpe soos: Hoe kies ek ’n skool vir my kind; Die gemeenskap wat ’n skool dra; Die rol van ’n beheerliggaam van ’n skool; Tegnologie in die klaskamer; en wat die omstrede BELA-wet behels.
In die heel eerste episode verduidelik dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van Fedsas, wie die gemeenskap is wat ’n skool dra.
“Ons gesels in die eerste gesprek lekker oor die gemeenskap wat ’n skool moet dra, met ander woorde wat is die rolspelers se rol in die sukses, hoekom is dit vir ouers belangrik om direk betrokke te wees en wat is die maniere wat ’n ouer by ’n skool kan betrokke wees,” sê Jaco.
“Ons sê baie keer: ‘It takes a village to raise a child’, maar wat beteken dít nou regtig?”
Hy sê ’n skool is soos ’n klein dorpie. Elkeen moet sy kant bring om dit te laat werk en daar is soveel rolspelers. Dis nou van jou ouers, die gemeenskap, die departement van onderwys, borge, oupas en oumas tot by hoe hierdie samewerking dan binne ’n skool werk.
“Meer spesifiek, wat is pappa en mamma of die voogde se verantwoordelikheid by ’n skool? Ons gaan bietjie praat oor dissipline en hoe ons ’n positiewe houding by ’n skool kweek en dan natuurlik gaan ons gesels oor die verskillende maniere wat tot ons beskikking is om by die skool betrokke te raak en hoe ons daai geleenthede moet gebruik.”
Kyk hier na die eerste episode:







