Geskryf namens die AON deur
Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Goeie kommunikasievaardighede is absoluut onontbeerlik in ’n wêreld waar almal vinnig moet leer, plooibaar moet wees en in groepe moet werk om doelwitte te bereik en sukses te behaal.
Leeromgewings wat goeie kommunikasievaardighede bou het sekere eienskappe in gemeen:
- Baie tyd word ingeruim vir gesprekke met goeie kommunikasiemodelle (volwassenes).
- Kinders word aangemoedig om vrae te vra.
- Kinders oefen van jongs af hoe om idees, hul gevoelens en hul behoeftes te verwoord.
- Kinders se woordeskat en sinsbouvaardighede word in elke leerervaring en situasie uitgebou.
- Daar word baie gereeld stories vertel.
- Kinders leer hoe om met begrip te luister.
Hier is ’n paar wenke om jou te help:
Die lys wat volg kan help om ’n leeromgewing stapsgewys meer kommunikasiegerig te maak:
- Moedig nuuskierigheid en verkenning aan.
Gesels met kinders oor hul belangstellings, belewenisse en omgewing. Vra vrae wat op baie maniere beantwoord kan word om hulle te laat oefen om na te dink en hul gedagtes en idees te verwoord.
- Wees self ’n goeie kommunikasiemodel.
Kinders boots volwassenes se taal, mannerismes en houding na. Gebruik dus doelbewus suiwer Afrikaans en doen moeite om kleurryke woorde en goeie, saamgestelde sinne te gebruik. Maak oogkontak, luister aktief en kommunikeer op ’n besliste, aanvaardende en resprekvolle wyse.
- Doen daagliks boekvoorlesings.
Kinders se woordeskat en hul aanvoeling vir goeie sinstruktuur word so uitgebrei. Bespreek die storie, vra vrae wat gesprekvoering aanmoedig en verduidelik die betekenis van vreemde woorde.
- Speel speletjies wat gesprekke aanmoedig.
Speletjies wat kritiese denke ontwikkel, kinders laat oefen om beskrywings te gee, of hulle laat stories vertel bou kommunikasievaardighede.
- Betrek en motiveer die ouers.
Kinders leer kritiese kommunikasievaardighede terwyl hulle saam met ouers kosmaak, skoonmaak, inkopies doen en speletjies speel. Maak dus seker dat ouers verstaan dat te veel skermtyd hul kinders van kosbare geselstyd beroof.
- Moedig sosiale gespreksgeleenthede aan.
Skep gespreksgeleenthede in kleingroepe en ruim tyd in vir saamspeel en saamwerk. Paar gereeld kinders wat ’n goeie voorbeeld nodig het met ander wat reeds goed kan kommunikeer.
- Gebruik visuele hulpmiddels.
Gebruik prente, illustrasies, media en ’n tema-tafel om gespreksgeleenthede te skep. Visuele hulpmiddels maak dit vir kinders baie makliker om nuwe woorde en begrippe te verstaan en onthou.
- Skep ’n woordryke omgewing.
Omring kinders met boeke, plakkate en flardkaarte waarop woorde gedruk is wat items
benoem en taalontwikkeling ondersteun.
- Luister aktief, en leer kinders om só te luister.
Wys vir kinders dat jy dit waardeer as hulle oefen om te kommunikeer deur aandagtig te luister en op ’n deurdagte manier te reageer. Dit bou hulle selfvertroue en motiveer hulle om meer te gesels.
- Laat kinders oefen om stories te vertel.
Kinders wat stories vertel oor wat in hul dag gebeur het en oefen om fiktiewe stories uit te dink ontwikkel beter werksgeheue en die vermoë om inligting logies te organiseer en kreatief aan te bied.
- Leer vir kinders goeie maniere.
Plak plakkate op wat goeie maniere in verskeie situasies opsom en bespreek dit gereeld met praktiese voorbeelde. (Deel dit ook met ouers.)
Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Klik hier om hul webtuiste te besoek en meer te leer.