Geskryf deur Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia
Dit is belangrikheid om nooit uit die oog te verloor dat die hardoplees van stories ʼn uiters positiewe ontwikkelingsimpak vir kinders inhou nie.
Maar hoe gemaak in ʼn snelveranderende wêreld waar tegnologie ʼn al groter rol speel in die leeservaring van kinders? Lesers, en selfs jongelinge, verkies korter stories met ʼn vinniger trant terwyl storieboeke van ouds plek maak vir rekenaarskerms en sosialemediaplasings. Die uiteinde is dat kinders al hoe meer motivering nodig het om ʼn fisiese boek nader te trek, vir ʼn langer tydsduur hulself met die leesproses te besig én boonop met groter konsentrasie te lees. Binne hierdie milieu kom onderwysers voor ʼn moeilike uitdaging te staan, naamlik om lees vir plesier aan te moedig en kinders van die waarde van lees te oortuig.
Om te lees breek die wêreld vir jong kinders oop, en moet gesien word as ʼn toegangskaartjie na letterlik enige bestemming wat die verbeelding kan optower – feitlik óf fiktief. Ongelukkig is daar egter slegs ʼn beperkte venstertydperk om kinders positief te motiveer en opgewonde te maak om te lees. Om dié rede is dit belangrik om vanaf ʼn jong ouderdom ʼn passie vir lees aan te kweek.
Die voordele verbonde aan lees is legio.
Lees is ʼn goeie bron van ontspanning, terwyl dit ook ʼn beduidende invloed op kognitiewe en sosiale ontwikkeling het. In terme van taalvaardigheid en kreatiwiteit speel lees ook ʼn sleutelrol. Interessant genoeg, help lees ook met die ontwikkeling van sagte vaardighede soos geduld, fokus, veerkragtigheid en meelewendheid. Vir die onderwyser verteenwoordig lees daarom ook ʼn belangrike hulpbron in ʼn leerder se skolastiese gereedskapskissie.
Hiermee ʼn paar praktiese wenke om ʼn kind se belangstelling in lees aan te wakker en só sy of haar leesvaardighede te verbeter.
- Teken geleenthede soos Wêreldhardopleesdag op in die klaskalender en doen moeite om dié dag met oorgawe te vier
- Skep ʼn kleurvolle leeshoekie in die klas en moedig leerders aan om so gereeld as moontlik deur die boeke te blaai en hulle gunstelingstories te lees
- Organiseer ʼn leeskompetisie of ʼn leesmarathon, sommer só in klasverband. Beloon deelname met ietsie klein, maar waardevol, soos ʼn sertifikaat
- Begin ʼn klasbiblioteek en moedig die leerders aan om boeke te skenk en sosiaal onder mekaar uit te ruil
- Integreer leesaktiwiteite in ander vakke deur leerders aan te moedig om byvoorbeeld die instruksies vir eksperimente of projekte na te lees
- Nooi skrywers, uitgewers en selfs verteenwoordigers van plaaslike biblioteke om boekbekendstellings by die skool te doen
Om ʼn blywende liefde vir lees reeds op skoolvlak te kweek is nie net ʼn prettige en ontspannende aktiwiteit nie, maar ook die wipmat vanwaar kreatiewe dromers en akademiese presteerders die toekoms tegemoet stap.
Lees is en bly ʼn waardevolle hulpmiddel vir intellektuele, emosionele en persoonlike groei.
Lianda Coetzer, bibliotekaris by Akademia, meen Wêreldhardopleesdag is ʼn gulde geleentheid om kinders aan die wonderwêreld van lees bekend te stel en só by te dra tot hul intellektuele, emosionele en persoonlike groei.

