Het jy ook al ’n LUGBRAAIER aangeskaf? Dis inderdaad ’n baie handige ‘nuwe’ toevoeging tot vele Suid-Afrikaanse kombuise. Nie net is lugbraaiers gerieflik en vinnig om te gebruik nie, maar as jy slim kies, kan jy aansienlik gesonder kosmaak daarmee.
Hier is @heleenmeyerfood se SEWE SLIM KOMBUISWENKE as dit kom by die gebruik en versorging van jou lugbraaier.
- HOU DIT SKOON: die lugbraaier se spesiale afwerking binne-in moet gereeld skoon gemaak word. Haal die mandjiegedeelte heeltemal uit en was dit met warm water en seep. Dit hou dit higiënies en jy verleng die lugbraaier se leeftyd.
- VOER dit UIT: deesdae is bakpapier in die vorm van die lugbraaiermandjie beskikbaar – ideaal om die mandjie mee uit te voer. Dit beskerm die afwerking van die mandjie sodat dit nie krap nie EN dis soveel makliker om die mandjie skoon te hou.
- NIE te VOL nie: ’n lugbraaier werk die effektiefste as die mandjie nie oorvol is nie. Rooster bestanddele liewer in kleiner sarsies vir die beste bros en goudbruin resultate. Dit mag dalk voel of dit langer neem, maar dis beslis die moeite werd.
- SKUD dit: met kleiner bestanddele soos groente of aartappelwiggies, kry jy die beste resultate as die mandjie so een of twee keer gedurende die gaarmaaktyd geskud word. So kry al die bestanddele kans om die naaste aan die element te kom.
- HOU dit DOP: onthou die lugbraaier-element word baie vinniger warm as die van ’n oond, so hou die gaarmaaktyd dop. Dis mos juis die sukses van die lugbraaier – dis vinnig! Net ’n paar minute te lank, kan katastrofies wees. Volg die resep se instruksies vir gaarmaaktye, anders verander dit van goudbruin na gebrand in ’n oogwink!
- Dis WARM: neem in ag dat wanneer jy kos in sarsies gaarmaak, die element reeds warm is, so die tweede en daaropvolgende sarsies sal vinniger gaar word as die eerste mandjie vol.
- WEG van die MUUR: trek die lugbraaier ’n entjie weg van die muur, wanneer jy dit gebruik. Dit help om die warm lug wat agter uitblaas goed te laat sirkuleer en dit moenie direk op die kragprop uitblaas nie.
Foto: @AdelFerreiraPhotography (FB)/ @adel_ferreira (IG)