Vyf wenke vir mammas
Of jy nou ‘n voornemende, nuwe of gesoute mamma is, jy gaan soms swaar kry of dink jy is nie goed genoeg nie, en dis oukei.
Onthou gerus die volgende en koester jou tyd saam met jou kinders:
- Hou jou verwagtinge realisties. Kinders verskil van mekaar. Daarom moet jy nooit jou kind met ander kinders vergelyk nie. Geniet elke fase van jóú kind se ontwikkeling.
- Roetine is ‘n goeie idee, maar veral in die eerste maand na die geboorte van jou kind, is dit nie altyd prakties moontlik nie en het jou baba beslis nie die handleiding gelees nie! Wees aanpasbaar, moenie moed verloor nie en probeer rustig bly. Hanteer elke dag op sy eie.
- Behou die goeie en moenie jou aan die res steur nie. Wanneer dit by babas en kinders grootmaak kom, is elke persoon ‘n ekspert en gaan jy soms onder die bed wil gaan wegkruip om weg te kom van al die raad. Volg jou instink en kies jou eie ouerskapstyl. Jy sal wel weet wanneer die (dikwels goed bedoelde) raad nuttig is.
- Gesels met jou kinders. As ma wil jy dalk soms net stilte hê, maar jy doen jou kind die grootste guns as jy hom betrek by wat jy doen en sommer net lekker babbel. Dit is hoe jou baba en kleuter leer, die wêreld ontdek, sy verbeelding vlerke gee en sy woordeskat en taalvermoë
- Lees, lees, lees. Een van die lekkerste dinge om te doen, behalwe die leersaamheid daarvan, is om saam met jou kind boekies te lees. Met jou kind aanvanklik op jou skoot, word daardie ouer-kindverhouding versterk en dra dit by tot jou kind se kognitiewe en perseptuele vermoë Jou kind leer, maar op die heel prettigste manier.