Skrywer: Seugnet van Zyl
Foto: René Arendse, adjunkkoördineerder
van Afrikaans Amptelik 100
Afrikaans is ons
Dit was onomwonde die boodskap met die eeufeesviering van Afrikaans in die Kaap.
René Arendse, nasionale adjunkkoördineerder van Afrikaanse Amptelik 100, het gesê Afrikaans is elkeen van ons.
“Ons is meer eenders as wat ons anders is.”
Die openingseremonie van Afrikaans 100 is by die Kasteel Die Goeie Hoop gehou, waar Afrikaans.com saamgekuier het.

Die oorsigkomitee van Afrikaans 100.
Verteenwoordigers van onder meer die Solidariteit Beweging, Maroela Media, Afrikaanse Taalraad, Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), Media24, Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT), Nasionale Erfenisraad, departement van kultuursake en sport, Universiteit van Wes-Kaapland en Stellenbosch en stamhoofde het die feesviering daar bygewoon.
Dr. Theuns Eloff, voorsitter van Afrikaans Amptelik 100 het verduidelik dat die viering van ons lappiestaal ná amper drie jaar van beplanning en voorbereiding uiteindelik op 8 Mei vanjaar gerealiseer het.
Volgens hom het gewone mense dié veldtog oorgeneem.
“Dis ’n golf van momentum oor die hele land.”

Die Tiervlei Rieldansers

Michael Jonas, ondervoorsitter van Afrikaans Amptelik 100, het gesê Afrikaans, naas moderne Hebreeus en Wallies, is die enigste tale wat in die 20ste eeu tot moderne tale ontwikkel het.
“Met die wisseling van e-posse ná die Covid-pandemie, is ’n saadjie geplant vir die viering van een van Afrikaans se mylpale. Die doel was om ’n gesprek aan die gang te sit oor wat gedoen moet word om Afrikaans se Amptelik 100-status in 2025 te vier en om ’n raamwerk te skep waarbinne Afrikaanse organisasies en gemeenskappe aan ’n inklusiewe viering kon deelneem. Werksessies is gefasiliteer met verteenwoordigers oor ’n wye spektrum van die Afrikaanse wêreld.”
Dr. Hendrik Theys, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, het gesê Afrikaans is die enigste taal wat Afrika as wortel het.
“Meer as 400 jaar gelede het Afrikaans sy eerste babageluidjies gemaak. Vandag eggo Afrikaans van Tafelberg, die Kalahari, Karoo, Namib, Bosveld, Drakensberge, Vrystaatse vlaktes en dwarsoor Suid-Afrika. Ek is trots om deel van die Afrikaanse gemeenskap te wees. Afrikaans is ’n taal wat versoen en verenig.”
Ricardo Mackenzie, provinsiale minister van kultuur en sport, het in sy toespraak gesê dat Afrikaans in jou en my leef.
“Taal is nooit neutraal nie. Afrikaans 100 gaan oor mense wat dié taal gemaak het. Daar moet met respek na Afrikaans gekyk word. Afrikaans was nog altyd groter as die amptelike honderdtal. Ons moet nie net terugkyk nie, vorentoe ook.”
Die Tiervlei Rieldansers het gewys hoe daar geriel word, die Kaap Maleise Jeugkoor het gesing en Deidré Jantjies het Krotoa se storie voorgelees.
Gaste is daarvandaan na die Bo-Kaap waar ’n muurskildery vir Afrikaans 100 onthul is.
Dié skildery is geskilder om Afrikaans se eeufees as amptelike taal te vier en ’n simboliese uitbeelding van die reis van Afrikaans na te laat.
Wisaal Abrahams, skeppende hoof van Wynberg, Kaapstad, is een van die skeppers van dié muurskildery.
Wisaal is ’n baanbreker wie se werk as gemeenskapsaktivis deurvloei na haar projekte en haar loopbaan as leierskapafrigter. Met haar diep Kaaps-Maleise wortels dien sy ook as erfeniskonsultant vir die Kaapse Maleierkoorraad.
Nadia Fisher, wat as Nardstar* bekendstaan, het saam met Wisaal die muurskildery op die hoek van Waal- en Pentzstraat geskep. Haar unieke geometriese styl maak van haar ’n topkunstenaar in die Afrika-straatkunslandskap. Sy druk haarself uit deur die gebruik van sterk lyne, eiesoortige kleurpalette en boeiende onderwerpe wat figuurlike en natuurlike elemente kombineer. Haar energieryke kunswerke verryk hul omgewing en fasiliteer konstruktiewe dialoog.
“Ons wil hê mense moet ’n deel van hulself in die muurskildery kry,” het Wisaal gesê.
Die Afrikaans: Komvandaan-muurskildery is op die buitemuur van Faried en Faheema Matthews se huis in die Bo-Kaap aangebring.
Faried was aangedaan toe hy vertel het hoe dankbaar hy is dat Afrikaans nou huis toe gekom het.

“Ek is dankbaar dat ek deel van die geskiedenis kan wees. Ek praat my hele lewe lank net Afrikaans in die Bo-Kaap. Ek het altyd gewonder wanneer kom Afrikaans huis toe. Dié taal het nou huis toe gekom.”
Oom Faried of Boeta Furgi soos hy onder die gemeenskap bekendstaan is gebore en getoë in die Bo-Kaap. Sy ouma was van Nederland en sy oupa en ma was Maleise-afstammelinge van Simonstad. Hy is die vyfde generasie van sy familie wat in die Bo-Kaap woon. Hy is ’n gerespekteerde lid van die Bo-Kaap-gemeenskap en sy stoep is vandag nog ’n bymekaarkomplek vir die speel van klawerjas, ’n bekende kaartspeletjie, en domino’s saam met mede-inwoners.
Die eerste van verskeie langtafels is ná die onthulling van die muurskildery by die St Pauls Gemeenskapsaal aangebied.
Daar het mense aan Kaap-Maleise kos gesmul.
Ter afsluiting van Afrikaans Amptelik 100 is ’n feesdinee by een van die mooiste wynlandgoedere in die Paarl, Kronenburg, aangebied met Lizz Meiring en Christo Davids as seremoniemeesters.
Lizz het ’n gedig, Die sirkel, wat sy self geskryf het, aan gaste voorgelees:
Die sirkel
Deur Lizz Meiring
Maaifoedie, skobbejak, swerkater, polliefink
Woorde uit ou Afrikaans wat in vergetelheid sink
Awê, hoezit, laaik, chips, dos
Maak deesdae ons tonge los
So tussen diegene wat vir suiwer Afrikaans baklei
Sê die nuwerwetses: Kom by! Ons “slang” is hier om te bly
My taal, Afrikaans
Is ’n koppige oorlewer, volmondig “hans”
Dis allermins styf en pretensieus
Alhoewel dit in sekere sprekers nog so kan wees
“Ek wil my egter verstout om te sê …”
Asseblief, Omie, praat kortom
Wat wil jy sê?
Afrikaans is deesdae haastig, op ’n drafstap
Onnodig om woorde te “besig” wat niksseggend aanlap
Ons is wêreldburgers, modern, effektief, ingelig
Nie oudedose wesens wat almal aanspreek as “neef” en “nig”
Daar’s stof op ons tone, aardse vulgariteit
Maar ook die subtiele nuanse van gesofistikeerde edelheid
Daar’s streektaal en werkstaal en nuwe tegniese terminologie
Daar’s vloektaal en bidtaal, braaitaal en liefdestaal, Whatsapptaal – waarvan die oues niks weet nie
Nuwe afkortings en uitdrukkings en vele gesegdes blom
Net om vinniger en meer effektief tot die punt te kom.
Vir diegene wat alreeds met bybly sukkel
Waarskuwing: dit gaan nog verder ontwikkel
Oor ’n eeu van nou
Gaan hulle moeilik herkou
Aan wat nou eietyds is en trefkrag gee
Ek hoor hulle al: Eish! Aikôna. O, nee!
Wie het my oumagrootjie ’n bondelnaam soos Charmizé gegee?
Wat was kunsmatige intelligensie?
En hoekom het ons voorsate gepraat van: ’n Taalintervensie?
Teen die tyd wat ons net ’n grafskrif is
Is Afrikaans onherkenbaar verfris
Soos dit moet: nuutskeppings, vars bloed
Maar dalk gaan krap iemand in die anale van taalgeskiedenis
En word ’n toekomstige generasie
Weer vergewis
Van woorde soos “maaifoedie, skobbejak, swerkater en pollievink”
En voltooi die sirkel van hoe ons met ons taal, rinkink!